Gautengse skole: OB moet aanlyn registrasiestelsel bekyk

Die VF Plus het vandag die Openbare Beskermer (OB) gevra om die aanlyn registrasiestelsel van die Gautengse Onderwysdepartement te ondersoek.

“Die stelsel is duidelik ʼn ideologies gekonseptualiseerde poging van (Gautengse LUR Panyaza) Lesufi om sy departement se mislukkings te probeer verdoesel, waaroor die VF Plus onlangs breedvoerig in mediaverklarings verslag gelewer het,” het adv. Anton Alberts, VF Plus se leier in Gauteng, Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Ouers moes in Mei aanlyn aansoek doen om plek in Gautengse skole vir gr. 1’s en gr. 8’s. Maroela Media het vroeër berig dat die stelsel in chaos gedompel is en dat duisende leerders nog wag op plek. Woedende ouers het Sondag die departement se kantore in Johannesburg bestorm en geëis dat hul kinders onmiddellik geplaas word.

“Die belangrikste aspek van die mislukkings is die departement se onvermoë of beplande onwilligheid om sy begroting aan te wend om skole te bou,” sê Alberts.

Dit het boonop onlangs aan die lig gekom dat die departement R1,2 miljard van sy begroting onreëlmatig bestee het in die 2018-’19-boekjaar. Dit hou verband met die toekenning van tenders vir ʼn skoolvoedingsprojek wat in Desember 2016 toegeken is en eers oor twee maande verstryk. Daarbenewens het die departement in die vorige boekjaar meer as ʼn miljard rand onderbestee.

“Die netto-effek hiervan is dat nuwe skole nie gebou word nie en reeds vol Afrikaanse skole gedwing word om anderstalige leerders in te neem omdat hulle nie ʼn ander heenkome het nie,” sê Alberts.

In die VF Plus se klag aan die OB word onder meer aangevoer dat die algoritme vir die aanlyn stelsel se sagteware só geskryf is dat dit Afrikaanssprekende leerders doelbewus in Engelse skole plaas om sodoende plek te maak vir anderstalige leerders in Afrikaanse skole. Carien Bloem, AfriForum se koördineerder vir onderwys, het Dinsdag gesê dat talle skole plasingslyste van die departement ontvang het wat glad nie met hul eie lyste ooreenstem nie.

Die VF Plus is van mening dat die vergrype van só ʼn ernstige aard is dat dit strafregtelike ondersoeke regverdig en die OB word in die klag gevra om hieroor uitsluitsel te gee.

“LUR Lesufi se openlike vyandigheid teen Afrikaans en Afrikaanse skole is lank reeds duidelik en dit is tyd dat die ANC teen hom optree. Aan die een kant bepleit pres. Cyril Ramaphosa samewerking en eenheid, maar aan die ander kant laat die regering iemand soos Lesufi toe om ʼn openlike geveg met die Afrikaanssprekende gemeenskap te voer,” sê Alberts.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

thelsa ·

Aanlynregistrasie : Nog nooit het so baie mense so lank gewag vir so min resultate nie.
Langenhoven het nie verniet gesê : Hoe hoer ‘n aap teen die berg uitklim hoe meer van sy agterend sien jy.

Snaaks ·

Ek gaan daai een onthou! Lesufi is te besig om ou landsvlae te soek as om sy werk te doen

Arak ·

Dalk moet ons dankbaar wees dat Lesufi so totaal onbevoeg is en dat die mense wat hy aanstel net so is, want gestel die man was bevoeg, dan het hy dinge baie meer subtiel gedoen en sodoende die Afrikaanse skole stelselmatig gekelder. Nou, deur sy duidelike Afrikaner haat en onbevoegdheid kan ons hom direk aanvat. Dit is waar die uitspraak teen Afrikaans op universiteite baie meer subtiel, slu en agterbaks is. Hoewel ek nie tyd het vir Lesufi nie, weet ons ten minste waar ons met hom staan, anders as Cyril wat iets voorgee terwyl sy haat en afguns nog baie dieper strek.

Prok ·

CVO skole het plek vir jou kind! Jou kind kry Bybelonderrig as ‘n verpligte vak tot in gr 12 en jy weet met sekerheid dat jy jou doopbelofte nakom.

TDW ·

Ons moet as ‘n volk saamstaan met hierdie een. Hierdie gaan vinnig na ander dorpe en stede oorgaan. Die wat nou dink “gelukkig is dit nie ons nie”, as julle nie nou die gautengers help nie, gaan dit blitsvinnig julle ook wees.

My Opinie ·

Dis nie eers nodig om die OB in te roep nie.
Die stelsel werk duidelik nie.

Riette ·

Die OB het soveel sake waarvan ons net van die mees “opspraakwekkendes” gereeld in die nuus lees.
Hoeveel van hul sake word werklik opgelos, dit voel vir my dat sake sloer en sloer en niks daarvan kom nie?
Die Zondo kommissie was baie populêr toe dit begin…..en nou…..hoeveel meer getuies word geroep?
Hoe lank gaan dit duur voordat dié wat alreeds direk uitgewys is met genoeg bewyse om gearesteer te word hangend die uitslag?

Die OB is niks beter nie, arresteer en laat die saak aangaan, hopelik kom hul dan gouer by die uitpunt van ‘n saak?
Net my opinie…..die publiek word gerus gestel deur die regering met hierdie tipe ondersoeke sodat ons nie moed verloor, maar dan verdwyn alles weer tot die regering sien die publiek word mismoedig?

Gemaskerde Sopbeen ·

Daar is net een ding erger as apartheid….en dis geforseerde integrasie!! Maar dis waarvoor die minderheid blankes ‘n mandaat aan hulle president gegee het in 1992….en nou skop hulle daarteen? Is hierdie nie wat julle wou gehad het nie? Nou wat wou julle dan gehad het?

AndrewL ·

Jammer daar is nie eerder ‘n kundige om dit te ondersoek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.