Gautrein-staking verby

Argieffoto

Die staking van twee weke deur Gautrein-werkers het tot ʼn einde gekom nadat die werkers en Bombela, wat die Gautrein bedryf, ʼn skikking bereik het.

Die United National Transport Union (Untu) het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Midrand gesê hy het ʼn mandaat van sy lede ontvang om die werkgewer se aanbod te aanvaar.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het by die geleentheid gesê werkers het ingestem tot ʼn eenjaarlikse salarisverhoging van 8%, ʼn behuisingstoelaag van R900 en die minimum salaris is op R8 500 vasgestel.

Volgens Harris het die werkgewer ook ingestem op aansporingsbonusse van R5 000 op 31 Desember, wat gevolg sal word met nog ʼn bonus van R5 000 in September 2019, na gelang van die maatskappy se prestasie-aanwysers.

Die mediesefondstoelaag bly egter op 50/50 tussen die werker en werkgewer.

Untu-lede het toe die staking op 30 Julie begin het, ʼn verhoging van 10% op die basiese salaris geëis plus ʼn verhoging van 113% op ʼn behuisingstoelaag (van R750 tot R1 600), plus ʼn nuwe vervoertoelaag van R800 vir werkers wat nie op skof is nie, asook ʼn verhoging van 101% vir ʼn vervoertoelaag vir nagdiens (van R31,84 tot R64 per skof), met ʼn 10%-verhoging vir nagskof, mediesefondstoelaag van 55/45 en ʼn R20 000-bonus per werknemer per jaar (ʼn algehele verhoging van 19,6%).

Die staking het duisende pendelaars gestrand gelaat en die Gautrein moes sy trein- en busdienste aansienlik beperk. Dit was die eerste keer dat Gautrein-werkers oor lone gestaak het.

Kesagee Nayager, die Gautrein se woordvoerder, het gesê die Gautrein se volle dienste sal teen Woensdag in werking wees. Die beperkte diens sal nog Maandag en Dinsdag gebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sharem ·

Die mense wat ander reëlings getref het tydens die staking moet net aanhou met alternatiewe reëlings. Looi hulle in die sak, soos met Spur. Hierdie klomp stakings wat die onskuldige publiek verontrief moet nou vervlaks stopgesit word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.