Gauteng-ouers ‘moet spring met skole-aansoeke’

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Onderwysorganisasies het Afrikaanse ouers in Gauteng aangemoedig om hul kinders by die skool van hul keuse in te skryf sodra die aanlyn registrasieproses vir die 2020-skooljaar op 13 Mei open.

Dit volg ná Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, vroeër vandeesweek gesê het hy sal op 25 April die amptelike datum aankondig wanneer die aanlyn aansoeke vir gr. 1- en 8-leerders in dié provinsie open.

Lesufi beplan om dan ook meer inligting oor die toelatingsvereistes by skole bekend te maak, asook die verbetering wat aan die aanlyn aansoekstelsel gemaak is. Hy het ouers en voogde aangemoedig om so gou moontlik aansoek om toelating vir hul kinders te doen om teleurstelling te voorkom.

Volgens Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het die Gautengse onderwysdepartement reeds ʼn bestuursplan vir die toelatingsproses vir die 2020-skooljaar aan skole gestuur.

Hiervolgens sal ouers van Maandag 13 Mei tot 15 Julie tyd hê om gr. 1- en 8-leerders op die aanlyn platform by die skool van hul keuse te registreer. Alle leerders moet teen 30 Oktober in ʼn skool geplaas wees.

“Afrikaanse ouers moet leerders by die skool van hul keuse inskryf sodra die registrasies op 13 Mei open om te verseker dat Afrikaanse skole se taal van onderrig behoue bly.

“Weens Afrikaanse skole se kultuur van uitnemendheid is hierdie skole uiters gewild onder Afrikaanse én Engelse leerders. Ouers wat te laat slaap, kan hul kind se plek in die skole van hul keuse verbeur,” het Buys gesê.

Sy meen die nuwe toelatingsregulasies wat in Maart gepubliseer is, beklemtoon dat leerders wat eerste by ʼn bepaalde skool inskryf die beste kans het om tot die betrokke skool toegelaat te word, ongeag die leerder se taal van onderrig.

“Dit is daarom van sleutelbelang dat ouers wat hul kinders in Afrikaans wil laat onderrig eerste by Afrikaanse skole inskryf.”

Buys het verwys na die onderwysdepartement se poging verlede jaar om Engelse leerders in die Hoërskool Overvaal in Vereeniging te plaas. “Dit is gedoen onder die voorwendsel dat hierdie leerders eerste by dié skool ingeskryf het. Flink optrede van Afrikaanse ouers kan die nodigheid vir latere regstappe voorkom as daar politieke druk op Afrikaanse skole geplaas word om te verengels.”

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê dié burgerregte-organisasie beplan ʼn omvattende veldtog om Gautengse ouers by te staan met die aanlyn registrasieproses.

“Lesufi hou vol met sy transformasie- en integrasieplan by skole. Die probleem is dat die gehalte van onderrig in dié provinsie nie gaan verbeter met meerrassige, geïntegreerde skole nie. ʼn Groter fokus op moedertaalonderrig en die bou van meer skole sou veel meer gedoen het om ʼn gunstiger leeromgewing vir leerders in Gauteng te skep,” het Bloem gesê.

Sy het ouers aangeraai om op die hoogte te bly van alle inligting oor die registrasieproses om sodoende te voorkom dat hul kind ʼn slagoffer van dié stelsel word.

Aansoeke vir voornemende gr.1-  en 8-leerders kan vanjaar slegs aanlyn gedoen word. Ouers kon verlede jaar reeds vanaf 08:00 die oggend aanlyn by Gdeadmissions.gov.za geregistreer het.

Buys het ouers herinner dat leerders se aanlyn registrasieproses eers voltooi is wanneer ouers harde kopieë van die nodige dokumentasie by die betrokke skool ingehandig het.

Die volgende dokumentasie moet binne sewe dae ná die aanlyn aansoeke by die skool ingehandig word:

  • ’n Bewys van die kind of ouer se woon- of werkadres, soos ’n munisipale rekening.
  • ’n Bewys dat die kind geïmmuniseer is.
  • Die leerder se vorige rapport, indien beskikbaar.
  • ’n Bewys van ouerskap of voogskap.

Buys maan ouers ook om hul waglysnommer, wat deur die stelsel geskep en per SMS aan ouers gestuur word, veilig te bewaar. “Dit is die enigste bewys dat die leerder wel by ’n bepaalde skool ingeskryf is.”

Die SOS beplan om voor 13 Mei ’n blitsberaad in Gauteng aan te bied om die implikasies van nuwe toelatingsregulasies op skole en skole se regte tydens die toelatingsproses met skoolhoofde te bespreek.

Ouers kan intussen meer inligting oor die aanlyn registrasieproses en regulasies verkry deur AfriForum se webwerf onder die afdeling “vir skole” te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

Die enigste wat moet spring is die lur …. in die diepsee in .

B ·

Volg bietjie vir Lesufi op Twitter as jy wil sien hoe vel die aanslag teen Afrikaans (en sy mense is)
Die volgende saak wat hy gaan aanvat (aldus sy Twitter) is Afriforum se bord by HS Swartkop in Centurion
Hy het beslis ‘n strategie en ek glo nie dis te vergesog om hom te sien as ‘n NUK (NEC) voorsitter in die toekoms. (En daarna?)

GM ·

Ou Lesufi is nie die skerpste potlood in die pakkie nie. Een van die dae is al die skole op dieselfde standaard – maar dis mos hoe hulle dit verkies. Solank die stemmers onopgevoed bly, sal hul aanhou glo dat die ANC, EFF en BLF hul lewens gaan verbeter met gratis huise vir almal, gratis dienslewering en volop kos – vir niks doen in ruil nie.

GM ·

Kolle, dit was my presiese gedagte gewees.
Plaas hulle hul werk doen en nog skole laat bou en onderwysers ordentlik oplei, maar dis mos makliker om apartheid vir hul onbevoegheid te blameer en als net oor te vat – en ‘n gemors daarvan te maak. En die magsvertoon is ten koste van onskuldige kinders, hul ‘our people’ ingesluit. Patetiese mense wat so ‘n mentaliteit het.

Alida ·

Kom mense maak ons skole vol en registreer en wys lesufi n pit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.