Gauteng-rooftogte: Diewe op soek na selfone

Argieffoto

Argieffoto

Elf winkelsentrums is sedert 13 Augustus in Gauteng beroof en tegniese toestelle was hoofsaaklik die teiken, het die Gautengse polisiekommissaris Dinsdag gesê.

“Selfone was tot dusver in 95% van die rooftogte die teiken,” het lt.genl. Lesetja Mothiba gesê. “Die kontant wat gesteel word is minimaal. Slegs in twee voorvalle, albei in Soweto, is kontant gesteel.” Dié rooftogte het by Maponya-winkelsentrum in Soweto en by die Black Chain-winkelsentrum in Diepkloof plaasgevind.

Mothiba het gesê ondersoek moet ingestel word hoe om selfone nutteloos te maak sodra dit gesteel word.

Hy het ook gesê veiligheidsmaatreëls by winkelsentrums in Gauteng moet opgeskerp word. “Hierdie oortreders kon baie maklik misdaad pleeg,” het hy gesê. Hy het gesê veiligheid by winkelsentrums is ʼn gesamentlike poging tussen die polisie en winkelsentrumbestuur. “Ons het vergaderings belê met die bestuur van winkelsentrums sodat ons die veiligheidsmaatreëls kan opknap.”

Hy het bygevoeg kringtelevisiemateriaal in van die winkelsentrums is van ʼn baie lae gehalte en in sommige gevalle was die kameras nie eers aangeskakel nie.

ʼn Beloning van R200 000 is uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die misdadigers.

Intussen is vyf mense Dinsdagoggend in Brixton en Doornfontein in hegtenis geneem in verband met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die polisie sal ondersoek of die verdagtes betrokke was by winkelsentrum-rooftogte. Klik hier om meer te lees.

Altesaam elf rooftogte het sedert 13 Augustus in Gauteng by verskillende winkelsentrums plaasgevind.

ʼn Altech Autopage-selfoonwinkel is Maandagaand by die Glen-winkelsentrum in Johannesburg beroof. Drie gewapende rowers het 15 selfone ter waarde van R34 000 gebuit. Die Samsung-, iStore en Vodacom-winkels by dieselfde sentrum het sedert November deurgeloop.

ʼn Veiligheidswag is Saterdag doodgeskiet toe vier mans hom en sy kollegas by die Diepkloof Black Chain-winkelsentrum in Soweto oorval het. Hulle het kontant afgehaal by die sentrum.

ʼn Samsung-winkel is Vrydag by die Cradlestone-winkelsentrum in Krugersdorp beroof.

ʼn Timberland-klerewinkel is Donderdag by die World Wear-winkelsentrum in Fairlands, Johannesburg, beroof. Agt mans het al die klere in die winkel gesteel.

Die Telkom Connect-winkel by Eastgate in Johannesburg is Woensdag beroof.

ʼn Selfoonwinkel by Northgate het verlede Dinsdag deurgeloop.

Die Telkom Direct-winkel by die Kolonnade-winkelsentrum in Pretoria is ook verlede Dinsdag beroof. Dit was die tweede rooftog by die Kolonnade in twee weke.

Twee veiligheidswagte is verlede Maandag by ʼn Pick n Pay-betaalpunt by Maponya Mall in Soweto van ʼn kontantboks beroof.

Die Apple iStores by die Cresta-winkelsentrum, The Glen en Centurion is onderskeidelik op 13 Augustus, 14 Augustus en 15 Augustus beroof.

Mothiba het gesê 12 winkelsentrums is as hoë risiko uitgeken. Polisiesigbaarheid sal verhoog en Njala-pantservoertuie is ontplooi. Menlyn-winkelsentrum in Pretoria het Dinsdagoggend om 09:00 ʼn ontruimingsoefening gehou.

Die diewe doen hulself glo as klante voor voordat hulle toeslaan.

Mothiba het gesê die polisie vermoed die misdadigers het inligting van werknemers of veiligheidswagte ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Julle wil nie vir blankes die werk gee die ander is wolwe in skaapklere alles is inside stories lankal tot die moorde op plase huiswerkers gee inligting se wat julle wil dis die waarheid

Theresa ·

Inligting van werknemers en veiligheidswagte ontvang. Dit wys jou maar net weer. Jy kan hulle nie vertrou nie. Geen eerlike haar op daardie lywe nie. Pateties !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.