Gauteng-vrou vertel van ‘16 dae van hel’ in Chinese tronk

Ettienne en Madri saam met Benji (Foto: Verskaf)

Wat veronderstel was om ʼn beter kwaliteit lewe vir ʼn jong onderwyser van Alberton aan die Oos-Rand te wees, het vir haar én haar gesin in ʼn nagmerrie ontaard toe Madri van den Heever 16 dae in ʼn Chinese tronk moes deurbring – dít nadat die skool in China haar onder ʼn valse indruk gebring het.

Van den Heever (34) vertel Donderdag aan Maroela Media van dié ervaring wat haar so byna geknak het: Hoe sy ure lank in ʼn vertrek vasgeboei en ondervra is; hoe die polisie beslag gelê het op al haar besittings en hoe sy 16 dae lank op ʼn klein emmer in ʼn vertrek saam met sekswerkers gesit en bid het dat dié beproewing moet verbygaan.

Die onderwyser vertel sy en haar man, Ettienne (37), en hul tweejarige seuntjie, Benji, het in Augustus verlede jaar na China verhuis. Van den Heever het by die Imagine Preschools in die Chaoyang-distrik in Beijing aangesluit en haar man was ʼn vrywilliger by dieselfde skool.

Sy sê een van die hoofredes van hul emigrasie was juis om vir hul jong seuntjie ʼn beter lewe te gee, en vir agt maande was dit soos ʼn droom wat bewaarheid is – maar toe word dié droom ʼn uitgerekte nagmerrie.

“Nadat ek deur die skool gekontak is en besluit het om by hulle aan te sluit, het alles verskriklik vinnig gebeur. Die skool het vir ons toeriste-visums en alles gereël sodat ons kon vertrek. By ons aankoms in China het die skool onmiddellik met die proses begin om vir my ʼn werksvisum te kry, en Ettienne en Benji is toe vir die ‘familievisum’ goedgekeur. Ons was verskriklik beïndruk oor hoe vinnig hulle die papierwerk afgehandel het en sou nooit kon dink hoe dinge maande later verkeerd sou loop nie,” sê sy.

Madri saam met Ettienne, Benji en van die ouers van die leerders van die kleuterskool op die lughawe (Foto: Verskaf)

“Ons was dolgelukkig. Ons het soggens opgestaan en vir mekaar gesê hoe absoluut wonderlik dit is om hierdie geleentheid te hê. Beijing was so mooi en die mense so warm en vriendelik. Dinge het baie goed gegaan – soveel so dat ons reeds met onderhandelinge begin het om die volgende akademiese jaar ook by die skool te bly. Ons het self werk daarvan begin maak om ook vir my suster ʼn pos te kry; ons het ʼn familieplan gehad.”

Van den Heever was in April vanjaar besig om die kinders na ʼn speelkamer te neem toe sy die eerste keer onraad vermoed het. Eers was sy onder die indruk dat die man wat op en af in die skoolgange geloop het ʼn pa is wat sy kind by die skool wil inskryf, maar sy het besef daar is fout toe ʼn man van Imagine Preschools se hoofkantoor, bekend as mnr. Maa, haar geroep het om te sê die polisie wil met al die buitelandse onderwysers vergader.

“In die kantoor wou die polisie die heeltyd by ons weet of ons die skool se lisensie gesien het. Wie sal dink om daarvoor te vra? Jy neem aan al die papierwerk is in orde. Ons het elke keer wanneer hulle die vraag herhaal bloot geantwoord ‘nee’. Ons was ses buitelanders wat toe die heeltyd na menslikehulpbronne gebel het en gesê het iets is fout omdat die polisie daar is, maar ons het nie antwoorde kry nie. Maa het met ʼn dik lêer in dieselfde vertrek gestaan, maar die lisensie was ook nie daarbinne nie.”

Die polisie het kort hierna al die onderwysers na ʼn polisiestasie in die Chaoyang-distrik geneem vir ondervraging. Die onderwysers is een vir een in ʼn kamer ingeroep waar hulle ure lank ondervra is.

“Toe ek uitkom, het die onderwysers onder mekaar begin praat. Jasmine, my Amerikaanse kollega, het gesê hulle het vir haar gesê dat hulle my en haar gaan toesluit omdat ons al agt maande vir die skool werk. Die ander onderwysers sou glo ʼn boete kry. Ek het gesê: ‘Dis onmoontlik! Al die papierwerk is dan in orde.’ Toe kom Katryn, my Suid-Afrikaanse kollega uit, en sê dieselfde as Jasmine. Ek het bang geraak – ek het geweet iets groot skort.”

Die groep was teen dié tyd al sowat ses ure (van 11:00 tot 17:00) by die polisiestasie. Die ander onderwysers het intussen gehoor hulle moet ʼn boete betaal en ʼn vlugkaartjie koop om die land te verlaat. Van den Heever en Jasmine sou eers later hul lot hoor.

Teen 20:00, steeds in aanhouding, het Van den Heever vir Ettienne aangesê om huis toe te gaan om na Benji om te sien. In daardie stadium het ʼn ander onderwyser van die skool nog na hom omgesien. Nóg ure later is Van den Heever en Jasmine se selfone van hulle af weggeneem.

“Omstreeks 20:00 het die Chinese eienaar van die skool eers daar aangekom. Ek het geskree en gehuil en gevra wat gaan aan. Ek onthou ek het gegil: ‘Ek sal jou nooit vergewe nie!’ Toe is hy uit. ʼn Polisieman het ons kort hierna ingelig dat ek en Jasmine na ʼn aanhoudingsentrum moet gaan. Daar was niks meer om te sê nie. Ek was bang wat sou gebeur as ek nie my samewerking gegee het nie. Ons is in ʼn kombi gelaai en ek kon vinnig vir Etienne bel en sê dat ons vir tien dae na die aanhoudingsentrum gaan. Dit was dit, ek moes my lot aanvaar – selfs al was ek nie skuldig nie.”

Madri saam met Jasmine, haar Amerikaanse kollega (Foto: Verskaf)

Van den Heever is nié na die aanhoudingsentrum geneem nie, maar eers na ʼn tweede polisiestasie. By die wagarea moes hul op matjies staan wat lees: ‘Suspect waiting area’. “Ek het in trane uitgebars,” vertel sy. “Ek het vir die man gesê niemand het nog vir ons gesê hoekom ons hier is nie. Wat het ons verkeerd gedoen? Ek is ʼn ma, ʼn vrou, ʼn kind. Nou voel ek soos ʼn krimineel. Toe sê hy dat hy weet ons is nié kriminele nie, maar die skool het verkeerde werksvisums vir ons gegee en ons moet boet. Ek het gevra hoekom hulle nie die skool beboet nie, en hy het gesê dis die wet in China dat ons gestraf moet word.”

Dis hier waar sy ingelig is dat die Imagine Preschools se lisensie nog nie goedgekeur was nie, en dat die skool vir haar en die ander buitelanders om werksvisums aansoek gedoen het deur een van sy ander kampusse. Dít is egter onwettig.

“Toe begin die lelike goed,” sê sy. “By die toonbank het hulle ʼn soort nasporings-armband aan ons vasgeskroef. Ons moes agter ʼn klein gordyntjie verklee in ʼn grys sweetpak met twee linkerskoene. Dis amper asof hulle ons wou breek. Ons moes ons onderklere en alle juwele vir hulle gee. Dan gaan jy na ʼn volgende vertrek waar hulle jou weeg, meet en jou selfs prik vir bloed. Dán boei hulle jou en vat jou na ʼn ondervragingskamer in die kelder. Jy kan nie met jou man of jou kind praat nie.

“Hulle het my op ʼn staalstoel laat sit wat lyk soos daai stoele waarin jy sit voor jy tereggestel word. Hulle boei jou voete vas, en sluit jou as’t ware toe in die stoel met ʼn staalraam wat bo-oor jou bolyf vasmaak. Jou hande is op ʼn tafeltjie vasgeboei wat teen die stoel vas is. Toe vra hulle ons weer dieselfde vrae, en ons gee weer dieselfde antwoorde.”

Van den Heever moes daardie aand in die aanhoudingsentrum deurbring. “Dis geen aanhoudingsentrum nie, dis ʼn tronk,” sê sy. “Ek sou vir tien dae daar bly. En ek het vrede daarmee gemaak. Ek kon vir Etienne bel en sê waarheen ek gaan. Hy was histeries en angsbevange. Hy kon niks doen nie. As jy in die sentrum kom, moet jy ʼn mediese toets aflê. Diegene wat siek of swanger is, word elders aangehou. Ek het nog nooit in my lewe so gewens ek was swanger nie, maar ek was nie.”

Ettienne en Madri saam met Benji (Foto: Verskaf)

Van den Heever en Jasmine is in aparte selle gesit. “Ek het probeer kophou vir Benji en vir Ettienne. Ek het geweet as ek net tien dae kon maak, sou alles weer oukei wees. Dit was oorweldigend. Die beddens was houtplanke, die komberse was vol bloed en vrek vuil. Dit was walglik. Jy moes heeldag op ʼn klein emmertjie sit – sonder enigiets om te lees; net jy en jou gedagtes. Ek het gedink ek gaan mal word, dat ek my kop gaan verloor.

“Ons sou soggens en saans kos kry. Die kos was iets soos bruinwater gemeng met uie, kool of wortels. En dan gestoomde brood so swaar soos ʼn klip. En dan sit jy op jou emmertjie en bid, en huil, en wens die dae verby. Elke keer as ek wou opgee, het die Here ingegryp. Ek kon vir Ettienne twee keer bel in die 16 dae en ons was twee keer buite om vars lug te kry.”

Sy sê sy is “diep teleurgesteld” deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing. “Hulle het my eers na nege dae kom sien. Hulle neem aan jy is ʼn krimineel wat skande kom maak het. Maar die Amerikaanse ambassade was nie beter nie – Jasmine is eers ná agt dae besoek.”

Van den Heever was uiteindelik 16 dae in die aanhoudingsentrum en nié tien dae soos daar aanvanklik gesê is nie. Sy sê sy is deur die polisie direk na die lughawe geneem waar Ettiene en Benji op haar sou wag, sy moes direk terug na Suid-Afrika vlieg.

Ettienne en Madri (Foto: Verskaf)

“Benji het geen reaksie gehad toe hy my sien nie. Dit het my hart gebreek. Dit was wonderlik om Ettienne te sien, ek wou dinge net weer terug na normaal hê. Die polisie, dié wat ons na en van die tronk geneem het, was vriendelik. Hulle het ʼn uitsondering gemaak sodat die ma’s van my leerders my op die lughawe kan kom groet. Hulle het gehuil en vir my briefies gegee, ons was erg emosioneel.

“Ons is met elke tree na die vliegtuig deur die emigrasiebeampte vergesel. En toe klim ons op die vliegtuig en land veilig terug in Suid-Afrika. Hulle het 16 dae van my lewe gesteel en ek wonder nog elke dag of dit ʼn nagmerrie is. Maar daardie 16 dae is al wat hulle van my kon vat. Hulle het my seergemaak, maar het hulle my gebreek? Nee. Definitief nie.

“Ek kon een van twee opsies kies: Ek kon myself jammer kry of ek kon opstaan en die wêreld in die oë kyk. Toe besluit ek op nommer twee. Ek het ʼn wonderlike man en ʼn pragtige seuntjie en ek is nou hier om ander te waarsku oor dié gevare. Dat jou waardigheid ook gesteel kan word deur gulsige mense wat geld wil maak en nie ander mense in ag neem nie.

“Nou is ek hier; ek is kwaad vir niemand nie, maar ek wil hê ander moet weet dat hulle op die uitkyk moet wees vir die gevare.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

54 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Madri, wees verseker daar is niemand soos ons GOD nie ! Jy kon deurdruk omdat die HEILIGE GEES Jou en Jou Gesin in die HOLTE VAN SY HAND HOU !!! Wat ‘n oorwinning, dankbaar Julle is veilig ??

Al

Die Here het jou absoluut bewaar. Sterkte met jul toekoms.

Suid Afrika

So dis toe nie beter om na ‘n ander land te verhuis omdat Suid Afrika so erg is nie?????

Gerhard

En dit is die land wat oor 20-30 jaar by die VSA gaan oorneem en wêreld beleid bepaal en almal sal dan terug verlang na die goeie ou VSA, wat dan in sy kanon gaan wees a.g.v. linkse politiek.

Henk Stander

Yster vrou! Baie jammer dat jy dit moes deurmaak, maar nou weet jy waarvan jy genaak is!