Gautengse gesondheidsdepartement onderbestee R631 miljoen

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Ten spyte van enorme agterstande en gebrekkige dienslewering, het die Gautengse gesondheidsdepartement R631,4 miljoen van sy begroting vir die 2018-’19-boekjaar onderbestee.

Die bedrag het tydens ʼn vergadering van die Gautengse wetgewer se gesondheidskomitee aan die lig gekom, het Jack Bloom, ʼn DA-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, gesê.

Die grootste sondaar was die distriksgesondheidsdienste, wat R823 miljoen rand onderbestee het en dit verduidelik het as “weens vertragings in die vrystel van betalings”.

Hoewel talle hospitale sukkel met stukkende toerusting, is R504 miljoen onderbestee aan masjinerie en toerusting, het Bloom gesê.

Die nooddienste het versuim om R153 miljoen te bestee weens “die vertraging in die vul van vakante poste, asook die vrystel van betaling aan vlootdienste”.

Ander dele van die begroting is egter hopeloos oorskry, wat dui op swak finansiële dissipline, het Bloom gesê.

“Provinsiale en sentrale hospitale het R703 miljoen oorbestee en altesaam R283 miljoen is aan administrasie oorbestee weens eise teen die staat wat betaal moes word.”

Bloom sê die nuwe Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku, moet verseker vanjaar se begroting van R50,8 miljard word doeltreffend aangewend, sodat gehalte gesondheidsorg in die provinsie gelewer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Is die syfers reg? Dit klink na ‘n warboel van ‘n som. Dalk juis hoekom die stelers deurmekaar geraak het met die kook van die syfers. Oppas net vir die delete-sleutel… dis giftig!

Wonder Maar Net ·

Is dit die rede vir die nie beskikbaarheid van sekere medikasie nou al vir 2 maande by Staatshospitale en Klinieks?
Dit raak by die dag erger, aangesien pasiënte blykbaar ook nie hulle volle voorgeskrewe hoeveelheid medikasie ontvang nie. As dokter byvoorbeeld 30 voorskryf, word slegs 10 aan pasiënt uitgereik…. “Call backs” help nie, want daar is doodeenvoudig nie voorraad beskikbaar nie.

Aptekers en personeel is raadop. Dit is buite hulle beheer, maar word deur sommige pasiënte behandel asof dit hulle skuld is.

Wat ís die eindelike rede en vir hoe lank gaan dit aanhou?

Alle Apteke buite die Staat het voorraad, so hoe is dit moontlik dat die Staat nie voorraad het nie? Gaan dit uitgerek word wanneer mense begin sterf as gevolg van die nie-gebruik van chroniese medikasie wat nie beskikbaar is vir chroniese toestande? Daar is mense wat werkloos is en doodeenvoudig nie fondse beskikbaar het om chroniese medikasie self aan te koop nie.

Wonder maar net…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.