Gautengse regering wil héle openbare vervoerstelsel integreer

Pres. Cyril Ramaphosa was ure lank op ʼn trein gestrand en het eerstehands die daaglikse probleme van pendelaars ondervind (18 Maart 2019) (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die Gautengse provinsiale regering gaan binnekort die bedryf van die Metrorail-treinstelsel in die provinsie by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in die provinsie oorneem. Premier David Makhura het gesê ingevolge nuwe wetgewing mag die provinsiale regering voortaan geïntegreerde openbare vervoerstelsels bedryf.

“Prasa gaan oorgedra word na die provinsiale regering en ons gaan verantwoordelik wees vir die integrasie van Prasa en die Gautrein. Die nuwe vervoerstelsel gaan net soos die Gautrein wees wat betref standaard, doeltreffendheid, voorkoms en gevoel.”

Makhura het Dinsdag by die bekendstelling van TMH Africa se nuwe spoorvoertuigvervaardigingsaanleg gesê die provinsiale wetgewer het wetgewing goedgekeur wat die provinsie die mag gee om die passasierspoorstelsel te bedryf. Makhura het gesê dis gedoen om ʼn enkele vervoerowerheid in die provinsie te vestig.

“Dit gaan die spoorvervoerstelsel, die busse en taxibedryf saamvoeg in ʼn meer doeltreffende en betroubare vervoerstelsel in Gauteng,” het Makhura gesê.

Die Vervoergesag is verlede jaar in die provinsiale wetgewer bekend gestel. LUR vir vervoer Ismail Vadi het toe gesê ʼn wetlik saamgestelde vervoerowerheid sal ʼn regsgeldige entiteit wees wat die huidige versplinterde openbare vervoerstelsel moet hervorm. Die verantwoordelikheid vir beplanning, koördinering, verbetering, rasionalisasie en gebruik van die stelsel sal by dié owerheid berus, sodra dit aan die gang is.

Makhura en pres. Cyril Ramaphosa het verlede maand drie uur lank op ʼn stilstaande Metrorail-trein vasgesit tydens ʼn rit van 45 km tussen Mabopane- en Bosmanstasie in Pretoria. Die twee was deel van ʼn ANC-verkiesingsveldtog.

Makhura het dié ervaring as uitmergelend beskryf.

Hy het gesê die modernisering van die hele spoornetwerk is belangrik, omdat dit die basis vorm van Suid-Afrika se openbare vervoerstelsel, soos uiteengesit in die nasionale ontwikkelingsplan.

“Prasa, oftewel spoorvervoer, is in groot moeilikheid. Hy moet sy spoorvoertuie vernuwe. In dié land gebruik baie mense die spoorweë en in dié stadium is dit nie juis omdat hulle wil nie. Hulle móét, omdat dit die goedkoopste opsie is, maar dit (die spoornetwerk) is in ʼn aaklige toestand,” het Makhura gesê.

“Die grootste uitdaging is dat nie net die spoorvoertuie oud is nie, maar ook die infrastruktuur. Die sinjaalstelsel is oud, onderhoud is swak en die diens self is nie goed nie. Treine moet die voorkeurreismetode wees, veral oor lang afstande,” het Makhura gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andreas ·

Elon Musk ….. waar is jy?
Hellllllllp!
Sommer met batterye ook.

Katryn ·

Wat ‘n grap! Hierdie spul kan nie eers skole, hospitale en die omgewing behoorlik bestuur nie. Met al die burokrate in beheer gaan die vervoer netwerk tot stilstand kom.

Koos ·

Wil ek nog sien of die base van PRASA aan die een wil byt.
Ons weet mos nou al dat ou David Makhura praat sonder om met sy regering te praat. Etol is ook mos volgens hom gestop.
Politieke beloftes, dis al, en dis waar dit sal bly!

Grietjie ·

Hulle kan nie eers die netwerk instand hou nie of keer dat treine gebrand word nie. Ek hoop hulle weet wat hulle wil doen en hoe om dit te doen.

jakes ·

Ja alles oorgeneem van apartheids regering, geen instandhoudings werk of opgradering, dieselfde as Eskom. Ons kom nou eers agter dat alles oud is. Grappie.

Diefie ·

Die Spoorweë (hoender) is om oor te ween! Nou dat die hoender uitmekaar geruk is, wil die regering nou die bene uit die stukkies hoendervleis ook uitruk. Gin wonder die hele spoorweë is in sy maai.

Johan Bierman ·

Die die DA dieselfde wou doen in die Kaap, het die ANC blou moord geskreeu. Nou wil hulle dit in Gauteng doen. Alles vir net ‘n bietjie meer geld in hulle sak. Die ANC is glad nie in beheer van die land nie, net rampokkers, Nou gaan hulle die selfde doen as wat hulle met die EFF gedoen het. “This was our idea from the start, i can promise everyone, it will be only the elite group of the ANC and there families that will get more rich out of this clever plam of the ANC, p.s NO white people will be allowed to to steal with us, you can be lucky we still allow you with and Indians in our country! I want the money for the ANC elections and my 50 children need a new car, but dont worry, not very expensive. Maybe only 50 Ferrari’s.

Sirkus ·

Ek glo nie dis in landsbelang nie. Die Russe belê miljoene in TMH AFRICA. Hulle weet nog nie wat gaan gebeur nie. As dit nie so hartseer was nie, kon ons lekker gelag het.

Petro ·

Ag my liewe hemel… Los net die Gautrein uit… Dis omtrent al wat werk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.