Gautrein aanvaar binnekort kontaklose bankkaart

(Foto: Gautrein)

Gautrein-gebruikers kan van die einde van dié maand hul gewone kontaklose bankkaarte (“tap and go”) gebruik om vir treinritte, parkering én busdienste te betaal.

Pendelaars het in dié stadium nog ʼn Gautrein-kaart nodig, maar binnekort sal enige kontaklose bankkaart óf Gautrein-kaart aanvaar word. Kontaklose bankkaarte vervang nie die bestaande Gautrein-kaarte nie, maar is ʼn bykomende manier om vir dienste te betaal, het Kesagee Nayager, woordvoerder van Gautrein, gesê.

“Ons probeer aan die voorpunt bly van verandering en beste praktyke en soek altyd na geleenthede om die gebruik van Gautrein geriefliker en makliker vir passasiers te maak,” het sy gesê.

Wanneer die stelsel in gebruik geneem word, sal Gautrein een van die eerste openbare vervoerstelsels in Afrika wees wat kontaklose bankkaarte vir betaling aanvaar.

Reiskoste word bereken op grond van die stasies waar ʼn passasier op- en afklim. Om die koste dus akkuraat te bepaal, moet dieselfde kaart by elke skandeerder gebruik word. Spoorpendelaars kom boonop vir afslag op parkering en busdienste in aanmerking. Vir dié korting om in berekening gebring te word, moet dieselfde kaart gebruik word.

(Grafika: Gautrein)

Nayager sê hulle raai pendelaars aan om nie sommer net ʼn beursie teen die skandeerder te hou nie, maar om die individuele kaart wat hulle wil gebruik, uit te haal en te laat skandeer. Sou die hele beursie teen die skandeerder gehou word, kan dit beteken dat die meterleser nie kan vasstel watter kaart gebruik moet word nie. “Gevolglik kan die koste verhaal word van ʼn kaart wat ʼn gebruiker nié bedoel het om te gebruik nie, of geld kan van meer as een kaart in die beursie afgetrek word.”

Sou ʼn pendelaar verskillende bankkaarte vir dieselfde rit gebruik, gaan ʼn boete van R200 vir elke kontaklose kaart opgelê word.

Registrasie is nie ʼn vereiste om ʼn bankkaart te gebruik nie, maar Gautrein moedig pendelaars aan om wel by www.gautrein.co.za te registreer. Dit stel passasiers onder meer in staat om hul reisgeskiedenis na te gaan en aanlyn versoeke vir terugbetalings te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ruby ·

Ek het my “tap and go” funksie ge-deaktiveer, dit vat bietjie langer met die pin maar ek bly in S.A…….

GypsyGirl ·

Ruby, ek het dieselfde gedoen. Dit is een van die funksies waar die banke NIE die rekeninghouer beskerm nie…dit bemagtig die winkel en ongemagtigde gebruiker van jou bankkaart…studente loop deur – tap die wallet en voila transaksie goedgekeur en hoe dispuut jy dit by die bank, jy kan nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.