Gautengse raadslid vermoor: Verdagte vra nie borgtog

Mapiti Matsena (Foto: Verskaf)

ʼn Verdagte het vroeër vandag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn in verband met die onlangse moord op Mapiti Matsena, voorsitter van Gauteng se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het in ʼn verklaring gesê Monoko Francis Thoka (29) is onlangs in hegtenis geneem in verband met die moord op Matsena. Hy het vandag op aanklag van moord met voorbedagte rade in die hof verskyn het.

Volgens Mabe het Thoka in die hof aangedui dat hy nié aansoek om borgtog gaan doen nie. Thoka sal na verwagting weer op 24 Augustus in die hof verskyn. Hy bly tot dan in aanhouding.

Monoko Francis Thoka in die hof (Foto: ANA)

Maroela Media het vroeër berig Matsena is verlede week in sy huis in Doornpoort in die noorde van Pretoria vermoor.

“Die moord op kameraad Mapiti het die ANC en almal wat lief is vir vryheid in Suid-Afrika platgeslaan. Die inhegtenisneming van die vermeende oortreder stuur ʼn duidelike boodskap aan die algemene publiek dat ons wetstoepassingsagentskappe geen steen onaangeroer sal laat om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir hierdie barbaarse misdaad die volle mag van die wet sal ervaar nie,” het Mabe gesê.

Die Jong Kommunisteliga van Suid-Afrika (YCLSA) het intussen ook sy woede oor die moord op Mapiti uitgespreek.

“Ons het nie altyd met kameraad Mapiti saamgestem nie, maar ons kan bevestig dat hy ʼn toegewyde kader van die beweging was en dit is hartseer dat ons hom op hierdie grusame manier verloor het,” het Kgabo Morifi, provinsiale sekretaris van die YCLSA, gesê.

Volgens brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, was Matsena saam met sy vrou en seun in die huis toe ’n aanvaller Woensdagaand teen 22:52 toegang tot sy huis deur ʼn oop glasdeur verkry het. Die aanvaller het Matsena in sy slaapkamer oorval en met ʼn skerp voorwerp in sy bors gesteek. Matsena se vrou en seun het ongedeerd van die voorval afgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TO ·

Heng maar dis wonderlik hoe vinnig party mense se moordenaars opgespoor word. NIE ‘N WERK. Wys jou net selfs in polisie gaan dit oor hoeveel status en geld jy het. Ek wag al 12 jaar

Cherokee ·

Dit mag interessant wees indien ‘n verteenwoordiger van ‘n opposisieparty jou stelling in die kabinet as ‘n vraag opper. Nè Pieter Groenewald? Dit kan ‘n interessante gesprek oplewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.