Gautrein-pendelaars gestrand toe dienstrein breek

Pendelaars buite die Gautrein se Sandton-stasie. Foto: Twitter

Pendelaars buite die Gautrein se Sandton-stasie. Foto: Twitter

Talle Gautrein-pendelaars moes Woensdagoggend inderhaas ʼn ander plan maak om by hul bestemmings te kom nadat ʼn tegniese probleem die treindiens tussen Sandton- en Park-stasie tot stilstand gebring het.

Gautrein-passasiers het op sosiale media die situasie as “chaoties” beskryf en gesê dat hulle tot ʼn uur lank moes wag vir Gautrein-busse om hulle van die Sandton-treinstasie te vervoer. Foto’s op sosiale media toon hoe passasiers in lang toue buite die stasie wag op ʼn bus, taxi of ander vervoer.

Die ontwrigting van Gautrein-dienste kom boonop op die dag waarop die maatskappy se verhoogde reisgeld in werking getree het.

Kesagee Nayager, Gautrein se woordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn dienstrein wat gebruik word om instandhoudingswerk te doen het op die spoor tussen Sandton- en Park-stasie onklaar geraak. “Gautrein-busse word gebruik om passasiers op hierdie roetes te vervoer, maar ons doen ʼn beroep op passasiers om indien moontlik alternatiewe reëlings te tref indien hulle op hierdie roetes moet reis,” het sy gesê.

Volgens Nayager is die Gautrein-dienste tussen Hatfield- en Sandton-stasie nie geaffekteer nie en is al hierdie treine op tyd. “Ons tegnici is tans besig om aan die probleem met die dienstrein te werk en ons hoop dat al die roetes weer teen 12:00 in werking sal wees,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grap ·

Alles wat die regering aanpak is chaoties en dit is nie die sisteme nie maar die mense wat daar werk klaar punt.

Theresa ·

Hoeveel jaar nou na die Duitsers hierdie pragstuk vir ons kom beplan en voortbring, ensovoorts het?
Gaan ry maar gou die ding as jy nog nie het nie. Hoe later hoe kwater. Hoop die tegnici is BEHOORLIK opgelei destyds en dat hul daardie spesifieke, hoë tegnologiese kennis regtig met die nodige belangstelling en omgee sal toepas. ONHERHOUD! ONDERHOUD! ONDERHOUD! niks hou sommer vir ewig nie. halllloooooooooooooooo – hou dit in stand.

John ·

So van die Gautrein gepraat. Die trein ry volgens my heeltemal te vinnig. Alles is haastig-haastig, Om gereed te maak om by ‘n stasie af te klim is ‘n gedoente veral in die rondrukkende koets. Mense sukkel om gou hy die deur te kom, veral met bagasie. Dit moet vir mense met fisiese probleme ‘n redelike nagmerrie wees om van perron te verwissel en in die treine self vinnig rond te beweeg, veral ook omdat daar geen personeel op die trein is wat sou kon help nie — ek kan verkeerd wees maar diesulkes het ek nie opgemerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.