Gautrein sê oor ‘ontploffing’

Argieffoto: Verskaf

Gautrein het gerugte van ʼn ontploffing Maandagoggend, kort nadat beperkte treindienste te midde van ʼn staking begin bedryf is, ontken.

Gautrein-werkers wat lede is van die United National Transport Union (Untu) het vanoggend met ʼn beskermde staking begin. Dit is die eerste keer dat Gautrein-werkers oor lone staak.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê dié stap volg nadat verskeie loononderhandelinge met Bombela, die Gautrein se bedryfsmaatskappy, op ʼn dooiepunt uitgeloop het.

Bombela het Maandagoggend ʼn gebeurlikheidsplan in werking gestel om ʼn beperkte diens by sommige stasies in spitstye te lewer en het ook veiligheidsmaatreëls op die stelsel verskerp.

ʼn Pendelaar het omstreeks 06:00 aan JacarandaFM gesê hulle was per trein op pad tussen die Centurion- en Midrand-stasie toe hulle ʼn “klein ontploffing” gehoor en ʼn “skokgolf” gevoel het.

“Dit was nie ʼn groot ontploffing nie, dit het gelyk soos groot vuurwerk wat afgegaan het,” het die luisteraar, Werner Spohr, aan die radiostasie gesê.

Kesagee Nayager, Gautrein se woordvoerder, het egter gesê die gerugte is heeltemal onwaar.

“Ons kan bevestig dat daar nie ʼn ontploffing tussen Centurion en Midrand was nie. Bykomende veiligheidsmaatreëls is geïmplementeer en die veiligheid van ons passasiers sal nie in gevaar gestel word nie,” het sy gesê.

“Ons respekteer ons werkers se reg om te staak, maar stakende werkers moet terselfdertyd hul kollegas respekter wat wil werk sonder om geïntimideer te word. Ons sal nie intimidasie of ander kriminele optrede en skade aan eiendom duld nie,” het Nayager gesê.

Intussen sê Untu meer as ʼn honderd van sy 250 lede wat vir Bombela werk het vroegoggend naby die Midrand-treinstasie bymekaar gekom waar hulle betoog.

ʼn Gautrein-verklaring lui dat betogers van hul busse verhoed het om dié stasie te verlaat wat tot ʼn vertraging in die busdiens gelei het.

Volgens Harris bied Bombela vir Untu-lede ʼn 8,5%-salarisverhoging en wil die instelling nie werkers ʼn aansporingsbonus betaal nie.

Untu eis ʼn verhoging van 10% op die basiese salaris plus ʼn verhoging van 113% op ʼn behuisingstoelaag (van R750 tot R1 600), plus ʼn nuwe vervoertoelaag van R800 vir werkers wat nie op skof is nie, plus ʼn verhoging van 101% vir ʼn vervoertoelaag vir nagdiens (van R31,84 tot R64 per skof), met ʼn 10%-verhoging vir nagskof, mediesefondstoelaag van 55/45 en ʼn R20 000-bonus per werknemer per jaar (ʼn algehele verhoging van 19,6%).

Harris het verskoning gevra vir die pendelaars wat geraak word en aan Bombela gesê hulle is gereed om verder te onderhandel, maar dat hulle nie die huidige aanbod gaan aanvaar nie.

Tydens die staking gaan die Gautrein net op spitstye, van 05:45 tot 09:00 en 16:00 tot 19:00, in werking wees met een trein elke 12 minute tussen Centurion en Sandton en een trein elke 20 minute tussen Sandton en die Park-stasie. Geen treindienste sal tussen die spitstye gelewer word nie. Slegs die Centurion-, Sandton- en Park-stasie sal oop wees.

Gautrein se busdienste sal slegs na die genoemde drie stasies ry en sal hul gewone roetes volg. ʼn Beperkte busdiens sal van 05:45 tot 19:00 vir passasiers na en van die lughawe- en Rhodesfield-stasie gelewer word.

Kaartjieskantore sal toe wees weens personeel wat staak. Passasiers word dus aangemoedig om die kaartjiemasjiene te gebruik of geld deur die Gautrein-webwerf of die Gautrein-app op te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DS ·

Sjoe 8,5 % verhoging sal ek met liefde aanvaar. Hulle eise is belaglik. Wees dankbaar julle het ‘n werk en word verhoging aangebied baie mense wat ek ken het 3 – 5 jaar laas verhogings gekry.

Reinet westcott ·

So nou moet almal gestraf word. Geen busse tussen Sandtin en Rosebank en d paaie is n nsgmerrie

Dennis ·

Dit wat die persoon aan die radio beskryf het klink baie soos n knalpatroon wat op die spoor geplaas word om spoorwerkers te waarsku dat n trein oppad is. Maak n groot geraas maar is skadeloos.

Hans ·

In my gesin is daar persone wat te dankbaar sal wees om n betrekking te kry. Die vakbond en sy lede moet n bietjie besin oor die redelikheid van hul eise.

bgj van der westhuizen ·

8% verhoging is nie sleg nie maar soos altyd is die unie mal met hulle verhogings wat hulle wil he

Karolis ·

Gautrein respekteer die werkers se reg om te staak maar toon geen respek vir die verbruikers se ongerief en verliese nie. Indien die verbruikers besluit om Gautrein te boikot gaan Gautrein groter verliese lei as nou.

Linda van Mosselbaai ·

Staak maar – dit werk in elk geval goedkoper uit om ‘n kar te huur as om met die trein te ry as ons daarbo waag om te kom kuier.
Mense gaan begin 2 keer dink om van die dienste gebruik te maak.
Niemand wen met ‘n staking nie – as die verhogings toegestaan word – gaan net niemand vervang word wat aftree of bedank nie – of werkers word verminder om die verhoging te dra – sommige besighede gaan onder – soos ‘n sinkende skip met die werkers saam ….

Duur ·

Gautrain is een van die duurste ondergrondse stedelike treine ter wereld. Hulle wil jou veral beroof met die rit lughawe toe.

Bollie ·

Almal wat al trein gery het weet daar is n ‘knak’ geluid tussen Centurion en Midrand of Marlboro, dis gewoontlik die tweede/derde kar van agter af waar dit die hardste gehoor kan word, wat ook al dit mag wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.