Gauteng-reeksverkragter sit lank

Argieffoto

ʼn Reeksverkragter wat tereggestaan het op onder meer 23 aanklagte van verkragting, is dié week in die Suid-Gautengse hooggeregshof 25 lewenslange tronkstrafvonnisse met ʼn bykomende 254 jaar opgelê.

Die hof het dié maand gehoor Shadrack Xidada Chauke het tussen 2012 en 2015 op ʼn gereelde basis dieselfde werkswyse gevolg om vroue in Kempton Park, Thembisa en Ivory Park in Gauteng te verkrag.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê Chauke sou in sy slagoffers se huise inbreek, die vroue en hul mans aanval en aanhou en dan die man beveel om toe te kyk terwyl hy die vroue verkrag.

Masondo sê hy is in 2015 vasgetrek toe ʼn slagoffer hom in die omgewing opgemerk en die polisie ontbied het. Die polisie het gereageer waarna die man in hegtenis geneem is. Destydse toetse het die man met meer as 17 ander aanklagte van verkragting verbind. In afsonderlike gevalle sou hy vroue langs die pad aanval, met ʼn wapen aanhou, hulle ontvoer en dan verkrag.

Die hof het Chauke ook skuldig bevind op verskeie aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof en ontvoering.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, het dié vonnis verwelkom. De Lange sê die vonnis sal owerhede aanmoedig om selfs nóg meer aandag te skenk aan misdade teen vroue en kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

leser ·

lof vir ondersoekers, ek wens die ander verkragters, maak nie saak van watter kleur, sien dit raak, hoop net hy kry nooit borgtog of ontsnap nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.