Gautrein-staking: Beperkte diens vanaf twee ekstra stasies

Argieffoto: Verskaf

Bombela, die maatskappy wat die Gautrein bedryf, het sy gebeurlikheidsplan aangepas terwyl ʼn staking van sy werkers die vierde dag intree.

Kesagee Nayager, Bombela se woordvoerder, het gesê die Rosebank-stasie is Woensdag oopgemaak en bus- en treindienste na die stasie is by die huidige beperkte diens in piektye ingesluit.

“Donderdagoggend sal die Pretoria-stasie ook oopgemaak en ingesluit word,” het Nayager gesê.

“Busdienste sal beskikbaar wees om passasiers tussen die Hatfield- en Pretoria-stasie te vervoer. Hoewel die Hatfield-stasie gesluit gaan wees, sal die parkeergeriewe toeganklik wees.”

Nayager het passasiers bedank en gesê die Gautrein probeer om die beste diens met beperkte hulpbronne lewer.

Die beperkte diens sal slegs op piektye, van 05:45 tot 09:00 en 16:00 tot 19:00, gelewer word tussen die Pretoria-, Centurion-, Midrand-, Park- en Rosebank-stasie.

ʼn Beperkte busdiens sal van 05:45 tot 19:00 vir passasiers na en van die lughawe- en Rhodesfield-stasie gelewer word.

Die United National Transport Union (Untu) het Sondag bekend gemaak sy lede wat vir die Gautrein werk, gaan Maandag begin om aan ʼn beskermde staking deel te neem. Dit is die eerste keer dat Gautrein-werkers oor lone sal staak.

Untu eis ʼn verhoging van 10% op die basiese salaris plus ʼn verhoging van 113% op ʼn behuisingstoelaag (van R750 tot R1 600), plus ʼn nuwe vervoertoelaag van R800 vir werkers wat nie op skof is nie, plus ʼn verhoging van 101% vir ʼn vervoertoelaag vir nagdiens (van R31,84 tot R64 per skof), met ʼn 10%-verhoging vir nagskof, mediesefondstoelaag van 55/45 en ʼn R20 000-bonus per werknemer per jaar (ʼn algehele verhoging van 19,6%).

Gautrein het intussen ʼn verhoging van 8,5% aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petro ·

Kan iemand asb inflasie… CPI ens vir die spul verduidelik. 8.5%is n baie billike offer…

Oom Ekonoom ·

Het jy ‘n idee hoe min mense hoegenaamd enige verhogings kry?

Liberaal ·

Moet asseblief nie teen mense diskrimineer wat nie daardie groot woorde verstaan nie, hulle het ook menseregte wat baie belangriker is in ‘n liberale demokrasie as die regte van die gewone mense wat nie meer vervoer het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.