Gautrein kry nuwe hoof

William Dachs (Foto: Gautrian Links via Twitter)

Die aanstelling van William Dachs as die nuwe uitvoerende hoof van die Gautrein-bestuursagentskap is Woensdag deur Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, aangekondig.

Dachs gaan die skoene van Jack van der Merwe, die man wat die beplanning en implementering van die Gautrein-sneltreinprojek die afgelope twee dekades gelei het, volstaan. Van der Merwe tree einde Februarie uit as uitvoerende hoof van Gautrein.

Dachs sal ʼn maand lank onder Van der Merwe se leiding werk. Van der Merwe sal voorlopig as uitvoerende hoof van die Gautengse vervoerowerheid aanbly.

“Van der Merwe het die Gautrein uit die staanspoor suksesvol gelei. Dié sneltreinprojek het ʼn beduidende impak op die Gautengse ekonomie, samelewing en die mobiliteit van sy mense gemaak,” het Mamabolo gesê.

Volgens Mamabolo is Dachs ná ʼn lang keuringsproses deur die uitvoerende raad van die Gautengse provinsiale regering aangestel. “Ons is bevoorreg om iemand met Dachs se ervaring en bestuursvaardighede te hê om die Gautrein-span te bestuur. Openbare vervoer het veral nóú doeltreffende leierskap nodig vir die suksesvolle implementering van die provinsiale regering se 2030-groei-ontwikkelingsplan,” het Mamabolo bygevoeg.

Dachs dien sedert 2014 as Gautrein se bedryfshoof en voor dít het hy as senior uitvoerende bestuurder van tegniese dienste gedien.

Dachs is as professionele ingenieur by die Ingenieursraad geregistreer en het sy grade in siviele ingenieurswese en regte behaal. Hy het by die nasionale tesourie en by die Wêreldbank gewerk aan die ontwikkeling van vaardighede in infrastruktuurfinansiering in Sentraal- en Oos-Asië. Voordat hy in 2000 by die nasionale tesourie aangesluit het, het hy tien jaar as ʼn raadgewende siviele ingenieur in vervoer- en waterverwante projekte in Suid-Afrika gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Naas

Jack van der Merwe is ‘n yster. Ek hoop net Dachs het die guts om die korrupte burokrate in Gauteng op ‘n afstand te hou.