Gautengse premier herstel van Covid-19

David Makhura, Gautengse premier. (Foto: Jacques Naude/ANA)

David Makhura, Gautengse premier, en verskeie ander hoës in die provinsiale wetgewer het intussen herstel van Covid-19.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die premier, het Donderdag in ʼn verklaring gesê Makhura het herstel van die nuwe koronavirus nadat hy 14 dae lank in selfisolasie was.

“Premier Makhura het vandag weer sy amptelike pligte en die stryd teen die Covid-19-pandemie in Gauteng hervat. Sy primêre fokus is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp en meer lewens te red,” het Mhaga gesê.

Volgens Mhaga is Tasneem Motara, LUR van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng, prof. Mkhululi Lukhele, hoof van die Gautengse departement van gesondheid, en lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, ook weer op hul pos nadat hulle Covid-19 opgedoen het.

Gauteng is tans die episentrum van Covid-19 met 144 582 bevestigde gevalle tot op hede in dié provinsie aangemeld. Altesaam 1 156 pasiënte in Gauteng het reeds weens die nuwe koronavirus omgekom.

“Terwyl ek diep bekommerd is daaroor dat Gauteng nou die nuwe episentrum is, glo ek dat ons die pandemie kan vertraag en meer lewens kan red deur middel van meer wyksgebaseerde en gemeenskapsgerigte Covid-19-reaksiespanne. Ons moet saamwerk – die regering, die burgerlike samelewing en gemeenskappe,” het Makhura gesê.

Makhura het vroeër vandeesmaand matige simptome getoon waarna hy op 9 Julie besluit het om in selfafsondering te gaan en hom te laat toets. Die premier se toetsuitslae het positief teruggekom.

Maroela Media het vroeër berig die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het dieselfde week bevestig dat hy Covid-19-positief is en in selfisolasie is. Sy aankondiging het gekom ʼn dag nadat die premier van Noordwes, Job Mokgoro, ook bevestig het dat hy die siekte opgedoen het.

Mokgoro is aanvanklik in ʼn hospitaal opgeneem maar intussen weer ontslaan.

Nie Winde óf Mokgoro het al aangedui wat hul huidige prognose is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

En? Nie asof hy iets bydra tot die effektiewe bestuur van ‘n land nie? ASKUUS….hy doen juis! Alla ANC anargie staat.

marius ·

Sy primers doel moet wees om die Vaalrivier skoon te maak ….met ‘n swembad net .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.