Gautrein nou goedkoper tydens spitstyd

Pendelaars by een van die Gautrein-stasies. Foto: Via @TrafficSA op Twitter

Jy gaan voortaan tydens hoë spitstye minder opdok vir ʼn rit op die Gautrein.

Die pendeldiens het aan die begin van die maand verskeie veranderinge aan sy skedule en pryse in werking gestel.

Hoëspitstydtariewe is vir ʼn toetstydperk opgeskort en afhangende van die aanvraag na sitplekke op dié tye, kan dit later heringestel word.

Die Gautrein sê in ʼn verklaring die middagspitstyd op noordelike roetes word van Maandag tot Vrydag verleng. Middagspitstyd begin nou om 14:38, pleks van om 15:28.

“Treine sal vanaf 14:38 elke tien minute beskikbaar wees, maar die buitespitstydtarief sal geld.

“Op die noord-suid-spoorlyn gaan treine wat suid reis (van Hatfieldstasie na Parkstasie) op weeksdae vroeër vertrek.”

Vertrektye by die stasies is voortaan as volg:

Hatfield: 05:05

Pretoria: 05:12

Centurion: 05:20

Midrand: 05:29

Marlboro: 05:35

Sandton: 05:40

Rosebank: 05:44

Die Gautrein sê hy het ook treine met agt waens vir oggend- en middagspitstye op die noord-suid-spoorlyn ingestel.

Die eerste trein vertrek voortaan om 05:19 by die OR Tambo-stasie na Sandton. Dit hou nou ook stil by die Rhodesfield- en Marlborostasie.

Gevolglik is vertrektye by laasgenoemde stasies ook vervroeg. By Rhodesfieldstasie vertrek die eerste trein om 05:22 en om 05:29 by Marlborostasie.

Gedurende naweke en op openbare vakansiedae gaan treine elke 20 minute tussen die OR Tambo-stasie en die Sandtonstasie vertrek. Daar was vantevore elke halfuur ʼn trein beskikbaar.

“Ons bly daartoe verbind om ʼn diens van wêreldgehalte te lewer en sal die diens deurlopend evalueer sodat ons die gerieflikste en gemaklikste diens kan lewer, sonder om veiligheid en sekuriteit in te boet,” het die Gautrein gesê.

Gewone spitstydtariewe geld steeds tussen 06:00 en 08:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Linda ·

Een iets in Suid-Afrika wat werk. Hoekom? Sê maar niks ….

emily ·

Wow, sal eers moet sien, Want op n Sondag wys my kaartjie. PEAK HOUR met die helse bedrag.

$ ·

Dis goeie nuus, nou hoef ek nie meer die 35 dag kaartjie te koop :)

Karle ·

Gebruik nou al die Gautrein vir omtrent 4jaar, en dis n absolute plesier om met dit te reis. Well done!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.