Gautengse LUR ook op verpligte verlof ná korrupsiebewerings

Bandile Masuku (Foto: Bhekikhaya Mabaso African News Agency)

Die ANC se leierskap het versoek dat die Gautengse LUR van gesondheid, Bandile Masuku, en sy vrou, Loyiso, op verpligte tydelike verlof geplaas word nadat bewerings oor onreëlmatige tenders in die Gautengse departement van gesondheid onlangs die lig gesien het.

Jacob Khawe, die provinsiale sekretaris van die ANC in Gauteng, het Donderdag gesê die regerende party se provinsiale uitvoerende komitee voel dat dit net regverdig sal wees vir die LUR en sy vrou om tydelik hul pligte te laat vaar, nadat die woordvoerder van die president, Khusela Diko, vroeër vandeesweek op verpligte verlof geplaas is.

Diko het tydelik haar pligte in die parlement gestaak, nadat haar man betrek is by beweerde onreëlmatighede in die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE).

Hoewel Masuku voet by stuk hou dat die bewerings vals en ongegrond is, het die komitee besluit om die LUR en sy vrou op verpligte verlof van tussen twee en vier weke te plaas. Dít is hoe lank dit waarskynlik sal neem vir die spesiale ondersoekeenheid (SOE) om die ondersoek na die bewerings af te handel, het Khawe verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig  ʼn ondersoek na twee tenders van die Gautengse departement van gesondheid is onlangs van stapel gestuur. Die tenders, wat later gekanselleer is, was vir die verskaffing van PPE aan Royal Bhaka Projects. Diko se man is ʼn direkteur van dié maatskappy. Diko is self ook ʼn lid van die Gautengse provinsiale uitvoerende komitee.

Sunday Independent het verlede week onthul dat Madzikane Diko se maatskappy ʼn PPE-tender ter waarde van R2,2 miljard ontvang het. Dit is deel van ʼn tender wat aan 75 maatskappye toegeken is. Royal Bhaka Projects het kontrakte ter waarde van R47 miljoen en R78 miljoen ontvang.

Die pryse vir die toerusting wat Diko se maatskappy verskaf het, is onreëlmatig verhoog.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Masuku se vrou goeie vriendinne is met een van die vroue van die Amabhaca-koningshuis en dat hulle selfs bruidsmeisies op mekaar se troues was.

Khawe het nou gesê dat ANC-leiers te alle tye daarop bedag moet wees dat hul optrede ʼn invloed op die party se reputasie het.

“Die objektiewe werklikheid is dat ons mense vertroue verloor in ons vermoë en toewyding om korrupsie te hanteer,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

En nou sit hulle lekker by die huis, doen niks en verdien nog steeds ‘n VET salaris, wat ons moet betaal!!!!

Misky ·

Ja Anel en INDIEN (en dit sê ek baie sarkasties en met klem), gaan niks inelkgeval gebeur met hulle nie

Hennie J ·

Eish, nou brand iemand se vingers van n warm kasregister. Wonder wie het geklik?

Kiewiet ·

Ag mamma, kyk die onskuldige gesiggie. Shame. Innocent until proven guilty?

Nie Verbaas ·

Ag hulle hoef nie bekommerd te wees nie, niks sal met hulle gebeur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.