Gauteng waterbeperkings gelig: ‘Droogte duur voort’

Twee van die Vaaldam se sluise is in Februarie oopgemaak. Foto: Departement van water en sanitasie

Twee van die Vaaldam se sluise is in Februarie oopgemaak. Foto: Departement van water en sanitasie

Die departement van water en sanitasie het vandeesweek amptelik die waterbeperkings in Gauteng opgeskort, maar waarsku dat die land steeds in ʼn droogte vasgevang is.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring bevestig dat die opskorting van die waterbeperkings Maandag in die Staatskoerant gepubliseer is. Die opskorting van die beperkings is onmiddellik van krag.

“Die opskorting van die waterbeperkings volg ná die onlangse reën wat in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel ingevloei het,” het Ratau gesê. Die Vaalrivierstelsel bestaan uit 14 damme wat hoofsaaklik Gauteng bedien. Volgens Ratau was die stelsel op 6 Maart 95,9% vol.

Hy het vroeër aan Maroela Media gesê die Vaaldam was Donderdagoggend 103,9% vol. Dit was die eerste keer in ʼn baie lang tyd dat die damvlak langer as ʼn week bo 100% gebly het.

“Gauteng munisipaliteite binne Rand Water se voorsieningsgebied sal deur die opskorting van die waterbeperkings geraak word. Ander kleiner dorpe soos Potchefstroom, Standerton en derdeparty-gebruikers, wat deur die Vaalrivier Oostelike- en Usutu-substelsel bedien word, sal ook nie meer waterbeperkings hê nie,” het hy gesê.

Hy het egter gewaarsku dat die droogte in die land nog nie verby is nie en dat Suid-Afrika steeds ʼn waterskaars land bly. Die Stad Kaapstad het gister aangekondig dat die Moederstad slegs 105 dae se bruikbare water teen die huidige verbruiksvlakke oorhet.

“Die departement doen ʼn beroep op alle watergebruikers om steeds water spaarsamig te gebruik en ʼn kultuur van waterbesparing te kweek,” het Ratau gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anneke ·

En daarom moet die waterbeperking nie gelig word nie.
Die slimmes het voorspel dit gaan jare neem vir die Vaaldam om weer vol te word. Verras die Here ons en doen dit binne 2 maande.

Ons moet elke dag leef asof dit waterbeperking is. Ek hoop iemand by Rand Water kry dit in hulle koppe om nog steeds ‘n tiepie van beperking daar te stel.
Ek hou baie van Kaapstad se manier om die water verbruikers te monitor en aan te spreek. So hou hulle tog hulle vinger op wat aangaan.
Ek is seker dit kan in Gauteng ook gebeur.

marianne ·

Hoekom water beperkings ophef as julle nog droogte voorspel. Hou by die water beperkings sodat ons land se mense geleer kan word om nie water te mors nie. ( hoe jou ouma en oupa. MOENIE MET DIE WATER MORS NIE) en dis presies wat die mense gaan doen. Net my opinie. Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.