Gautengers, buitelanders belê groot in luukse Kaapse eiendom

Fresnaye-eiendom van R38 miljoen. (Foto: Seeff)

Luukse eiendomme in die Wes-Kaap het vanjaar weer soos (peperduur) soetkoek verkoop – met Gautengers en buitelanders wat miljoene rande vir eiendomme in veral Kaapstad opgedok het.

Eiendomsverkope was effens laer as verlede jaar, maar steeds dubbel die hoeveelheid as wat in 2019 voor die Covid-19-pandemie verkoop is. Die eiendomsreus Seeff sê beleggers het inteendeel vanjaar meer as gewoonlik aan luukse eiendomme bo die R20 miljoen-kerf bestee.

Luidens Seeff se statistieke was daar minstens 100 verkope van eiendomme bó R20 miljoen in Kaapstad. Wanneer internasionale verkope in Kaapstad ingereken word, steek dit die R3,3 miljard-kerf ver verby.

Luukse eiendomme wat deur Gautengers opgeraap is, is hoofsaaklik by die Waterfront geleë, waar ʼn woonstel jou vanjaar R43 miljoen uit die sak sou jaag.

In Bantrybaai is woonstelle en huise van onderskeidelik R43 miljoen, R24 miljoen en R20 miljoen aangekoop. Groot geld is ook in eiendomme in Kampsbaai belê, waar kopers onderskeidelik R43 miljoen, R31,5 miljoen en R27,5 miljoen vir huise uitgehaal het.

Volgens Seeff was Kampsbaai vanjaar besonder gewild onder binnelandse én buitelandse kopers, met die meeste verkope van luukse eiendomme nog in dié kusbuurt.

Waterfront-eiendom van R37,5 miljoen. (Foto: Seeff)

Clifton is egter die voorloper wat prys betref. Kopers het gemiddeld R50 miljoen vir eiendom in Clifton opgedok. Daar was ook drie verkope bó dié bedrag waarvoor daar tussen R50 miljoen en ʼn allemintige R150 miljoen vir eiendomme betaal is.

Volgens Ross Levin, lisensiehouer vir die Atlantiese kusgebied en die middestad, is 60% van alle hoëwaardeverkope bo R20 miljoen aan die Atlantiese kusgebied afgehandel. Villas en woonstelle was vanjaar veral hoog in aanvraag. Kopers was egter ook bereid om R20 miljoen en meer vir woonstelle in Seepunt en Mouillepunt te betaal.

Die suidelike voorstede Bishopscourt en Constantia het ook rekordeiendomsverkope van R20 miljoen en meer gehad.

Francois Venter, eiendomsagent vir Seeff, sê daar is ook hier en daar ʼn huis van meer as R20 miljoen in Claremont en Nuweland verkoop.

‘Min gepla oor ekonomie, politiek’

Volgens Levin kan die goeie verkope in Kaapstad aan semigrasie toegeskryf word, asook internasionale burgers wat ʼn tweede woonplek in dié stad soek.

Hy meen internasionale kopers is boonop nie veel gepla oor politiek en die ekonomie nie.

“Hulle koop hier vir die ongelooflike leefstyl en uitstekende waarde.”

Die verswakking van die rand maak dit natuurlik ook aanloklik om pragwonings aan te skaf.

Bantrybaai-eiendom van R98 miljoen. (Foto: Seeff)

Sowat 30% van alle luukse eiendomsverkope vanjaar was aan internasionale kopers, waarvan die meeste in Kampsbaai.

Nadine Jocum, ʼn Seeff-agent in Kampsbaai, sê internasionale kopers is hoofsaaklik van Brittanje en Duitsland.

“Internasionale kopers is lief vir die natuurskoon van die berg en see, en die nabyheid van ander mooi voorstede in Kaapstad, die Waterfront, middestad en wynplase.”

Levin sê daar was vanjaar egter ook ʼn toename aan internasionale kopers uit die VSA (hoofsaaklik in Clifton en Llandudno), asook Rusland (Clifton, Bantrybaai en Fresnaye).

Ekonomiese uitdagings nieteenstaande verwag Kaapse eiendomsagente ʼn bedrywige somer. Vooruitsigte vir die nuwe jaar blyk ook positief te wees.

Seepunt-eiendom van R27,5 miljoen. (Foto: Seeff)

Duurste woonbuurte in Kaapstad geleë

Benewens indrukwekkende eiendomsverkope in Kaapstad, blyk dit dat die Moederstad ook die land se duurste woonbuurte huisves. Dit word bepaal deur die gemiddelde prys van eiendomme in die bepaalde woonbuurt.

Slegs een van die top 10 duurste woonbuurte in die land, Sandhurst, is in Johannesburg geleë. Die res is almal in Kaapstad, hoofsaaklik aan die Atlantiese kus.

Kaapstad is immers vir die agtste agtereenvolgende jaar as die beste stad in die wêreld aangewys by die Telegraph Travel Awards-toekenningsgeleentheid.

Die top 10 lyk soos volg:

1             Clifton

2             Bantrybaai

3             Llandudno

4             Sandhurst

5             Bishopscourt

6             Higgovale

7             Waterfront

8             Fresnaye

9             Kampsbaai

10           Bo-Constantia

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos ·

Crazy, absolute malligheid. Mense het te veel geld, en dit voorspel niks goeds nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die buitelanders word waarskynlik ekstra belas wat goed is vir die metro se geldsake.

annie ·

As mens kyk hoe swak die rand tov buitelandse geldeenhede is en hoe duur eiendom daar is, is sulke aankope niks erg vir uitlanders nie en met die pragtige omgewings en heerlike klimaat, is dit te verstane. Of ryk uitlanders (in ons oë) enigsings betrokke sal wil raak in landspolitiek is ‘n ander vraag. Intussen kom duisende uitlanders uit die noorde van Afrika hier aan en hulle word bearbei deur swart party. Of dié provinsie 2024 gaan oorleef… En dan wil-wil Koeberg ook nog met sy ouderdomskwale saam ‘n oorval loop kry…

Suzette ·

Ag nee wat, die huise lyk vir my meer soos hotelle, prentjieboek hotelle. Dis pragtig, maar belaglik duur. Ek hou van warmte en leefhuise al is dit in ‘n klein kothuisie.

SjN ·

En gesogte eiendomme aan die Natalse Suidkus se pryse het drasties verlaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.