Gautengse DA-leier bedank

DA-leier John Moodey het Woensdag bedank. (Foto: Twitter)

John Moodey, leier van die DA in Gauteng, het Woensdagoggend uit die party bedank te midde van ʼn interne ondersoek dat hy moontlik betrokke was by ʼn smeerveldtog teen sommige DA-lede.

DA-bronne het by navraag aan Maroela Media bevestig dat die aanvanklike ondersoek deur die party bevind het daar was wel substansie aan die aanklagte en dat die ondersoek op die punt was dat Moodey hom teen die aanklagte moes verweer.

Eerder as om dít te doen, het hy nou bedank, is aan Maroela Media gesê.

Moodey (62), wat verlede jaar deur die voormalige burgemeester van Tshwane, Solly Msimanga, geklop is in die verkiesing van die leier van die DA in die wetgewer, was ʼn selfverklaarde kandidaat vir die landwye leierskap van die DA. Die ander kandidate tot dusver is Mbali Ntuli en John Steenhuisen.

Hy was die afgelope 16 jaar die DA se provinsiale leier in Gauteng en die party het onder sy leierskap gegroei, hoewel dit in verlede jaar se verkiesing effe agteruit geboer het.

Moodey het by die aankondiging van sy bedanking tydens ʼn nuuskonferensie in sy kiesafdeling, Roodepoort, gesê hy oorweeg verskeie opsies in die sakewêreld en nie-regeringsorganisasies vir sy toekoms.

Hy het nie na die klagte teen hom verwys nie, maar het gesê hy voel nie meer tuis in die DA nie en dat hy ontevrede is met die manier waarop die voormalige partyleier, Mmusi Maimane, deur die DA behandel is.

Dit is bekend dat Moodey glad nie langs dieselfde vuur sit as die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, nie.

Gerugte in politieke kringe is dat Moodey reguit op pad is na Action SA, die party van die voormalige Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba.

Die DA het Moodey se bedanking intussen as “betreurenswaardig en onnodig” bestempel.

“John het onregverdigheid oor die klagte wat hom voor ons federale regskommissie in die gesig staar, aangevoer. Ons bevestig die regte proses is gevolg, soos dit altyd gedoen word.

“Ons verwerp die bewering dat die klagte teen hom ʼn heksejag is.

“Dit is baie ongelukkig dat hy die rassekaart speel om sy besluit te regverdig en die verloop van sake te vermy,” het die DA gesê.

Die party het Moodey vir sy diens bedank en hom sterkte vir die toekoms toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

My siening ·

Bye bye kan doen sonder jou! Helen doen iets wat het jy vermag???

J ·

Helen YSTERVROU Zille is die mees suksesvolle politieke leier sedert 1994.

Helen Zille vir PRESIDENT!!!

VOETSEK MOODY!

Thelsa ·

Gisteraand op Nasionale TV erken die man in ‘n regstreekse onderhoud ” I hate women” Wonderlike leierseienskappe as jy stemme nodig het Meneer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.