Gauteng-vrou verloor álles ná gru-botsing

Marlene in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Nadat ʼn Gautengse vrou vroeër vanjaar die dood vrygespring het in ʼn grusame botsing net buite Brits in Noordwes en vir ʼn tweede keer om haar lewe in die hospitaal moes baklei het, het dié botsing nou daartoe gelei dat sy haar huis, haar motor én haar werk verloor het.

Die 29-jarige Marlene Appel vertel Donderdag aan Maroela Media sy kan nie “veel onthou” van dié botsing wat in April vanjaar so byna haar lewe geëis het én nou boonop haar hele lewe ineen laat stort nie.

Appel was op pad om ʼn vriendin by haar huis net buite Brits af te laai toe sy in ʼn botsing betrokke was. Haar motor en die ander bestuurder se motor het reg van voor gebots.

“Ons het die een oomblik nog rustig gesels en die volgende oomblik het ek net ligte voor my gesien. Ek het onmiddellik geweet dit is reeds te laat; daar was nie geleentheid vir my om uit te swenk nie. Ek het die ligte gesien en die slag gehoor. Ek dink enige mens is maar geweldig bang vir die dood in so ʼn oomblik, maar die adrenalien skop onmiddellik in.”

Appel was ná die botsing by haar volle bewussyn en het self vriende gebel om die ambulans na die toneel te ontbied. Haar vriendin het haar bewussyn in die slag verloor.

“Ek weet nie waar ek my selfoon in die hande gekry het nie,” vertel sy. “My liggaam was halfpad uit die motor; my bolyf was vasgekeer. Die bestuurder van die ander motor het op die toneel gestaan en ek het vir hom gesê: ‘Help my!’ Hy het benoud net gesê: ‘Bel die polisie.’ Ek het kort daarna seker my bewussyn verloor; ek kan niks verder onthou nie.”

Appel, wat onder meer gebreekte ribbes, ʼn gebreekte been en pelvis en ʼn gebreekte heup opgedoen het, en haar vriendin is albei gehospitaliseer. Haar vriendin is sowat twee weke later ontslaan, maar ʼn maande lange herstelpad het Appel in die gesig gestaar omdat sy nié ʼn mediese fonds het nie.

Die motorwrak (Foto: Verskaf)

Haar ondervinding by dié staatshospitaal beskryf sy as ʼn totale nagmerrie. “Die dokters het aanvanklik oorweeg om eers my been te amputeer omdat hy byna heeltemal vergruis het in die ongeluk. Hulle kon genadiglik daarin slaag om die been te red.

“Dit het eers later weer baie slegter met my begin gaan: die wond het septies geraak en ek het sepsis opgedoen. Dit was in só ʼn gevorderde stadium dat die sepsis amper na die res van my liggaam versprei het. Ek het later nog twee operasies ondergaan waarna die sepsis elke keer teruggekeer het.”

Appel sê in haar tyd by dié hospitaal het sy te doen gekry met ongelooflike swak higiëniese toestande en verpleërs wat glo glad nie in staat is om hul werk uit te voer nie. “Daar was kokkerotte in die hospitaal. Ek moes ʼn kateter gebruik, maar een van die verpleërs het vir my gesê by dié hospitaal gebruik hulle net bedpanne, en ek moet sommer myself help.

Marlene in die hospitaal (Foto: Verskaf)

“Dit was ongelooflik pynlik om myself elke keer van die bed te probeer afskuif as ek badkamer toe moet gaan. Hulle sou vir my sê: ‘Jou hande staan vir niks verkeerd nie,’ wanneer ek om hulp vra.”

Sy sê sy het geweet sy sou waarskynlik haar been verloor indien sy nié na ʼn private hospitaal oorgeplaas word nie. Appel se oupa het daarom kort hierna minstens R120 000 van sy pensioengeld losgemaak en aan ʼn private hospitaal oorbetaal sodat sy opgeneem kon word.

Hier het Appel sowat twee maande deurgebring waartydens sy verskeie operasies moes ondergaan om die sepsis uit die wond te sny en in ʼn poging om haar been te red. Sy was vir ʼn tyd lank in isolasie weens haar hoë vatbaarheid vir kieme en het ook ʼn veloorplanting ondergaan.

ʼn Lang herstelpad, waartydens sy baie fisioterapie sal moet ontvang, staar Appel nou in die gesig. Sy sou boonop net ná die ongeluk by ʼn nuwe onderneming begin werk het nadat sy besig was met haar kennismaand toe die botsing plaasgevind het, maar is intussen dié werk kwyt omdat sy nie werk toe kan gaan nie.

Appel, wat op 23 Julie glo haar laaste operasie sal ondergaan, het ook haar huis en haar motor verloor. “My ouers moes noodgedwonge ʼn groter huis soek omdat ek nou saam met hulle moes intrek sodat hulle na my kan omsien. Daar is niks meer nie; ek het niks meer nie, ʼn mens weet werklik nie watter kant toe nie.”

Hemelhoë mediese onkostes staar die Appel-gesin tans in die gesig. ʼn Facebook-blad, Marlene Hulpfonds, is intussen gestig waar weldoeners fondse kan bydra wat Appel se mediese onkostes sal dek.

 

Marlene voor die botsing (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
adriana

Byt van ounooi byt vas – jy sal hier deurkom.

Netsorg

Die “versorging” by privaat instansies is nie veel beter as by staatshospitale nie – die plekke word net meer dikwels geverf en hulle kwotastelsels voldoen aan minimum vereistes. Die prys daarvoor hang af van opbrengste wat aandeelhouers verwag en is glad nie in verhouding met die sorg wat gelewer word nie.

christa

kan daar nog mense wees sonder ‘n mediesefonds??? Ek wens haar alle sterkte toe met die herstel proses.

Lollie

Hier wys dit jou net weer, as jy lê sal hulle nog op jou trap ook en as jy nie geld het nie kan jy maar doodgaan ook! Liefde vir ń ander bestaan net nie meer nie. Hoop ons elkeen se bydrae maak ń groot verskil. Hou net moed! Sterkte aan jou en jou familie!

Anoniem

Mag RAF vir jou ‘n uitstekende uitbetaling gee wat jou weer op jou voete bring! As daar ‘n fonds is waartoe ons kan bydra, publiseer asseblief Maroela Media.