Gauteng se skuilingstelsel ‘‘ontwrig’ weens staat se onbevoegdheid

Besnoeiings ontwrig veral mishandelde vroue se pogings om toegang tot dienste te kry. (Argieffoto: GroundUp)

Deur Masego Mafata, Groundup

Verskeie skuilings vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in die provinsie moes noodgedwonge hul deure sluit weens onsekerheid oor hul befondsing deur die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD).

Of die skuilings in dié boekjaar enige befondsing gaan ontvang, is onduidelik.

People Opposing Women Abuse (Powa) is een van verskeie organisasies wat hulle skuilings in Gauteng moes sluit.

Volgens gerugte in die sektor het die departement planne om die skuilingsdienste oor te neem, maar geen bewyse is nog gesien oor hóé hulle hierdie kritieke werk sal uitvoer nie. Befondsingsbesnoeiings deur die DSD ten opsigte van organisasies sonder winsbejag ontwrig die toegang tot broodnodige dienste en skuiling vir baie kwesbare mense, veral mishandelde vroue.

Thoko Budaza, uitvoerende direkteur van Powa, sê die befondsingskrisis het die Gautengse verwysingstelsel ontwrig. “As skuilings werk ons ​​saam. Wanneer ek nie plek het nie, verwys ek ʼn vrou na ʼn ander skuiling wat plek het. Nou, met soveel skuilings wat toemaak, raak die plekke om vroue heen te stuur al minder,” sê sy.

Powa moes hul Gauteng-skuilings, wat meer as 150 vroue en hul kinders kon huisves, verlede maand sluit. Ander skuilings moes ook noodgedwonge hulle deure die afgelope maande sluit omdat departementele staatsubsidies nie betaal is nie.

Luidens ʼn verslag deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid was daar in die 2022/’23-boekjaar 21 skuilings in Gauteng waarvan slegs twee gesinseenhede gehad het om vroue en hul kinders te huisves. Powa se skuilings was van die min skuilings in die provinsie wat vroue toegelaat het om hul kinders saam te bring.

In ʼn dokument getiteld Gauteng-skuilings vir geslagsgebaseerde geweld en misdaad wat die departement vroeër vanjaar gedeel het, word 17 skuilings gelys, waarvan slegs een in Johannesburg is. Ten minste twee het gesluit weens die onsekerheid oor befondsingtoewysings.

“Ons hoor DSD wil ons skuilingsdienste oorneem,” maar ons weet nie wat hulle beplan of hoe hulle te werk gaan om vroue in ʼn krisis gaan ondersteun nie,” sê Budaza . “Terwyl ons op DSD se planne wag, word vroue mishandel en sterf hulle, en ons sukkel om hulle te help.”

(Argieffoto ter illustrasie: Diego San/Unsplash)

Powa se ander dienste word ook beïnvloed deur die begrotings, terwyl ander geraak word nadat hulle 74 personeellede moes aflê. ʼn Voormalige werknemer by ʼn ander skuiling in die middestad sê sy ontvang daagliks oproepe van vroue wat mishandel word en wat ʼn plek by die skuiling benodig. “Ek moes al van hierdie vroue in hierdie tyd na my huis neem omdat daar vir hulle geen ander opsie was nie.”

Cheryl Hlabane, bedryfsbestuurder by die Frida Hartley-skuiling, sê: “As skuilings het ons dalk soortgelyke doelwitte, maar nie almal het dieselfde kriteria oor wie ons kan akkommodeer nie. Jy het skuilings wat nie plek vir kinders het nie, so hulle aanvaar net vroue; skuilings wat nie mense met gestremdhede kan akkommodeer nie; en skuilings soos ons s’n waar ons nie ʼn vroedvrou het nie en ons nie swanger vroue kan akkommodeer nie.”

Hlabane sê die verwysingstelsel is nuttig in sulke gevalle, maar sy sukkel die afgelope tyd om plek te kry vir vroue wat nie by Frida Hartley geholpe raak nie.

“Ons kry daagliks amper 50 oproepe,” sê Hlabane. Sy sê net meer as die helfte van die mense voldoen aan hul kriteria. “Die res is mense wat ons nie kan help nie.

Vroue wat ons na skuilings verwys het, het ons onlangs teruggebel om te sê toe hulle daar kom was die plekke leeg, sê Hlabane.

Vrae wat op 23 April gestel is aan Pearl Moabelo, die departement se direkteur vir maatskaplike misdaad en slagofferbemagtiging, is ondanks e-posse en opvolgoproepe steeds onbeantwoord. Moabelo het aangedui sy stuur die vrae aan Motsamai Motlhaolwa, kommunikasiedirekteur van die departement. Ontvangs is op 29 April erken, maar geen aanduiding is gegee wanneer ʼn reaksie verwag kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.