Gautrein, Prasa sal dienste geleidelik hervat

Fikile Mbalula spreek die media Vrydag toe. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het gesê die Gautrein sal sy dienste geleidelik begin hervat met die inwerkingtreding van vlak 4 van die koronavirus-afsonderingstydperk. Die Gautrein sal egter sy dienste by slegs agt van sy nege stasies hervat aangesien daar geen trein na die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park beskikbaar sal wees nie.

Mbalula het die media Vrydagmiddag toegespreek oor enkele veranderinge wat aangebring is aan regulasies rakende vervoer noudat meer mense terug keer werk toe op vlak 4 van die afsonderingstydperk.

Volgens Mbalula sal die Gautrein tot soveel as 50% van sy kapasiteit mag vervoer. Sosiale afstand moet op die Gautrein gehandhaaf word en areas sal by die betrokke Gautreinstasies uitgewys word waar pendelaars vir ʼn trein sal kan wag.

Die Gautrein sal passasiers soggens van 05:00 tot 12:00 en smiddae vanaf 15:00 tot 20:00 mag vervoer. Die laaste Gautrein van die dag sal egter om 18:00 vertrek.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sal ook sy dienste mettertyd hervat sodra alle veiligheidsmaatreëls getref is. Dienste sal aanvanklik beperk wees en treine sal vermoedelik eers op vlak 3 dienste ten volle kan voortsit.

Mbalula het benadruk dat daar teen Maandag nog geen Prasa-trein beskikbaar sal wees nie.

Metrorail sal nie binnekort sy dienste hervat nie. Langafstandtreinritte word steeds verbied.

Argieffoto.

Taxi’s, pendelvoertuie en busse

Die departement van vervoer het enkele veranderinge aangebring wat taxi’s betref aangesien meer passasiers vandeesmaand terugkeer werk toe.

Volgens Mbalula mag taxi’s voortaan passasiers tussen 05:00 en 19:00 vervoer met ʼn grasietydperk van een uur om passasiers by hul onderskeie bestemmings af te laai. Geen taxi’s mag tussen 20:00 en 05:00 op die paaie wees nie, het die minister gesê.

Taxi’s mag steeds slegs tot 70% van ʼn voertuig se kapasiteit gelaai word. Dit beteken dat minibusse wat die kapasiteit het om tien passasiers te vervoer, slegs sewe passasiers sal mag vervoer. Minibusse met 15 sitplekke mag dan slegs tien passasiers vervoer en minibusse met 22 sitplekke slegs 15 passasiers.

Passasiers word verplig om hul hande te ontsmet wanneer hulle in ʼn taxi klim. Die dra van maskers tydens ʼn rit is steeds verpligtend. Taxi’s moet ook op ʼn gereelde basis ontsmet word.

Metertaxi’s mag tot 50% van ʼn voertuig se kapasiteit laai.

Mbalula het verder gesê dat pendelbussies op vlak 4 toegelaat word. Pendelvoetuie mag egter slegs noodsaaklike werkers en diegene wat terug keer werk toe vervoer. Dié voertuie mag tot 50% van ʼn voertuig se kapasiteit laai.

Reis tussen provinsies sonder ’n permit word steeds op vlak 4 van afsondering verbied.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrikaners wat iewers gestrand sit en moet terugkeer huis toe sal vir die volgende week wel toegelaat word om eenmalig sonder ’n permit tussen provinsies of metro’s te reis.

Dié vergunning geld egter net van 1 tot 7 Mei. Langafstandbusse sal in dié week toegelaat word hoewel dié ritte ná die week weer verbied word.

Mbalula het daarop gewys dat die vergunning nie gemaak word sodat mense oor en weer kan kuier nie. “Dit is vir diegene wat gestrand of geskei was van hul geliefdes weens die afsonderingstydperk,” het hy gesê.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Uber Eats/Facebook)

Kosaflewerings en koerierdienste

Volgens Mbalula word afleweringsdienste soos Uber Eats en Mr Delivery op vlak 4 toegelaat om kos van 09:00 en 19:00 af te lewer.

Koerierdienste word toegelaat om goedere af te lewer wat binne die regulasies van vlak 4 val. Dit sluit in wintersklere, babaklere en komberse.

Skepe en vliegtuie

Geen veranderinge is aangebring rakende skepe nie. Passasierskipvaarte is dus steeds verbied met slegs vragskepe wat toegelaat word om goedere die land in te bring.

Plaaslike en internasionale vlugte is steeds verbied gedurende vlak 4. Repatriasievlugte word wel in dié stadium toegelaat.

Volgens Mbalula sal plaaslike en internasionale vlugte waarskynlik eers op vlak 2 voortgesit mag word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Deon ·

Op news 24 berig hulle daaroor, ja hulle kry hul deel… Die taxis

Barbara ·

Hul praat van repatriasie vlugte, waar doen jy aansoek om terug te gaan Amerika toe. Ons het familie wat moet terug gaan.

Deon ·

Hoe gaan hulle wonitor of jy op pad soon toe of op pad terug is? Weet iemand wat geld vir privaat ligte vliegtuie

marius ·

Hoe de ongeluk kan koerier dienste se vrag inhoud ‘n risiko wees ? Net vragskepe wat goed die land inbring ? Wat van uitvoere? Hou op brabbel !

netekalleen ·

Hoe gaan hulle op die gautrein bv mense in beheer hou. Op n goeie dag druk ander pendelaars wat nie weet hoe om in rye te staan nie mens uit die pad om eerste in die trein te klim.

Yvonne ·

Hoe de ter mine hy dit…die Anc kan skaars woorde reg uitspreek wat nog die land bestuur…die krisis bewys dit weer ten strekste

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.