Gauteng-vrou vertel van ‘16 dae van hel’ in Chinese tronk

Ettienne en Madri saam met Benji (Foto: Verskaf)

Wat veronderstel was om ʼn beter kwaliteit lewe vir ʼn jong onderwyser van Alberton aan die Oos-Rand te wees, het vir haar én haar gesin in ʼn nagmerrie ontaard toe Madri van den Heever 16 dae in ʼn Chinese tronk moes deurbring – dít nadat die skool in China haar onder ʼn valse indruk gebring het.

Van den Heever (34) vertel Donderdag aan Maroela Media van dié ervaring wat haar so byna geknak het: Hoe sy ure lank in ʼn vertrek vasgeboei en ondervra is; hoe die polisie beslag gelê het op al haar besittings en hoe sy 16 dae lank op ʼn klein emmer in ʼn vertrek saam met sekswerkers gesit en bid het dat dié beproewing moet verbygaan.

Die onderwyser vertel sy en haar man, Ettienne (37), en hul tweejarige seuntjie, Benji, het in Augustus verlede jaar na China verhuis. Van den Heever het by die Imagine Preschools in die Chaoyang-distrik in Beijing aangesluit en haar man was ʼn vrywilliger by dieselfde skool.

Sy sê een van die hoofredes van hul emigrasie was juis om vir hul jong seuntjie ʼn beter lewe te gee, en vir agt maande was dit soos ʼn droom wat bewaarheid is – maar toe word dié droom ʼn uitgerekte nagmerrie.

“Nadat ek deur die skool gekontak is en besluit het om by hulle aan te sluit, het alles verskriklik vinnig gebeur. Die skool het vir ons toeriste-visums en alles gereël sodat ons kon vertrek. By ons aankoms in China het die skool onmiddellik met die proses begin om vir my ʼn werksvisum te kry, en Ettienne en Benji is toe vir die ‘familievisum’ goedgekeur. Ons was verskriklik beïndruk oor hoe vinnig hulle die papierwerk afgehandel het en sou nooit kon dink hoe dinge maande later verkeerd sou loop nie,” sê sy.

Madri saam met Ettienne, Benji en van die ouers van die leerders van die kleuterskool op die lughawe (Foto: Verskaf)

“Ons was dolgelukkig. Ons het soggens opgestaan en vir mekaar gesê hoe absoluut wonderlik dit is om hierdie geleentheid te hê. Beijing was so mooi en die mense so warm en vriendelik. Dinge het baie goed gegaan – soveel so dat ons reeds met onderhandelinge begin het om die volgende akademiese jaar ook by die skool te bly. Ons het self werk daarvan begin maak om ook vir my suster ʼn pos te kry; ons het ʼn familieplan gehad.”

Van den Heever was in April vanjaar besig om die kinders na ʼn speelkamer te neem toe sy die eerste keer onraad vermoed het. Eers was sy onder die indruk dat die man wat op en af in die skoolgange geloop het ʼn pa is wat sy kind by die skool wil inskryf, maar sy het besef daar is fout toe ʼn man van Imagine Preschools se hoofkantoor, bekend as mnr. Maa, haar geroep het om te sê die polisie wil met al die buitelandse onderwysers vergader.

“In die kantoor wou die polisie die heeltyd by ons weet of ons die skool se lisensie gesien het. Wie sal dink om daarvoor te vra? Jy neem aan al die papierwerk is in orde. Ons het elke keer wanneer hulle die vraag herhaal bloot geantwoord ‘nee’. Ons was ses buitelanders wat toe die heeltyd na menslikehulpbronne gebel het en gesê het iets is fout omdat die polisie daar is, maar ons het nie antwoorde kry nie. Maa het met ʼn dik lêer in dieselfde vertrek gestaan, maar die lisensie was ook nie daarbinne nie.”

Die polisie het kort hierna al die onderwysers na ʼn polisiestasie in die Chaoyang-distrik geneem vir ondervraging. Die onderwysers is een vir een in ʼn kamer ingeroep waar hulle ure lank ondervra is.

“Toe ek uitkom, het die onderwysers onder mekaar begin praat. Jasmine, my Amerikaanse kollega, het gesê hulle het vir haar gesê dat hulle my en haar gaan toesluit omdat ons al agt maande vir die skool werk. Die ander onderwysers sou glo ʼn boete kry. Ek het gesê: ‘Dis onmoontlik! Al die papierwerk is dan in orde.’ Toe kom Katryn, my Suid-Afrikaanse kollega uit, en sê dieselfde as Jasmine. Ek het bang geraak – ek het geweet iets groot skort.”

Die groep was teen dié tyd al sowat ses ure (van 11:00 tot 17:00) by die polisiestasie. Die ander onderwysers het intussen gehoor hulle moet ʼn boete betaal en ʼn vlugkaartjie koop om die land te verlaat. Van den Heever en Jasmine sou eers later hul lot hoor.

Teen 20:00, steeds in aanhouding, het Van den Heever vir Ettienne aangesê om huis toe te gaan om na Benji om te sien. In daardie stadium het ʼn ander onderwyser van die skool nog na hom omgesien. Nóg ure later is Van den Heever en Jasmine se selfone van hulle af weggeneem.

“Omstreeks 20:00 het die Chinese eienaar van die skool eers daar aangekom. Ek het geskree en gehuil en gevra wat gaan aan. Ek onthou ek het gegil: ‘Ek sal jou nooit vergewe nie!’ Toe is hy uit. ʼn Polisieman het ons kort hierna ingelig dat ek en Jasmine na ʼn aanhoudingsentrum moet gaan. Daar was niks meer om te sê nie. Ek was bang wat sou gebeur as ek nie my samewerking gegee het nie. Ons is in ʼn kombi gelaai en ek kon vinnig vir Etienne bel en sê dat ons vir tien dae na die aanhoudingsentrum gaan. Dit was dit, ek moes my lot aanvaar – selfs al was ek nie skuldig nie.”

Madri saam met Jasmine, haar Amerikaanse kollega (Foto: Verskaf)

Van den Heever is nié na die aanhoudingsentrum geneem nie, maar eers na ʼn tweede polisiestasie. By die wagarea moes hul op matjies staan wat lees: ‘Suspect waiting area’. “Ek het in trane uitgebars,” vertel sy. “Ek het vir die man gesê niemand het nog vir ons gesê hoekom ons hier is nie. Wat het ons verkeerd gedoen? Ek is ʼn ma, ʼn vrou, ʼn kind. Nou voel ek soos ʼn krimineel. Toe sê hy dat hy weet ons is nié kriminele nie, maar die skool het verkeerde werksvisums vir ons gegee en ons moet boet. Ek het gevra hoekom hulle nie die skool beboet nie, en hy het gesê dis die wet in China dat ons gestraf moet word.”

Dis hier waar sy ingelig is dat die Imagine Preschools se lisensie nog nie goedgekeur was nie, en dat die skool vir haar en die ander buitelanders om werksvisums aansoek gedoen het deur een van sy ander kampusse. Dít is egter onwettig.

“Toe begin die lelike goed,” sê sy. “By die toonbank het hulle ʼn soort nasporings-armband aan ons vasgeskroef. Ons moes agter ʼn klein gordyntjie verklee in ʼn grys sweetpak met twee linkerskoene. Dis amper asof hulle ons wou breek. Ons moes ons onderklere en alle juwele vir hulle gee. Dan gaan jy na ʼn volgende vertrek waar hulle jou weeg, meet en jou selfs prik vir bloed. Dán boei hulle jou en vat jou na ʼn ondervragingskamer in die kelder. Jy kan nie met jou man of jou kind praat nie.

“Hulle het my op ʼn staalstoel laat sit wat lyk soos daai stoele waarin jy sit voor jy tereggestel word. Hulle boei jou voete vas, en sluit jou as’t ware toe in die stoel met ʼn staalraam wat bo-oor jou bolyf vasmaak. Jou hande is op ʼn tafeltjie vasgeboei wat teen die stoel vas is. Toe vra hulle ons weer dieselfde vrae, en ons gee weer dieselfde antwoorde.”

Van den Heever moes daardie aand in die aanhoudingsentrum deurbring. “Dis geen aanhoudingsentrum nie, dis ʼn tronk,” sê sy. “Ek sou vir tien dae daar bly. En ek het vrede daarmee gemaak. Ek kon vir Etienne bel en sê waarheen ek gaan. Hy was histeries en angsbevange. Hy kon niks doen nie. As jy in die sentrum kom, moet jy ʼn mediese toets aflê. Diegene wat siek of swanger is, word elders aangehou. Ek het nog nooit in my lewe so gewens ek was swanger nie, maar ek was nie.”

Ettienne en Madri saam met Benji (Foto: Verskaf)

Van den Heever en Jasmine is in aparte selle gesit. “Ek het probeer kophou vir Benji en vir Ettienne. Ek het geweet as ek net tien dae kon maak, sou alles weer oukei wees. Dit was oorweldigend. Die beddens was houtplanke, die komberse was vol bloed en vrek vuil. Dit was walglik. Jy moes heeldag op ʼn klein emmertjie sit – sonder enigiets om te lees; net jy en jou gedagtes. Ek het gedink ek gaan mal word, dat ek my kop gaan verloor.

“Ons sou soggens en saans kos kry. Die kos was iets soos bruinwater gemeng met uie, kool of wortels. En dan gestoomde brood so swaar soos ʼn klip. En dan sit jy op jou emmertjie en bid, en huil, en wens die dae verby. Elke keer as ek wou opgee, het die Here ingegryp. Ek kon vir Ettienne twee keer bel in die 16 dae en ons was twee keer buite om vars lug te kry.”

Sy sê sy is “diep teleurgesteld” deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing. “Hulle het my eers na nege dae kom sien. Hulle neem aan jy is ʼn krimineel wat skande kom maak het. Maar die Amerikaanse ambassade was nie beter nie – Jasmine is eers ná agt dae besoek.”

Van den Heever was uiteindelik 16 dae in die aanhoudingsentrum en nié tien dae soos daar aanvanklik gesê is nie. Sy sê sy is deur die polisie direk na die lughawe geneem waar Ettiene en Benji op haar sou wag, sy moes direk terug na Suid-Afrika vlieg.

Ettienne en Madri (Foto: Verskaf)

“Benji het geen reaksie gehad toe hy my sien nie. Dit het my hart gebreek. Dit was wonderlik om Ettienne te sien, ek wou dinge net weer terug na normaal hê. Die polisie, dié wat ons na en van die tronk geneem het, was vriendelik. Hulle het ʼn uitsondering gemaak sodat die ma’s van my leerders my op die lughawe kan kom groet. Hulle het gehuil en vir my briefies gegee, ons was erg emosioneel.

“Ons is met elke tree na die vliegtuig deur die emigrasiebeampte vergesel. En toe klim ons op die vliegtuig en land veilig terug in Suid-Afrika. Hulle het 16 dae van my lewe gesteel en ek wonder nog elke dag of dit ʼn nagmerrie is. Maar daardie 16 dae is al wat hulle van my kon vat. Hulle het my seergemaak, maar het hulle my gebreek? Nee. Definitief nie.

“Ek kon een van twee opsies kies: Ek kon myself jammer kry of ek kon opstaan en die wêreld in die oë kyk. Toe besluit ek op nommer twee. Ek het ʼn wonderlike man en ʼn pragtige seuntjie en ek is nou hier om ander te waarsku oor dié gevare. Dat jou waardigheid ook gesteel kan word deur gulsige mense wat geld wil maak en nie ander mense in ag neem nie.

“Nou is ek hier; ek is kwaad vir niemand nie, maar ek wil hê ander moet weet dat hulle op die uitkyk moet wees vir die gevare.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

54 Kommentare

Anoniem ·

Madri, wees verseker daar is niemand soos ons GOD nie ! Jy kon deurdruk omdat die HEILIGE GEES Jou en Jou Gesin in die HOLTE VAN SY HAND HOU !!! Wat ‘n oorwinning, dankbaar Julle is veilig ??

Madri ·

Baie dankie vir die ondersteuning! Ons waardeer dit opreg. Dit is absoluut deur genade dat ons veilig terug in SA is!

Suid Afrika ·

So dis toe nie beter om na ‘n ander land te verhuis omdat Suid Afrika so erg is nie?????

Napoleon ·

Ek bly al lank in China en kan jou verseker dat dit baie veiliger is as SA. Ook baie meer modern as wat SAners wil glo.

KG ·

Hierdie was ‘n slegte ervaring om vetskeie redes, maar ek glo daar is duisende Suid Afrikaners in die buiteland wat heel gelukkig en tevrede is.

HappyBeijinger ·

Bly al 3 jaar hier en sal nog 20 jaar hier bly. Daar is die n vergelijking te tref tussen Suid Afrika en China nie

Louis ·

Dis nou n ongevoelige aanmerking. Dit gaan hier oor die beproewing wat die dame moes deurgaan. Dit kon net sowel in SA ook gebeur het.

Gerhard ·

En dit is die land wat oor 20-30 jaar by die VSA gaan oorneem en wêreld beleid bepaal en almal sal dan terug verlang na die goeie ou VSA, wat dan in sy kanon gaan wees a.g.v. linkse politiek.

Peet ·

Gerhard, ek sou saamgestem het as HRC in 2016 verkies is as President (behalwe dat dit minder as 20-30 jaar sou neem vir die VSA om ineen te stort na 8 jaar van Berry Obahama gevolg deur Clinton 2.0) Amerika was by ‘n vurk in die pad, en het gelukkig vir Trump gekies. Berry O het amper permanente skade aan dié land gedoen (dalk permanente skade aan dié wat links is), Clinton 2.0 sou die doodskoot gewees het vanwaar die VSA nie sou kon herstel nie. Dankie tog hulle het dit vermy!??

Linda ·

HappyBeijinger.
Ek gaan probeer om my denke so beskaafd en respekvol as moontlik uitspreek. Jy sê jy bly al drie jaar daar en jy sal nog 20 jaar daar bly. Ek is baie bly vir jou. Ek as lojale Suid Afrikaner, wil egter uit die diepte van my hart vir jou en AL die ander Suid Afrikaners in ander lande vra…..Bly asb waar julle is. Moet onder geen omstandighede terugkom nie. Ons is bly vir julle maar het julle nie nodig nie. Ons sal, aan die hand van Ons Hemelse Vader hierdie land weer herbou tot voordeel van almal wat agter gebly het.

Henk Stander ·

Yster vrou! Baie jammer dat jy dit moes deurmaak, maar nou weet jy waarvan jy genaak is!

marous ·

As jy in China is moet jy maak soos die Chinese …. anders gaan jy tronk toe.

Jane ·

Die probleem is SY HET gemaak soos die sjinese, die skoolhoof was ‘n sjinees en sy was by ‘n sjinese skool en dit was sy verantwoordelikheid om die regte visums vir hulle te kry .. KRY DIT TOG NET IN JULLE KOPPE< sy het niks verkeerds gedoen nie. Ek is net baie bly jy is weer veilig in SA en by jou man en kind . Probeer Dubai of 'n ander land, lyk asof jy 'n bate vir enige skool is en lief vir kinders is.

Eben ·

Wonder wat sal die Chinese regering doen as SA dieselfde aan onwettige Chinese doen. Ek sal nooit weer Chinese ondersteun nie.

Dawid ·

Ek dink nie dit dit is Chinese se skuld nie. Die vrou was daar onwettig… hoewel sy nie geweet het daarvan nie… die polisie het net hul werk gedoen. Die agent was skelm ja, maar om 1.2 biljoen mense met dieselfde kam te skeer is nie regverdig nie.

Cheers China ·

Janee nadat ek gesien het hoe wreed hulle steeds honde om die lewe bring en lewendig kook en verbrand op hulle Yulin dog meat fees, het ek ook besluit ek wil daardie land nooit besoek nie, en ek koop nooit eers weer ‘n stringetjie krale by hulle cheap winkeltjies nie …

Ag asb ·

Was nie nodig om haar so stief te behandel nie .. Sy het nie geweet nie, hulle moet die SKOOL straf .. En hoekom hulle soos kriminele behandel onder daai omstandighede, hulle kon hulle net deporteer het.

Amelia ·

Dankie tog jy was nie gemartel nie.
En dan kla ons gevangenisse wat op die hande gedra word en meer regte het as ons wat volgens die wet leef.
Ek kan nie glo dat die skool nie iets kon doen nie.

SKANDELIK ·

Dit is darem nou BELAGLIK, wie het die oortreding begaan? DIE SKOOL!! Hoekom straf hulle nie die skool nie? Hoe sal jy as buitelander weet dat hulle deur ‘n ANDER skool vir jou aansoek gedoen het vir ‘n werksvisum? Hoe belaglik .. Wys jou maar net wat se tipe mense hulle is en dat hulle in 100 jaar niks vooruit gegaan het nie . nog net so wreed en agterbaks. Ja kyk as jy op die Suid Afrikaanse ambassade gewag het glo ek het jy lank gewag . jy is wit . moet dit nooit vergeet nie.

Madri ·

@Napoleon Dit was ‘n werksvisum! Ek het ‘n BA in sielkunde en nagraads onderwys geswot. Ek sou beslis nie my kind se lewe in gevaar gestel het deur onverskillig op te tree en op n toeriste visum te werk nie!

Pierre ·

Ek wet presies waar an jy praat,ek was in 2012 vir 192 dae in n maksimum sekuriteit tronk in Hong Kong toegesluit.
Ek was by malword verby,ek het drie keer probeer selfmoord pleeg,die omstandighede is verskriklik…

Paul ·

Wat my amazing is laat j nt aanhou die Here gesoek het in daai tronk. Mag jy aanhou aan ons verlosser en vriend vashou. Shalom.

Petro ·

Jou arme mens. Ek kan my nie indink hoe paniekbevange jy moes voel nie. Ek is baie bly dat jy en jou gesin veilig is.

Sonja ·

Ek lig my hoed vir jou Madri. Daar is soveel onskuldige jong mense wat daar sit en nie huistoe kan kom nie, omdat hulle paspoorte weggevat is. Ons seun is nou op ‘n vlug oppad huistoe, en ons is so dankbaar. My hart gaan uit na al die ander wat nie so gelukkig is nie. Ons hoop alles word spoedig uitgesorteer vir hulle ook. Sterkte

Madri ·

Sterkte Sonja, ek is so bly om te hoor hy is oppad huis toe!

S ·

Is dit nie onwettig om mense se paspoorte te vat nie? Hoe kan hulle nie terugkom SA toe nie? Wie het hulle paspoorte?

Ella ·

Oh wow ek kan myself nie indink hoe bang jy moes wees nie. Mens dink jy soek n beter toekoms vir jou en gesin as die hell hole en dan gebeur so iets. Dankie Vader juls ok en mag jy die nagmerrie spoedig verwerk.

Oopkop ·

Ek het n werwings firma en kry gereeld eposte van oosee om mense van Suid Afrika te plaas. Ek het dit nog altyd geweier al word ek groot geld belowe vir die regte kandidaat. Ek bly eerder arm as wat ek iemand oorsee plaas en nie weet wat met so n persoon gaan gebeur nie. Ek sal myself verwyt sou so iets met een van my kandidate gebeur. Met human trafficking en oneerlike kontrakte, nee wat.

Karinda ·

Arme arme vrou. Ek kan nie die vrees en angs indink waar deur jy moes gaan nie. Ek is so bly en prys God dat jy weer veilig by jou gesin is. Mag jy en jou man hierdie trauma gou verwerk.

Johan Saaiman ·

Ai tog Madri..jammer jong..China bly maar onvoorspelbaar boos en sleg teenoor uitlanders van ander lande

SNEL ·

Ek verstaan goed wat hier gebeur het en dat dit weer n ander land met hul anderste reëls is, maar ek wonder net. Hoe volg n mens die Here in n land soos China? Christene word gevang en in tronke gestop en gemartel. Kerke wat wel bestaan is “ondergronds”. Hoe bly mens staande? Kan huisgodsdiens hou (maar alleen is dit moeilik, so vir hoe lank gaan dit werk vir n mens) , maar hoe gaan n mens se kind opgroei en watse uitwerking gaan daai gelowe daar op hom wees? Wat baat dit n mens as hy die wêreld win, maar aan sy siel skade ly. Mens sal seker staande bly vir n ruk, maar as jou huisgesin met die tyd, die een na die ander weg val van die Here af en jy staan alleen. Jy kan met niemand niks deel van jou geloof nie, is dit nie maklik nie. Sjoe, ek weet nie of ek permanent daar sal kan of wil bly nie. Kry daai Christene daar baie jammer, baie dapper martelaars daar. Hulle het dit wraggies nie maklik nie, en tog veg hulle voort in geloof.

Yankee ·

Unbelievable!! So sorry for you guy’s, especially for you. Yet please Madri, never give up the dream to migrate to a new World. We here in the USA would love to welcome you. We need guy’s like you!!

Banie ·

Julle moes dalk liewer Taiwan-toe gegaan het. My seun hou al 20 jaar daar skoll en sy vrou ongeveer 12 jaar. En hulle het nog nooit enige probleme gehad nie. Behalwe aardskuddings en so aan. Maar ek is bly julle is veilig terug. Sterkte vorentoe.

Willa ·

Liewe, Madri! Jy is onregverdig en onwaardig behandel….maar jy het dit waardig hanteer! Vir my was jou hantering hiervan n inspirasie……Jy het niks verkeerd gedoen nie….maar jy het my hart en baie ander se harte gerask en weereens my laat besef dat ons nooit versaak word deur Hom nie!!! Net die beste en mooiste vir jou en jou gesin vorentoe!!!!

Jan Seerot ·

Geagte Madri
Ek was nou glad nie onder omstandighede soos joune nie. Myne was heel anders in Beira in Mosambiek. Die ooreenkoms is egter dat God se teenwoordigheid nie verander nie. Hy is altyd daar. En reg om te help. Daar is net een God. Die God wat ons aanbid. Sien jou eendag in die hemel.

Martha de Waal ·

Madri dankie jy deel jou storie. China se regstelsel stink. Jy het niks verkeerd gedoen nie
Hoe moet enige persoon weet of die skool se Lisensie in orde is? Jy kan seker vir n Lisensie vra van skool as jy weet, maar hul kan jou enige Chinese Dokument in die hande stop, dit gaan beslis nie Engels wees nie. Die Skool moes opdok – nie die Onderwysers nie

Carol ·

Ek vee my trane van dankbaarheid af dat julle veilig terug is. Ek wens vir jou en jou gesin ‘n toekoms vol van geluk en voorspoed.

Bill ·

Indien jy China ondersteun deur hulle produkte te koop – en nee nie als word in China gemaak nie – daar is baie alternatiewe hier in SA – ondersteun jy plundery.
Jy kan netsowel die snelle op die renoster self trek, die pangolia diertjie se skubbe self aftrek en die res van die natuur skaad om by die minerale uit te kom.
China, al is dit baie beter deesdae is ook komunisties/sosialisties. Hulle saam met Stalin ens is die voorlopers vir eiendom terugneem sonder vergoeding – jy ondersteun dit!!?
Hoe doen julle dit en laat vaar julle Christen waardes so maklik?
Dink mense nie meer vir hulself nie…?? Gaan lees asb. die geskiedenis en word bewust wat jy eintlik ondersteun!

Kobus ·

Dankie tog iemand sê hierdie..! Stem 100% saam – ondersteun China al jare nie meer nie! Geen Christen sal nie.

anton ·

Baie bly julle is nou weer veilig en tuis.
Maar ek sal persoonlik nooit na n kommunistiese land gaan vir werk en of vakansie nie.
Die risiko is net te groot en dit druis op teen my geloof ook.
Bly eerder weg uit lande wat Christene vervolg en nie Christelike waardes het nie.
Net my opinie.

Lienkie ·

Madri baie dankie vir die goeie raad wat jy vir al die jong mense van Suid Afrika gee, hulle moet maar eers hul huiswerk doen voor hulle so besluit neem en seker maak dat die skool wel ‘n wettige lisensie het voordat hul daarheen vertrek. Jy is ‘n yster en sterkte vir jou en familie in die toekoms.

Madelene ·

Madri, dis ‘n vreeslike nagmerrie, mens kan nie dink dat dit so werk met China se wetgewing nie. FYI: Hier is baie werk vir kleuterskool onnies in NZ VERAL in Auckland… Ek het hier met my laerskool kwalifikasie ingestap, en toe vir bykans 7 jaar in kleuterskole gewerk: onnie, supervisor en centre manager…dit was heerlik, ek is nou in laerskool onderwys en geniet dit baie. Maak plan!! So bly die Here het julle bewaar en mag Hy dit steeds verder doen.

Sandra ·

Madri, so wonderlik dat jy opgestaan het en bly glo het in die Here se genade. Ken baie mense wat in China werk en hulle is baie gelukkig. Dit is so jammer dat die skool julle gefaal het. Wens almal wat daar gaan werk jou storie kan hoor sodat hulle die skool of besigheid se lisensie kan sien. Dink nie iemand het al ooit daarna gevra nie. Jammer jy moes dit deurmaak, maar baie mense kan van jou ondervinding leer. Ongelukkig het baie mense nodig om oorsee te gaan werk. Nie omdat hulle wil nie, maar omdat hulle moet! Sterkte voorentoe vir jou en jou gesin.

Rikag ·

So jammer om te hoor van jou slegte ondervinding. My seun gee Engelse klasse in Tianjin China al vir 2 jaar nog nooit probleme gehad nie. Glo ook dit hang af van die mense wat jou werf of dis skelms of eerlike mense. Was ook baie bekommerd die eerste jaar dank die Vader die mense wat hom gewerf het was eerlik. Baie gelukkig daar wil nie terug kom S.A toe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.