Gautengse damvlakke styg met 23% in een week

Argieffoto (Foto: freeimages.com)

Damvlakke in die noorde van die land het vandeesweek weens swaar reën gestyg, maar die droogte in die Oos-Kaap bly ʼn groot bekommernis, het die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie Donderdag gesê.

Ondanks die skade wat die reën in sommige dele van die land aangerig het, het die reën die damvlakke in verskeie provinsies verbeter. Gauteng lei met ’n beduidende toename van meer as 20% in een week. Damvlakke hiér lê op 111,3% vergeleke met 88,2% verlede week, het die departement gesê.

Die departement verduidelik dat dit egter binne konteks gesien moet word, aangesien Gautengse damme wat volume betref aansienlik kleiner is as dié van die Noord-Kaap en Vrystaat.

In die Noord-Kaap lê die damvlakke op 75,3% vergeleke met verlede week.

“Ten spyte van die verbetering in sommige provinsies weens die onlangse reënval, ervaar die Oos-Kaap steeds droë weerstoestande. Die damvlakke in die streek het hierdie week van 47,6% tot 47,2% gedaal,” het die departement gesê.

Butterworth en gebiede in die Chris Hani-distriksmunisipaliteit en Joe Gqabi-gebied gaan steeds gebuk onder droogte met die Xilinaa‑ en die Gcuwadam wat leeg staan.

Die Vrystaat se damvlakke het die afgelope week vanaf 66% tot 62,3% gedaal. Die Fika Patso-dam, wat water aan die Phuthaditjhaba-gebied naby Qwaqwa voorsien, het op 37,2% gebly.

In Limpopo het damvlakke ook onveranderd op 49% gebly.

Die departement het gesê damvlakke het op nasionale vlak effens gedaal, vanaf 57,6% tot 56,1%, en waarsku dat Suid-Afrikaners versigtig moet wees met hul waterverbruik.

“Suid-Afrika is steeds ’n waterskaars land ondanks die onlangse reënval in verskillende dele van die land. Inwoners word daarom versoek om steeds water te bespaar,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Strandloper ·

Wragtig…… so bly hul het besef om die sluise toe te maak!

Robert ·

Strandloper daar is ‘n rede hoekom sekere sluise nie heeltemal toegemaak word nie, gan lees bietjie op daaroor

Twaalfboor ·

As Gauteng se damvlakke voor die rëen op 88% gestaan het, hoe het gedeeltes van Pretoria se reservoir’s dan nie water gehad nie? Of kan ons dit toeskryf aan onkundige bestuur van Tshwane?

SjN ·

Dankbaar vir die welkome reen, as die damme kleiner was, was dit nou vol volgens sekere mense.

Weet nie Meer nie ·

Die water probleem Sal baie kleiner wees as mense aan die stuur het wat weet wat hulle doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.