ʼn Polisiebeampte is Dinsdagaand in Diepsloot, noord van Johannesburg, aangeval en verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek.
Lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het gesê die beampte is in ʼn plas bloed voor sy kamer aangetref.
“Die beampte het verskeie steekwonde aan sy lyf, bors, nek en rug opgedoen. Hy word in die intensiewesorg-eenheid van ʼn plaaslike hospitaal behandel,” het Mogale gesê.
Die rede vir die aanval is nog nie bekend nie.
ʼn Verdagte is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hy word aangekla van poging tot moord.
Die beampte is aan die Diepsloot-polisiekantoor verbonde.