Gauteng-waterkrisis “vir eers onder beheer”

Argieffoto

Argieffoto

Die watertekort-krisis in Gauteng is vir eers onder beheer, volgens Rand Water.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie het Johannesburg Vrydag besoek om oplossings vir die krisis te probeer vind en ingelig te word oor die situasie. Die komitee was by die Palmiet-pompstasie wat water verskaf aan die Kliprivierberg-reservoirs, wat weer water verskaf aan die reservoirs in Brakfontein, Klipfontein, Germiston, Meyers Hill en North Ridge.

Matsobane Masebe, Rand Water se bedryfsbestuurder, het aan die komitee gesê die Palmiet-pompstasie pomp 1 660 megaliter water per dag hoewel dit die kapasiteit het om 2 600 megaliter te berg. Die infrastruktuur kan egter nie meer as 1 660 megaliter per dag hanteer nie.

Masebe het gesê koperkabels wat by Eskom se kragstasie in Alrode gesteel is, dra by tot die tekorte. Die substasie voorsien krag aan die pompstasie. Volgens Masebe is kragopwekkers nie ʼn praktiese oplossing nie aangesien die pompstasie tot 700 MW gebruik om water te pomp. Hy het gesê Rand Water ondersoek alternatiewe maniere om krag te kry of meer as een kragbron te gebruik.

Volgens Masebe is dit die eerste keer in 110 jaar wat Rand Water ʼn tekort van dié aard ervaar. Hy het gesê die uitdaging is om reservoirs met oortollige water te vul en terselfdertyd die behoeftige areas met water te voorsien. Die reservoirs se watervlakke is steeds taamlik laag aangesien meeste van die water wat gepomp word direk na die munisipaliteite gestuur word.

Die Brakfontein-reservoir wat water verskaf aan Midrand, Centurion en Pretoria se watervlak is steeds laag. Sommige munisipaliteite kan nog nie direk water aan verbruikers verskaf nie aangesien die watervlakke in van die reservoirs nog te laag is. Daar word gehoop dat alle probleme teen Maandag uitgestryk sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.