Gautengse aanlynskoolaansoeke open Maandag

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Gautengse departement van onderwys het Sondag gesê aanlynregistrasies vir gr. 1- en gr. 8-leerders vir die 2020-skooljaar sal Maandagoggend amptelik open.

Ouers kan van Maandag om 08:00 tot en met middernag op 22 Julie aanlyn registreer om ʼn plek in ʼn skool vir ʼn kind te verseker en ouers word aangemoedig om betyds aansoek te doen om teleurstelling te voorkom.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het gesê ouers kan vir enige skool van hul keuse aansoek doen. “Vir die eerste keer in die geskiedenis van die land is daar geen skool wat ʼn toelatingsbeleid het nie. Nie-rassigheid is die toekoms,” het Lesufi gesê.

Die LUR het gesê geen taal sal tydens registrasies voorkeur geniet nie, hoewel die stelsel wel aandui in watter tale leerders by ʼn spesifieke skool geakkommodeer kan word.

Aanlynaansoeke vir die provinsie was veronderstel om reeds op 13 Mei te open, maar is op die nipper deur die departement uitgestel ná ʼn dringende versoek om dié toelatingstelsel te hersien.

Dít kom nadat AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum hul kommer uitgespreek het oor gebreke in die aanlynregistrasieplatform. Die datum van die aanlynaansoeke is eindelik ná afloop van ’n vergadering tussen die departement se senior bestuur en verteenwoordigers van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) met ʼn week uitgestel.

Lesufi het vroeër vandag gesê die departement se besluit is in die belang van die kinders van Suid-Afrika geneem. “Ons het gevoel dat ons die aanlyntoelatings moes uitstel sodat ons nie met ʼn regsgeding sit nie en tot ʼn oplossing kon kom. Ek is trots om aan te kondig dat ons dit gedoen het. Daar is geen hangende regsake teen ons nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Goed en wel, maar net sekere ouers gaan die moeite doen om hul kinders voortydig te registreer. Die res sal bloot in Januarie 2020 opdaag en eis dat hul kinders toegelaat word. So kry ons n herhaling van Schweizer Reneke en daardie skool naby Vereeniging twee jaar gelede. Nice try. Lesufi is nou maar eenmaal n nar en klaar!

Andreas ·

Nou is ek baie tong in die kies as ek vra: “Lesufi, hoekom?”

Ek kon dit darem nou nie weerstaan nie.

Andreas ·

Gautengse aanlynskoolaansoeke wat die nuwe taalbeleid insluit open Maadagoggend na dit ‘n week uitgestel is, maar Lesufi sê die besluit om dit met ‘n week uit te stel is in belang van Suid-Afrika geneem.

So hulle neem ‘n besluit wat net op Gauteng van toepassing is, want dis al gebied waaroor hulle daar seggenskap het, elke haan op sy eie mishoop, maar hy sê dis in die belang van die kinders van SA geneem.

Is Gauteng nou die hele Suid-Afrika, is dit hoe ver Lesufi se invloed strek?

moedertaalonderrig ·

Die kwessie van die “toelatingsbeleid”. Alle skole in SA word tog deur beleide bestuur, anders verstaan jy nie wat die doel van beleide in skole is nie. Dit is tog om orde te verseker of dit nou in ‘n vak, sport, akademie, kultuur en ook by die toelating van leerlinge is, waarvan die taalbeleid ‘n komponent is. Die leerling se vermoe om die onderrgtaal van die skool te gebruik is van kardinale belang .

Hoe op aarde kan jy ‘n kind in ‘n skool toelaat as hy/sy nie die onderrigtaal van die skool magtig is nie? Verstaan die departement wat opvoedkundigverantwoordbare begindels in onderwys is? As die departement bang is dat daar skole is wat leerlinge wegwys op grond van kleur, terwyl die leerder die onderrigtaal van die skool magtig is, moet daar ondersoek ingestel word.

Maar om te se dat daar “vir die eerste keer in die geskiedenis van die land geen skool is wat ‘n toelatingsbeleid het nie” is ‘n halwe waarheid en baie verwarrend. Dit skep valse hoop by die oningeligte ouer.

Moedertaalonderrig is ‘n kultuuropdrag en die wat dit nie verstaan nie, hoort nie in die onderwys nie, omdat diegene ‘n onopvoedkundige motief het wat verdere chaos die skole gaan veroorsaak.

Andreas ·

Ek wil my oë uit hul kaste tjank oor mense wat in poste aangestel is. Goeie genade, waar begin mens die wiel her-ontwerp, by die vellings, so daar van die buitekant af? Cyril stel nou maar ‘n kabinet saam ….. en dit van hoeveel mense? Asof dit nou ‘n begin is. Die termiete het dan die hele wiel opgevreet.

sweis ·

Lezufi het n probleem met afrikaanse skole ,die skole in die townships staan leeg maar hy gee nie aandag daaraan nie .Die Gauteng departement huur duisende taxi’s om kinders van ver af aan te ry ,geld wat beter bestee kan word om skole op te knap,hy kan sy bes doen om afrikaans te probeer uitwis hy sal geen sukses hê nie.Elke kind het die reg om onderrig in sy moedertaal te ontvang.

Gert van Wierdapark ·

Sien is glo! Dit lyk na ‘n “crash”/ongeluk om te gebeur met ons mini-ster Lesufi aan die los-stuur van sake

Lord Oom Piet ·

Lesufi was andermaal baie vokaal oor die stuit van die “rassiste”, tydens vandag se baie lang nuuskonferensie- n baie duidelike verwysing na Fedsas, Afriforum en die onderwysvakbond. Ooglopend geniet hy om sy eie stem te hoor.

Hy noem egter niks van sy eie faling in die aanbou van honderde nuwe skole gegewe die enorme bevolkingsaanwas, of oor die disfunksionele swart skole wat leegloop onder sy administrasie nie.

Oud Onderwyser ·

Hoeveel Afrikaanse skole is oor? Hoeveel Zoeloe, Xhosa en ander skole is daar. Waarvoor is Lesufi bang? Of is dit maar net om Afrikaans te probeer onderdruk? Of is dit omdat wit onderwysers hul werk doen en ouers dus meer vertroue in skole het waar die meerderheid onderwysers wit is?

Sarel ·

1. Wat van die ouers wat nie toegang tot die tegnologie het nie. 2. Help nie skole word gebou en geen onderwysers .

Janine ·

Ek sit nou op die stelsel…wat ‘n nagmerrie…haak nou al 5 minute vas net om my naam te kan intik.

anneke ·

Registrasie proses het my vanoggend 10 min gevat, Hats off vir wie ookal die stelsel verbeter het dat daar soveel meer “traffic” hanteer kan word as vorige jare.

moedertaalonderrig ·

Nou bodder Lesufi met Afrikaans as voertaal en trek die integriteit van die Afrikaanssprekende ouers wat hulle kinders in hulle moedertaal wil laat onderrig in twyfel.

Sy argument “Waarom nog veg vir Afrikaans”, terwyl daar nie eers meer Afrikaanse Universiteite oor nie is leuens en laat ‘n wrang smaak in die mond (Beeld 20 Mei 2019). Sy aantyging teen die “SAOU” en “SOS” is verregaande.

Daar moet ‘n wettige manier wees om Lesufi te stop om oningeligte uitsprake te maak. As hy uit onkunde praat het suksesvolle skole die verantwoordelikheid om hom reg te help of hy dit wil hoor of nie. As sy politieke beginsels swaarder weeg as die opvoedkundige beginsels. moet dit openbaar gemaak word al word die boodskap via hofsake oorgedra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.