Gauteng-skoolaansoeke stroom in

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Meer as 108 000 aansoeke is teen laat Dinsdagmiddag op die Gautengse departement van onderwys se aanlynstelsel vir skoolaansoeke ingedien.

Steve Mabona, woordvoerder van die LUR van onderwys in Gauteng, het gesê teen 16:30 is 108 040 aansoeke ontvang. “Ons het ons teiken bereik,” het Mabona gesê.

Die Gautengse departement van onderwys het in ʼn verklaring gesê hy is baie tevrede met die aanlynstelsel en die oorweldigende reaksie wat hy van Gauteng-ouers gekry het. “Die terugvoer van die ouers wat die aanlynstelsel gebruik het of ʼn toelatingsentrum besoek het om daar aanlyn aansoek te doen, was tot dusver oorwegend positief,” lui die verklaring.

“Binne die eerste 20 minute wat die stelsel beskikbaar gemaak is, het meer as 16 000 ouers reeds suksesvol aansoek gedoen. Teen middagete is 90 984 aansoeke deur die stelsel geprosesseer.”

Maroela Media het vroeër berig David Makhura, premier van Gauteng, en Panyaza Lesudi, die LUR vir onderwys, het vanoggend by die Orange Farm-taxistaanplek pamflette uitgedeel waarin ouers aangemoedig word om hul kinders vroegtydig te registreer en dit nie tot op die laaste nippertjie te laat nie.

Ouers van graad 1- en graad 8-leerders kan van vandag aanlyn aansoek doen vir toelating tot Gauteng-skole volgende jaar. Ouers wat nie toegang tot internet het nie, kan een van die 65 toelatingsentrums in die provinsie besoek en van daar af aanlyn aansoek doen.

Dié suksesvolle registrasies kom ná 2016 se ineenstorting van die webwerf waarop ouers hul kinders kon registreer.

Die departement het vroeër gesê talle verbeteringe is op die stelsel aangebring om ʼn soortgelyke voorval te voorkom, maar daar is wel vandag ʼn paar kleiner probleme in die aanlynstelsel geïdentifiseer. Hierdie probleme sluit in ouers wat ʼn foutboodskap ontvang terwyl hulle steeds met hul aansoek besig is. Ouers wat hierdie boodskap ontvang word deur die departement versoek om die stelsel te herlaai en weer hul aansoek in te vul.

Sommige ouers ontvang ʼn boodskap wat aandui dat hul besonderhede reeds op die stelsel geregistreer is. In so ʼn geval het die departement ouers aangeraai om hul wagwoorde te verander en weer te probeer om hul aansoek in te dien.

ʼn Derde probleem is ouers wat ʼn SMS ter bevestiging van hul aansoek ontvang sonder ʼn verwysingsnommer. Volgens die departement sal nuwe SMS’e met verwysingsnommers aan hierdie ouers gestuur word.

Ouers wat nog nie aansoek vir hul kinders gedoen het nie, word versoek om dit so gou as moontlik te doen. Aansoeke sal op 12 Junie om middernag sluit. Die plasing van leerders sal van 24 Julie gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Dit help veel die aansoeke stroom in maar het hulle voorsiening gemaak vir genoeg skole. Die skoolverlaters is duisende minder as die wat begin. Weereens chaos in 2018.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.