Gautengse onderwysdepartement begin met plasings by skole

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Element5 Digital/Unsplash.com)

Die Gautengse onderwysdepartement sê hy het begin met die plasing van voornemende graad 1- en graad 8-leerders vir aanstaande jaar.

Talle ouers is op hete kole oor dié plasings.

“Aanbiedinge vir plasings gaan nié op dieselfde dag aan alle ouers gestuur word nie. Die departement verwerk die aansoeke stelselmatig in ooreenstemming met die bepalings vir toelating,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

“Ouers van leerders wat die vereiste dokumente ingedien het, kan van Woensdag 18 September tot 31 Oktober vanjaar aanbiedinge via SMS verwag.”

Die eerste aanbiedinge word gedoen aan aansoekers wat die naaste aan die skool én binne die voedersone woon; leerders wat ʼn broer of suster in dieselfde skool het, óf aan diegene van wie die werkplek van minstens een ouer in die voedersone van die skool is.

Ouers moet die aanbod binne sewe skooldae aanvaar. Die eerste aanvaardings moet dus al teen 8 Oktober gedoen word. Skole sluit op 20 September en heropen weer op 1 Oktober, maar die skoolvakansie word nie ingereken as deel van die sewe skooldae nie.

“Ons doen ʼn beroep op ouers om kalm te bly indien ʼn aanbod nie dadelik ontvang word nie. Dit is belangrik om kennis te neem dat die kapasiteit van elke skool bepaal hoeveel aansoekers aanbiedinge vir plasing ontvang en hoeveel leerders uiteindelik by ʼn skool toegelaat gaan word,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, gesê.

Maroela Media het vroeër berig verskeie skole het gekla oor teenstrydighede en onreëlmatighede in die plasingslyste wat die departement aan hulle voorsien het. Die departement het Dinsdag gesê die SMS’e vir plasing by 12 skole word intussen teruggehou, tot probleme met dié skole se lyste uitgestryk is.

Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê hulle werk nou saam met die departement en skole om probleme uit te stryk.

Hy het ook gesê daar is in dié stadium geen rede tot paniek as ouers nog nie ʼn SMS met ʼn aanbod ontvang het nie. Dit is ook beter om enige tegniese probleme uit te skakel voordat SMS’e uitgestuur word.

“Daar is amptenare wat regtig hard werk om die regte oplossings vir kinders te vind,” het Deacon gesê.

Hy het ook gesê aansoekers is nie net aan die genade oorgelaat van ʼn rekenaar wat leerders indeel nie – sou ʼn ouer ontevrede wees met die aanbod, is daar onder meer ʼn appèlproses wat gevolg kan word.

Deacon het gesê die aantal leerders in vergelyking met die aantal skole wat in die provinsie beskikbaar is, bly egter steeds een van die grootste uitdagings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Hoekom is dit net alyd die Gauteng onderwysdepartement wat in die nuus is? Ek kan verkeerd wees, maar kan nie onthou dat die agt ander onderwysdepartemente veel in die nuus is nie. Meen dit dat hulle almal hulle werk doen sonder om altyd ‘n groot gedoente in die media daarvan te maak?

Stormjaers ·

Dit is net lesufi wat dit hier doen. Dit is sy haat vir Afrikaans wat hom so gevaarlik maak. die ander provinsies laat die ouers self kies.

lanie ·

Geld die konsep van waar jy bly is die voeding van die skool naaste aan jou area waar jy bly nie. Vra maar net.

Andre ·

Lesufie se plan om skoole op dieselfde standaard te bring deur die bank…… n lae een

Dink dis tyd om te kyk na Private Afrikaanse skoole , vir alle afrikaanssprekendes , dan verlos ons ons kinders heeletemal van die Staat se swak standaarde af . dit en afrikaanse hospitaale

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.