Gautengse skole: Meer aansoeke as plek

Panyaza Lesufi tydens Sondag se mediakonferensie, (Foto: Verskaf)

Plasingsaanbiedinge word van Maandagoggend via SMS aan Gautengse ouers gestuur. Dié aanbiedinge sal oor die volgende twee maande deurlopend aan ouers gestuur word met die laaste wat einde November verwag kan word.

Plasingsaanbiedinge moet binne sewe skooldae aanvaar óf verwerp word.

Ouers moet egter daarop voorbereid wees dat hul kinders moontlik nié in die skool van hul keuse plek gekry het nie, het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Sondag gewaarsku. Dit is volgens hom weens Gautengse skole se beperkte kapasiteit.

Die LUR het vanoggend tydens ’n mediakonferensie gesê die provinsie het te min skole met talle skole wat onder groot druk verkeer. Dít sluit in Laerskool Akasia in die noorde van Pretoria wat kapasiteit het vir 255 gr. 1’s maar 1 538 aansoeke ontvang het.

Hoërskool Langehoven het 2 607 aansoeke ontvang, maar het slegs plek vir 300 gr. 8’s.

Lesufi het daarop gewys dat veral skole in Alberton aan die Oos-Rand nie kan byhou nie. Alberton High School het 2 488 aansoeke ontvang, maar kan slegs 210 leerders akkommodeer terwyl Stoneridge Primary School 882 aansoeke ontvang het maar slegs 240 kan aanvaar.

Die LUR het ook daarop gewys dat Parktown Boys’ High in Johannesburg 2 328 aansoeke ontvang het. Dié spogskool het egter net plek vir 152 gr. 8’s.

Lesufi het egter sy versekering gegee dat elke leerder voor die komende skooljaar geplaas sál word.

Rekordgetal aansoeke ontvang

Lesufi het daarop gewys dat sy departement vanjaar ’n totaal van 764 062 aansoeke ontvang het. Dit is die meeste aantal skoolaansoeke nóg sedert die begin van die departement se aanlyn aansoekstelsel in 2016.

Die rekordgetal aansoeke kom neer op 332 477  leerders wat voor die komende akademiese jaar in ’n skool in Gauteng geplaas moet word – 157 697 gr. 1’s en 174 780 gr. 8’s.

Die departement beoog om skole van mobiele klaskamers te voorsien in ’n poging om meer leerders te akkommodeer. Daar sal ook geld aan sommige skole beskikbaar gestel word sodat hulle hul eie klaskamers kan oprig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Snowball ·

Beperkte kapasiteit is onaanvaarbaar – jy en jou korrupte maatjies is verantwoordelik vir die bou van nuwe skole in verhouding met die bevolkingsaanwas; hulle noem dit strategiese beplanning. As jy minder vuisklap insidente najaag om jou rassistiese agenda te kan bevorder, kan jy dalk tyd spandeer om kwaliteit onderwys aan kinders te verskaf.

007 ·

En hoeveel skole het jy gebou Lesufi? Los die Afrikaanse skole uit en bou nuwe skole sonder Afrikaans.

Lillian ·

Ja as julle nie skole toe gemaak het en die geboue so laat verval het tot ruïnes nie was daar nou genoeg plek vir al die kinders.

Boatsie ·

Hy maak sy naam net slegter en slegter. Eintlik verkondig hy op sosiale media dat hy versuim het om sy werk te doen en nie skole te bou nie.
Sotlik verby

Nie Verbaas ·

Ai ou Lestofie. Besef jy na 30 jaar eers dat daar te min skole is? Mens sou nooit kon dink met n jaarlikse verhoogde populasie dat meer skole nodig is nie, nê Lestofie? Ons weet dit is te veel gevra. Hoekom bou julle nie nog een klaskamer “skole” teen n verminderde koste van so R80 miljoen nie? Julle is mos bekend vir die dienslewering.

Casper ·

Dit is kommerwekkend dat daar te min skole is in Gauteng.Ek wonder hoe gaan dit in die ander provinsies.Is dit daar ook die geval.

JohanR ·

Ek wonder as ons eendag terug kyk na die bewind van die ANC in SA of Lesufi die top 5 lys sal maak, of miskien boaan as die mees nuttelose ANC kader!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.