Gautengse voorsitter van gemeenskapsveiligheid vermoor

Mapiti Matsena (Foto: Verskaf)

Die voorsitter van Gauteng se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid is Woensdagaand in sy huis in Doornpoort, Pretoria-Noord, vermoor. Mapiti Matsena (54) is in die bors gesteek.

Volgens brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, was Matsena saam met sy vrou en seun in die huis toe ’n aanvaller die aand omstreeks 22:52 toegang tot sy huis deur ʼn oop glasdeur verkry het. Die aanvaller het Matsena in sy slaapkamer oorval en in sy bors gesteek. Dit is nog nie duidelik waarmee Matsena gesteek is nie. Die aanvaller het daarna gevlug.

Matsena se vrou en seun het ongedeerd van die voorval afgekom.

Naidoo sê in hierdie stadium lyk dit nie asof die aanvaller iets gesteel het nie. Die motief vir die moord is ook nog nie bekend nie.

Genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het Matsena se familie gerusgestel dat sy moord deeglik ondersoek word. Sitole het die Gautengse polisie se provinsiale bestuur opdrag gegee om ʼn 72-uur‑aktiveringsplan in werking te stel om Matsena se moordenaar so gou as moontlik vas te trek.

Matsena was ook die voormalige adjunkvoorsitter van die ANC in Tshwane en ook ʼn lid van die van die portefeuljekomitee vir infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur van die Gautengse provinsiale wetgewer (GPL).

Mapiti Matsena (Foto: Verskaf)

Die GPL het Donderdagoggend in ʼn verklaring sy skok oor Matsena se dood uitgespreek.

Matsena het na die nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 by die GPL as ’n lid van die provinsiale wetgewer (MPL) aangesluit. Hy was onmiddellik as die voorsitter van die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid aangestel. Hy is toe ook as lid van die portefeuljekomitee vir infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur gekies.

“Hy was een van die GPL se hardwerkendste lede en het albei komitees ywerig en met groot toewyding gedien. Hy was passievol oor die veiligheid van die inwoners van Gauteng en het nooit die geleentheid misgeloop om sy oortuigings met die wetstoepassers oor die veiligheid van die inwoners van Gauteng te deel nie,” lui ʼn verklaring van die GPL.

Luidens die verklaring was Matsena ook sterk gekant teen geslagsgebaseerde geweld.

“Sy afsterwe laat ’n groot leemte in die provinsie.”

Die Jong Kommunisteliga van Suid-Afrika (YCLSA) in Gauteng sê hy is woedend en hartseer oor Matsena, wat betrokke was by die liga, se wreedaardige dood.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng het ook sy hartseer uitgespreek oor Matsena se skielike heengaan.

“Matsena was toegewyd daaraan om misdaad in Gauteng te beveg en alle inwoners se veiligheid te verseker,” sê John Moodey, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng.

“Die feit dat Matsena in sy huis vermoor is, is weereens ʼn aanduiding dat niemand meer in hul eie huis veilig is nie,” sê Moodey.

Moodey sê die DA sal voortgaan om die vordering met betrekking tot die ondersoek te monitor om te verseker dat geregtigheid geskied.

Die GPL, DA en YCLSA doen ’n beroep op die wetstoepassende owerhede om so gou as moontlik die moordenaar vas te trek. Hulle het ook hul medelye aan Matsena se familie, vriende en kollegas betuig.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van Matsena se moordenaar kan lei, kan die polisie se misdaadnommer by 086 00 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

So, het die glasdeur fisies oop gestaan of was dit net nie gesluit nie. Of het iemand dit dalk met opset oop gelos?

Scalla ·

wetteloosheid is buite beheer, 72 uur aktiveringsplan moet vir alle moorde ingestel word.

Misky ·

Tragies as die voorsitter van “Gemeenskapsveiligheid” nie een meer veilig in sy eie huis kan wees nie…… waar is die boere se 72uur plan???

Adele ·

My innige simpatie aan sy vrou en seun, dit is so sinneloos. Ek bly in dieselfde woonbuurt. Veral die afgelope maande met die inperking is daar weekliks, ten minste elke tweede nag, sluipers, moordenaars, noem hulle net wat jy wil, wat die buurt wakker hou. Ek glo dit gaan oral so. Ons voel glad nie meer veilig in ons huise nie. Die sekuriteits maatskappye werk onverpoos om ons te beveilig, maar dit raak regtig ‘n baie groot probleem. Nou is daar skielik dringendheid en 72 vir geregtigheid!

Faraway ·

MM : Holyhock is volgens my in Eersterus en nie Doornpoort nie
RIP Matsena en sterkte aan sy familie en vriende vir die sinnelose moord!

Megan Swart ·

Dagsê Faraway
Dankie vir jou kommentaar. Daar is ook ‘n Hollyhock straat in Doornpoort. Die polisie, DA en GPL het die adres ook so vir ons deurgegee. Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

JJ ·

My innige simpatie aan die familie vir verlies van ‘n Pa en Eggenoot. As Afrikaners wat gereeld ook die slagoffers van sinlose moord en geweld is, verstaan ons die pyn en leiding. Staan sterk en u sal die beproewing oorwin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.