Rand Water sê een van sy pompstasies werk in hierdie stadium net teen meer as die helfte van sy gewone kapasiteit, nadat drie motors wat gebruik word om die pompe aan te dryf, die naweek ontplof het.
Die pompe by Rand Water se Palmiet-aanjaagpompstasie is in hierdie stadium onbruikbaar.
Die nutsmaatskappy sê die oorsaak van die ontploffing is nog onduidelik, maar ʼn ondersoek daarna is reeds van stapel gestuur.
Herstelwerk aan die beskadigde infrastruktuur word tans op ʼn noodgrondslag gedoen.
“Die pompstasie werk tans teen 55% van gewone daaglikse kapasiteit. Die voorval het gelei tot die vermindering van reservoirvlakke in die Palmietstelsel,” lui ʼn verklaring van Rand Water.
Die probleme sal die metrorade van Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane raak.
“Rand Water werk onophoudelik om herstelwerk te doen en gewone toevoer te herstel. Die geraamde tyd vir die werk om afgehandel te word, is tans onbekend.”
Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, het ʼn beroep op inwoners gedoen om hul waterverbruik te verminder om tekorte te voorkom.
“Rand Water het benadruk dat indien daar nie gehoor gegee word aan die oproep om waterverbruik te verminder nie, daar nie genoeg water vir munisipaliteite gaan wees nie en reservoirs gaan opdroog.
“Uiteindelik gaan die stad se reservoirvlakke ook daal en uiteindelik opdroog – ʼn situasie wat tot onvermydelike watertekorte gaan lei.”
Mashigo sê inwoners moet ook in gedagte hou dat die waterbeperkings wat vantevore in werking gestel is, nooit opgehef is nie en steeds geld.
Ingevolge die maatreëls kan inwoners onder meer nie hul tuine tussen 06:00 en 18:00 met ʼn tuinslang of sprinkelstelsel natmaak nie, swembaddens kan nie opgevul word nie en voertuie moenie met tuinslange of hoëdrukstelsels gewas word nie.
Johannesburg Water sê watertenks sal beskikbaar gestel word in gebiede wat tekorte ondervind.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Siestog – hoëdrukstelsels vir motorwas gebruik net 12% van die gewone wasproses
Sabotasie? Dis die eerste ding wat in my gedagtes opkom.
Waarskynlik geen normale instandhouding gedoen vir jare nie. Soos met Eskom se kragstasies.
Voorkomende onderhoud is ‘n uitheemse konsep vir our people. Wag tot dit breek en stel ‘n kommittee aan om dan te vergader en te besluit wat om te doen. Twee weke later…….
En so val die bus se wiele uit agv onbevoegdheid