Gauteng-polisie trek meer as 940 vas  

Foto: SAPD

Meer as 940 verdagtes is tydens die eerste naweek van die nuwe jaar in Gauteng in hegtenis geneem.

Daar is tydens die multidissiplinêre operasies wat op 1 Januarie begin het op vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Polisiebeamptes het op ʼn kleinhoewe naby Fochville toegeslaan waar lede van die Wes-Randse trio-taakspan op sewe vuurwapens en ammunisie beslag gelê het. Volgens kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sal die vuurwapens vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in die uitvoering van enige misdade gebruik is. “Die publiek word daaraan herinner om ongewenste en onwettige vuurwapens tydens die vuurwapenamnestie, wat op 31 Januarie eindig, in te handig.”

Foto: SAPD

ʼn Totaal van 145 verdagtes is aan die Wes-Rand in hegtenis geneem. Die verdagtes is in hegtenis geneem vir verskeie misdade, insluitend seksuele aanranding, roof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die besit van dwelms, kwaadwillige saakbeskadiging en die oortreding van regulasies ingevolge die Rampbestuurwet.

Die polisie in die Sedibeng-distrik het 127 verdagtes in hegtenis geneem. Die verdagtes is in hegtenis geneem vir misdade soos moord, huisroof, dronkbestuur en die besit van gesteelde goedere.

ʼn Totaal van 347 verdagtes is in die Ekurhuleni-distrik in hegtenis geneem op aanklag van onder meer ontvoering, verkragting, roekelose en nalatige bestuur en openbare onsedelikheid.

Sowat 210 verdagtes is deur die polisie in Johannesburg in hegtenis geneem terwyl 108 verdagtes in Pretoria in hegtenis geneem is.

Die verdagtes sal binnekort in die onderskeie gebiede se landdroshowe verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.