Gauteng se aanlyn registrasieproses nou aangepas

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Gautengse onderwysdepartement het in ’n brief aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) bevestig dat hulle die aanlyn registrasiestelsel aangepas het om voorsiening te maak vir leerders se voorkeur taal van onderrig.

Die departement het ook die stelsel aangepas om ouers ’n opsie van verskeie skole binne hul voedingsgebied te bied.

Die SOS, in samewerking met AfriForum, het verlede week ’n brief aan die provinsie se onderwysdepartement gestuur, waarin hulle eis dat leerders se taal van onderrig in aanmerking geneem word tydens die aansoekproses.

Hulle het ook beswaar gemaak daarteen dat ouers slegs die skool naaste aan applikante se woonadres as eerste keuse kan aandui, maak nie saak wat die skool se taal van onderrig en leer is nie.

Die onderwysdepartement het ook vroeër die maand met verteenwoordigers van die Federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) oor soortgelyke klagtes oor dié stelsel vergader.

Die aanlyn aansoekproses is gevolglik met ’n week uitgestel na 20 Mei, om die departement kans te gee om op die versoeke van die organisasies te reageer.

Luidens die brief wat Dinsdag van die departement ontvang is, het die departement reeds veranderinge aan die stelsel gebring, sodat ouers ’n keuse het van al die skole binne die voedersone waarin die applikant se woonadres geleë is. Die departement beloof ook om die leerder se taal van onderrig en leer in ag te neem wanneer leerders aan ’n bepaalde skool geplaas word.

“Die departement het die kennisgewing op die platform verwyder wat aandui dat taal van onderrig slegs vir statistiese doeleindes aangedui word. Ons gee die versekering dat taal van onderrig oorweeg sal word wanneer leerders by ’n skool geplaas word,” lui die brief vanaf die departement.

“Ons waardeer die departement se regstellings aan die stelsel en voel gemaklik dat die onmiddellike bedreiging nou uit die weg geruim is, deurdat ouers nie meer beperk word tot ’n enkele skool die naaste aan hul woonadres nie,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS.

“Ouers kan nou kies uit verskeie skole binne hul voedersone en dit is beslis ’n stap in die regte rigting.”

Met betrekking tot die departement se belofte om leerders se taal van onderrig in ag te neem sê Buys: “Ons sal fyn dophou hoe hierdie onderneming toegepas word. Intussen moedig ons skole aan om hul taalbeleid toe te pas wanneer hulle leerders se aansoeke aanvaar, aangesien taalbeleid ’n gevestigde reg is en deur die nasionale norme en standaarde vir taalbeleid onderskryf word.”

Die SOS en AfriForum aanvaar ook die departement se uitnodiging om die stelsel te toets voor die aansoekproses Maandag afskop.

“Dit is egter steeds van uiterste belang dat ouers hul kinders Maandag inskryf sodra die platform om 08:00 aktief word,” benadruk Buys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter du plessis ·

Wat sou ons sonder solidariteit en VF+ gedoen het,baie baie dankie.

Barry H ·

Met respek, maar wat het die VF+ hiermee uit te waai? Geluk Kallie Kriel en span, geluk Melanie Buys, ‘n vrou van wie vorige generasies al ‘n standbeeld sou laat oprig. Die VF+ was te besig om hul oorwinning te vier wat, met respek, weereens, meer met ‘n tekort aan alternatiewe te make het.

Judge Dredd ·

Ai tog – so die departement gee hul versekering dat taal van onderrig in ag geneem word?
Laas jaar en hierdie jaar het dit nie Lesufi gestop nie – wat laat mense nou dink dat dit anders sal wees vir 2020?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.