Gautrein-werkers dreig oor finansiële state

Gautrein in die depot (Foto: GautengCitizen via Wikimedia Commons)

Die Federation of Unions of South Africa (Fedusa) het Maandag gedreig om die Gautrein-operateur na die konstitusionele hof te sleep nadat die maatskappy glo geweier het om sy finansiële state openbaar te maak.

Dit kom ná ʼn twee weke lange staking deur Gautrein-werkers Maandag tot ʼn einde gekom het ná die meerderheid werknemers ʼn skikking met Bombela Concession Company bereik het. Die ooreenkoms is ʼn eenjaarlikse salarisverhoging van 8%, ʼn behuisingstoelaag van R900 en die minimum salaris is op R8 500 vasgestel.

Dennis George, sekretaris-generaal van Fedusa, het gesê dit was “grondwetlik onregverdig” vir Bombela om nie sy finansiële state bekend te maak tydens die loononderhandelinge nie, sodat die werkers kon sien watter winste die Gautrein maak en hul eise daarvolgens aan te pas.

George het buite die Gautrein-depot in Midrand gesê Bombela is oneerlik deur aan te voer dat hy kragtens ooreenkomste met finansiële instansies en ander vennote verbied word om sy finansiële state bekend te maak.

“Ons weet dat geouditeerde finansiële state in enige maatskappy ʼn belangrike dokument is en ons het die reg om dié dokument te bestudeer, en ons kan daarvolgens ons eise formuleer. Ons het ook die reg om te sien hoeveel bestuur uit hierdie ooreenkomste verdien en hoeveel werkers op die laagste vlak betaal word.

“As ʼn maatskappy dus nie te goeder trou onderhandel nie, waar hulle nie die finansiële state wil bekend maak nie, is ons hande agter ons rug vasgemaak. Ons weet dus nie hoeveel wins gemaak word nie. Daarom is ons bereid om die konstitusionele hof te nader, want dit is noodsaaklik vir ons om die regte van werkers te respekteer.”

Kesagee Nayager, woordvoerder vir die Gautrein, het gesê Bombela is onder geen verpligting om sy finansiële state bekend te maak nie, aangesien dit ʼn privaat maatskappy is. “Die maatskappy respekteer die wette van die land en sal ten volle voldoen aan die eise van die wet as die saak in die hof beland. Dit is ook belangrik om te noem dat [die vakbond United National Transport Union] slegs tydens die finale ronde van die onderhandelinge, op 27 Julie 2018, die finansiële state geëis het – ná die stakingskennisgewing uitgereik is.

“Dit wys dat Untu se bewering, dat hy met die staking begin het omdat die maatskappy geweier het om die finansiële state openbaar te maak, onwaar is en slegs ʼn taktiek is om die staking te regverdig, wat uiteindelik ʼn onrealistiese en onredelike eis was,” het Nayager bygevoeg.

Ismail Vadi, LUR vir vervoer in Gauteng, het intussen die loonooreenkoms tussen Bombela en Untu verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna Botha ·

Ek smeek vir n JOB maar as ek hom het gee ek die werkgewer hel …..kry n ander werk as jy nie happy is met jou vergoeding !

Wilma ·

Hoe arrogant om werkgewer se finansiele state te wil besigtig. Mos nix met werknemer te doen ni. Oe hierdie aafrika piesang republiek

Jos ·

Was die Gautrein projek nie met belasting geld befonds nie? Wat het Bombela om weg te steek?

wilma ·

Toe ek sien staking is verby, het ek gewonder vir hoelank voor die volgende “demands” begin. As jy nie tevrede is met jou salaris nie, moet jy maar jou goedjies vat en groener weivelde gaan soek. Ek kan nie dink dat mense wat darem nog ‘n inkomste verdien so kan “speel” met hulle werk nie aangesien afleggings oral aan die orde van die dag is en nog vele gaan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.