Gautrain ontken dat hy ontsporingsondersoek ‘wegsteek’

Gautrain

Gautrain

Die bestuursagentskap van Gautrain het Vrydag ontken dat hy die oorsaak van ʼn hoëspoedpassasierstrein se ontsporing, wat tot groot vertragings in Pretoria gelei het, wegsteek.

Dit volg nadat die spoorlyn tussen Hatfield en Pretoria-stasies Donderdagoggend omstreeks 08:30 gesluit is, glo weens ʼn trein wat ontspoor het. Honderde passasiers moes van alternatiewe vervoermiddels gebruik maak nadat hulle van die Gautrain ontruim is. Alle bedrywighede is opgeskort weens ʼn “geringe ontsporing” wat plaasgevind het toe die trein Hatfield-stasie genader het.

Neil Campbell, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, het die bestuursagentskap daarvan beskuldig dat hulle die ondersoek vir die publiek wegsteek. “ʼn Ontsporing van die Gautrain kan nie in die geheim gedoen word nie,” het Campbell gesê. “Indien die bedrywighede opgeskort is weens ʼn ontsporing, is ʼn interne ondersoek nie voldoende om die publiek te verseker dat die treine veilig is om te gebruik nie.”

Campbell het gesê dit is ʼn ideale geleentheid vir die Spoorveiligheidsreguleerder om die saak te ondersoek, maar dit is onwaarskynlik dat hulle die kapasiteit sal hê om dit te doen, gegewe die finansiële beperkinge van die reguleerder.

Barbara Jensen, senior uitvoerende bestuurder van kommunikasie en bemarking by die Gautrain-bestuursagentskap, het in reaksie hierop gesê die Spoorveiligheidsreguleerder is by enige voorval, by enige saak betrokke in die ondersoek.

“Die Gautrain-bestuursagentskap wag vir die bevindings en dan sal ons die inligting aan die publiek bekend maak. Niks is in die geheim gehul nie,” het Jensen gesê.

Die DA is egter nie tevrede nie. Campbell het gesê Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer, moet ʼn onafhanklike ondersoek van stapel stuur oor die ontsporing. “Die DA is van mening dat onafhanklike kenners aangestel moet word en dan verslag moet lewer aan die Gautengse LUR vir paaie en vervoer en die provinsiale portefeuljekomitee wat oortuig moet word van die trein se veiligheid. Die publiek het ʼn reg om dringend te weet waarom die trein ontspoor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Justice ·

Die veiligste trein in Suid Afrika is ongetwyfeld die soustrein.

John ·

Die treinrit is soms erger as om in ‘n klein vliegtuigie in ‘n windstorm te beland.

Scalla ·

Tradisie, ontken alles, wil nie erken dat geberek aan bevoegdheid die antwoord is nie.

Johan ·

Dit is hoogtyd dat all treingebruikers weet. Gautrain is verantwoordelik vir duisende se lewens elke dag. Hoop DA doen iets om antwoorde te kry. Dankie Maroela Media vir julle article. Dit gaan viraal tussen afrikaans treingebruikers. Ek stuur dit aan.

thelsa ·

‘Geringe ontsporing’ is soos ‘n geringe ongeluk van ‘n vliegtuig – huh ????

Ferdi ·

Tipies DA. Polisieman oor almal behalwr hulleself. Dis lekker om hulle eie onderpresterende politici en amptenare te verskoon of selfs beskerm, terwyl hulle na ander se strotte gryp. Dalk moet hulle eers hulle eie balk effe wegskaaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.