Gauteng-skoolaansoeke bereik mylpaal

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Meer as 150 000 aansoeke is teen Woensdagmiddag op die Gautengse departement van onderwys se aanlyn stelsel vir skoolaansoeke ingedien.

Oupa Bodibe, woordvoerder van die departement, het gesê teen 12:00 is 154 916 aansoeke ontvang. “Dit is amper die helfte van die 350 000 aansoeke wat vir die 2018-skooljaar verwag word,” het Bodibe gesê.

“Om hierdie mylpaal in ʼn dag en ʼn half te bereik is betekenisvol en regverdig die skuif na aanlyn aansoeke. Met normale aansoeke sou dié hoeveelheid eers in sowat drie maande bereik kon gewees het.”

Die departement van onderwys het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy is baie tevrede met die aanlyn stelsel en die oorweldigende reaksie van Gauteng-ouers. “Die terugvoer van die ouers wat die aanlyn stelsel gebruik of ʼn toelatingsentrum besoek het om daar aanlyn aansoek te doen, was tot dusver oorwegend positief,” lui die verklaring.

“Binne die eerste 20 minute wat die stelsel beskikbaar gemaak is, het meer as 16 000 ouers reeds suksesvol aansoek gedoen. Teen middagete is 90 984 aansoeke deur die stelsel verwerk.”

Dié suksesvolle registrasies volg ná 2016 se ineenstorting van die webwerf waarop ouers hul kinders kon registreer.

Ouers van graad 1- en graad 8-leerders kan van Dinsdag aanlyn aansoek doen vir toelating tot Gauteng-skole volgende jaar. Ouers wat nie toegang tot die internet het nie, kan een van die 65 toelatingsentrums in die provinsie besoek en van daar af aanlyn aansoek doen.

Ouers wat nog nie aansoek vir hul kinders gedoen het nie, word versoek om dit so gou moontlik te doen. Aansoeke sal op 12 Junie om middernag sluit. Die plasing van leerders sal van 24 Julie gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Melanie Buys ·

Skole het geen insae in die aanlyn stelsel om hul aansoeke te kontrolleer nie. Ouers moet egter binne 7 dae van hul aanlyn aansoek, papierwerk by die skool van keuse indien om hul aansoek te bekragtig. Volgens die GDO maak die stelsel eers op 10 Junie oop vir skole om hul aansoeke te sien. Skole eis dat hulle, ter wille van deursigtigheid en tydige opsporing en regstelling van foute, onmiddelik toegang tot data van die aanlyn aansoeke kry.

John ·

ANC-reklame. As iets te goed is om waar te wees… hmmm? Wat is die eintlike plan? Kom ons raai…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.