Gauteng-skole ‘ʼn jagveld vir misdadigers’

skool-21.jpeg

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys het gesê ʼn voorval Dinsdag waartydens ʼn adjunkhoof van ʼn laerskool in die provinsie in sy kantoor koelbloedig doodgeskiet is, is skokkend en traumaties vir almal by die skool.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het vroeër gesê die adjunkhoof van die Edalinceba Primary School in Duduza, wes van Nigel, is omstreeks 11:00 Dinsdag in sy kantoor doodgeskiet. Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, het Dinsdagmiddag die skool besoek.

“Daar word beweer dat drie gewapende mans toegang tot die skool verkry het deur aan te voer hulle is daar om ʼn elektriese probleem reg te maak. Die mans is by die skool ingelaat en hulle het die adjunkhoof in sy kantoor doodgeskiet,” het Mabona gesê.

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

Die LUR het ook Dinsdag die adjunkhoof se familie besoek en berading is beskikbaar gestel aan almal wat deur die voorval geraak is.

“Ons skole word nou ʼn jagveld vir misdadigers. Dit is onhoudbaar, maar ons vra vir kalmte,” het Lesufi gesê. “Die polisie moet hierdie saak prioritiseer sodat ons afsluiting kan kry. Dit is belangrik vir die polisie om ʼn hoë sigbaarheid te handhaaf en ons versoek enigiemand met meer inligting om na vore te kom.”

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leahim ·

Die produk van jare se aftakeling van alle vorms van dissipline en gesags strukture eis nou sy tol.

Nico ·

Dit kom daarvan as die regering onbekwame mense wat niks van die werk ken nie in posisies sit om net hulle self beskerm en nie die publiek nie

SjN ·

Lesufi, besef tog dat jul nie opgewasse is vir die taak nie asb.

Veritas ·

Skole het jagvelde geword, ja. Die rede daarvoor is die strafregstelsel wat misdadigervriendelik gemaak is. Dit is ook nie beperk tot skole nie. Met die lamsakkige houding van lede van die polisiemag ten opsigte van die toepassing van ewe lamsakkige wetgewing en die sogenaamde ‘menseregte’ waarop veroordeelde misdadigers kan staatmaak, sal misdaad in Suid-Afrika nooit hokgeslaan kan word nie. Dié toedrag van sake maak dat wetsgehoorsame burgers die reg in eie hande neem met die gevolg dat anargie nie vêr weg is nie. Sover dit ouers van klein kinders betref, is dit van kardinale belang om die kleintjies self by die skool af te laai en weer kom haal. Wanneer dit onmoontlik is, moet reëlings met ‘n verantwoordelike persoon gemaak word om dié take te verrrig. Ek merk elke dag klein kinders wat alleeen huistoe stap. Daardie dae is verby en hoe gouer ouers dit besef, hoe minder trane gaan daar gestort word.

Elize ·

En niemand het daaraan gedink om uit te vind of daar regtig iewers n elektriese probleem is waarvoor mense moet uitkom nie, ook nie gevra vir bewyse dat die drie mans wel vir ‘n elektriese maatskappy werk nie?

Lodewyk ·

Ons polisie is baie sigbaar in eetplekke en onder koeltebome.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.