Gautengse adjunkspeaker misluk in aansoek om ontslag

Nomvuyo Mhlakaza-Manamela (Foto: Gautengse wetgewer)

Vuyo Mhlakaza-Manamela, adjunkspeaker van die Gautengse wetgewer, se aansoek om ontslag is Dinsdag in die Johannesburgse landdroshof van die hand gewys.

Die politikus word daarvan beskuldig dat sy sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte verbonde aan die polisie se beskerming-en-veiligheidsdienste, in Februarie 2020 aangeval het.

Mhlakaza-Manamela staan tereg op aanklagte van aanranding en crimen injuria.

Mhlakaza-Manamela het Dinsdag weer in die hof verskyn waar die staat sy saak afgesluit het nadat Mojapelo en vier ander getuies geroep is om te getuig. Die verdediging het toe ’n aansoek om ontslag ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet ingedien.

Die landdros het egter besluit om dié aansoek van die hand te wys aangesien daar wesenlike verskille in Mojapelo se getuienis was.

Adv. Laurence Hodes, Mhlakaza-Manamela se regsverteenwoordiger, het egter aangevoer dat haar getuienis van só ’n swak gehalte was dat die selfbeskuldiging van Mhlakaza-Manamela die enigste manier sou wees waarop die staat ’n skuldigbevinding teen sy kliënt kon verseker.

Hierdie argument is egter verwerp.

Sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskerming-en-veiligheidsdienste, was swanger toe die beweerde aanranding plaasgevind het. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die landdros het verduidelik dat daar na al die getuienis as ’n geheel gekyk behoort te word, wat die getuienis van vier ander staatsgetuies insluit.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die landdros se besluit om die aansoek van die hand te wys is ’n beduidende verwikkeling in die saak. “Ons het volgehou dat Mhlakaza-Manamela ’n saak het om te beantwoord. Ons is nie verbaas nie en ons is bly dat ’n hof met ons saamstem. Ons sien uit daarna om die saak wat deur die verdediging voorgelê word, te hoor.”

Die saak is uitgestel tot 17 November.

Maroela Media het vroeër berig Mojapelo het AfriForum se privaatvervolgingseenheid verlede jaar genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik geweier het om te vervolg.

Die eenheid het namens Mojapelo vertoë aan die NVG gerig, en in Junie verlede jaar het die Gautengse direkteur van openbare vervolging die eenheid ingelig dat hy die vroeëre besluit hersien het en die saak teen Mhlakaza-Manamela weer op die rol sal plaas.

Mojapelo het getuig dat die beskuldigde in die vroeë oggendure by die huis aangekom het, met twee bottels van wat geblyk het vodka te wees. Sy het aan die hof verduidelik hoe sy erg deur die beskuldigde aangerand is nadat sy daarvan beskuldig is dat sy aan diens slaap.

’n Mediese ondersoek sou later bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het, en dat sy in daardie stadium 11 weke swanger was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Hahahahaaa, gedink omdat sy ‘n cANCer kader is sal niks van die saak kom nie! AfriForum dankie dat julle help!

JohanR ·

Ja nee as sy jou klap dan bly jy seker geklap. En nogal ‘n speaker. Kan ‘n ANC nerens neem nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.