Gautengse ouers moet gou spring vir skoolplasings

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

AfriForum het die ouers van voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders in Gauteng aangeraai om die aanlyn registrasieproses hiervoor so gou moontlik af te handel om te verseker hul kinders word in die skool van hul keuse geplaas.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het Sondag die registrasieproses bekend gestel.

Die 2024-aansoekproses skop op 15 Junie af en aansoeke sluit op 14 Julie om middernag.

Ouers het dus ʼn maand om hul aanlyn aansoeke in te dien.

Aansoeke vir albei grade word gelyktydig ingedien en die eerste plasings word vanaf 4 September bekend gemaak. Ouers is gevra om aanbiedinge so gou moontlik te aanvaar sodat ruimte vir ander in die stelsel geskep kan word.

Ouers kan op die aanlyn stelsel uit die lys van 11 amptelike tale ʼn voorkeurtaal aandui. Die stelsel sal leerders dan groepeer vir plasing by skole wat dié voorkeurtaal aanbied.

Chiloane het benadruk dat ouers moet verseker dat hulle die regte kontakbesonderhede gee en dat die selfoonnommer wat hulle verskaf, aktief bly tot hulle bevestiging ontvang het dat hul kinders geplaas is. Hy het ook gewaarsku dat ouers met kinders in gr. R nie moet aanvaar dat hul kinders outomaties in gr. 1 by dieselfde skool geplaas sal word nie; hulle moet steeds aansoek doen om plasing.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sê dit is verblydend dat aansoekers vir gr. 1 en gr. 8 ’n keuse vir onderrigtaal kan uitoefen en graad 8-aansoekers ook vir ’n addisionele taal.

“Chiloane se antwoord op ’n vraag uit die gehoor dat die departement wil sien dat enkelmedium Afrikaanse skole dubbel- of parallelmedium onderrig moet aanbied, is wel uiters problematies en AfriForum sal enige stappe om die skole in dié rigting te dwing, teenstaan,” sê Bailey.

Sy sê ʼn belangrike verbetering van die proses is dat daar vanjaar slegs een aansoekproses is. Verlede jaar is kinders in openbare skole eerste toegelaat om aansoek te doen, en kinders buite die openbare skoolstelsel, eers later. Vanjaar kan alle aansoekers gelyktydig aansoeke indien, wat veel meer regverdig is.

“Dit is ook welkom dat die skool waarin sibbe van die aansoeker is en ouers se werkadres, benewens die woonadres, ook vir plasing in skole oorweeg sal word. ’n Keuse kan vir drie tot vyf skole uitgeoefen word, met voorkeur in die eerste drie keuses vir ouers of voogde se woonadres,” sê Bailey.

Die LUR se waarskuwing dat skole eers aansoek moet doen vir goedkeuring as ruimtes in skole vir spesiale dienste aangewend word (in plaas daarvan dat dit as klaskamers gebruik word), is na Bailey se mening ook kommerwekkend.

In die verlede het die departement pogings aangewend om kinders in vol skole in te dwing omdat ruimtes soos laboratoriums en biblioteke as klaskamers beskou is. AfriForum sal ook in dié verband verseker dat in die belang van skole en leerders opgetree word.

“Dit is algemeen bekend dat daar te min skole in Gauteng is en hierdie probleem moet voor die deur van die Gautengse departement van basiese onderwys gelê word. Chiloane het genoem dat meer skole gebou gaan word om hierdie tekort te takel, maar het nie uitgebrei oor hoeveel aanvullende skole in 2024 gereed sal wees nie.

“Om dié rede is dit noodsaaklik dat kinders vinnig ingeskryf moet word. AfriForum wil ouers ook weer herinner aan die reusevoordele wat moedertaalonderrig inhou. Hulle moet dit in gedagte hou wanneer hulle ’n besluit neem oor die skool waarby hulle hul kinders wil inskryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

skurweberg ·

Kom ons verander ons argument oor te min skole na daar is te veel mense. Dit sal ‘n verdere en nodige argument in hierdie land laat plaasvind.

Matmiet ·

Hierdie is die mees belaglike stelsel wat die regering gebruik om mikrobestuur toe te pas ne om die beluite van ouers oor hulle kinders se opvoeding te probeer manupileer. Dit het verlede jaar veroorsaak dat sibbe nie in dieselfde skool geplaas is nie. Hierdie sisteem is ‘n euwel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.