Gavin Watson-ongeluk: Ondersoeker ‘oorweeg baie moontlikhede’

Die toneel van die ongeluk waarin Gavin Watson gesterf het. (Foto: Facebook)

Die private ondersoeker wat deur Gavin Watson se familie aangestel is om die oorsaak van die grusame ongeluk te ondersoek waarin hy gister gesterf het, sê daar is baie moontlikhede wat oorweeg en ondersoek moet word.

Konrad Lotter, ʼn ondersoeker wat ervare is in padongelukgevalle, het aan Maroela Media gesê ʼn opmerking wat hy gemaak het dat die ongeluk nie soos ʼn gewone padongeluk lyk nie, spruit uit ʼn kort video van die ongeluk wat hy gister gesien het.

“Ek het daardie afleiding gemaak op grond van die video wat ek gister gesien het, omdat dit oënskynlik lyk asof die voertuig op die betonpilaar afpyl. Dit is dus net die logiese afleiding om te maak, maar natuurlik kom dit uit baie beperkte inligting. Dit is nog heeltemal te vroeg om enige werklike bevindings te maak,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon dat daar verskeie moontlikhede is wat oorweeg moet word, waaronder aspekte soos enige mediese toestande wat Watson dalk gehad het of medikasie wat hy dalk gebruik het.

Die toneel van die ongeluk waarin Gavin Watson gesterf het. (Foto: Facebook)

Lotter sê hy wag tans op die uitslae van die nadoodse ondersoek. Hy kon nie bevestig hoe lank dit sal neem om sy ondersoek te voltooi nie, maar meen dit kan “’n redelike lang tyd” wees. Hy het bygevoeg dat sy ondersoek aanvullend tot die polisie se ondersoek sal wees en dat dit van Watson se familie sal afhang of die bevindinge van die ondersoek bekendgemaak word of nie.

Maroela Media het vroeër berig Watson, die uitvoerende hoof van die eertydse Bosasa, het gisteroggend in ʼn ongeluk op die R21 naby die Internasionale Lughawe OR Tambo gesterf. Die voertuig het teen ʼn betonpilaar van ʼn brug oor die snelweg gebots en Watson is op slag dood.

Ná die nuus van Watson se dood aan die lig gekom het, is daar wyd bespiegel dat die ongeluk nie ʼn gewone padongeluk was nie en dat daar dalk vuilspel betrokke kon wees. Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het in ʼn onderhoud met eNCA gesê dit is nie nou ʼn gepaste tyd om oor die oorsaak van die ongeluk te bespiegel nie.

“Die familie is in rou en ek glo eerlikwaar enigiemand met teorieë moet dit eerder net vir hulself hou,” het hy gesê.

Gavin Watson. (Foto: Bosasa)

Die bespiegeling oor moontlike vuilspel spruit uit die omstredenheid rakende Watson se beweerde betrokkenheid by staatskaping.

Bosasa, nou African Global Operations, het berug geraak vir die maatskappy se beweerde betrokkenheid by staatskaping en korrupte bedrywighede. Die maatskappy se naam het telkemale opgeduik in getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Daar is vroeër voor die kommissie getuig dat Watson glo lede van die ANC omgekoop en noue bande met verskeie politici, onder wie oudpres. Jacob Zuma, gehandhaaf het.

Die ANC het gister in ʼn verklaring Watson as ʼn “teenapartheidsaktivis en filantroop” bestempel en gesê Watson het destyds die “prysenswaardige en dapper keuse gemaak om hom te distansieer van die voordele wat  ʼn wit man vanselfsprekend in apartheid-Suid-Afrika gehad het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Bert ·

Ja Deon, die dapper keuse het hom mos in groot armoede gedompel.

Ig ·

Die Watsons het hulle gedistansieer van die voordele van die witman maar het biloene gemaak uit die situasie?

AndrewL ·

Hy het SEB verstaan. Hom ook gedistansieer van die voordele wat blanke mans gehad het, dus neem ek aan hy het al sy rykdom aan arme benadeeldes afgestaan.

Belastingspook ·

Ig, jys reg , en die omkoopgeld wat betaal is uit belastingbetalers se swaarverdiende geld deur BOSASA. Nou sien ons die gevolge; n BANKROT LAND!

Amanda ·

Gedistansieer….en hy ry ‘n BMW X5? Wou nie daai kar afskryf nie, toe gaan hy maar met ‘n firma voertuig.

koos ·

Het elders gelees dat hy net R70 by hom gehad het, maar nie sy selfoon nie. Watter besigheids man gaan op pad sonder sy selfoon? My eerste reaksie was selfmoord en ek dink dit nogsteeds.

ConspiracyTheory ·

@koos ………… Oor sy “verlore” selfoon: hy het gerieflikheidshalwe sy selfoon tuis vergeet ………………………………… of die selfoon is gerieflik genoeg deur mense wat ‘toevallig’ op die ongelukstoneel afgekom het of in daardie omgewing was, geneem …. want daar is inkriminerende bewyse daarop wat GROOT hooggeplaastes in die regerende party se blikkies wurms nóg erger kan laat uit-krioel, as wat BOSASA se wurmpies uitgekrioel het.

Amanda ·

Ja, ek dink ook dat dit selfmoord kon wees, ander opsie natuurlik dat hy oppad landuit was, dan het hy nie selfoon of meer geld nodig nie, als wag in oorsese bankrekening vir hom.

Johan Pretorius ·

Die Watsons is deels verantwoordelik vir die finansiele gemors waarin SA hom bevind.

marous ·

Distansieer hom van die voordele wat ‘n wit man vanselfsprekend gehad het tot wat ? Biljoene in belasting geld terwyl die mense vir wie hy kwansuis sy “voordele ” opgeoffer het sit en vergaan ? Hou asseblief net op met twak praat anc . Die bitter beker sal julle nie verby gaan nie . Wees verseker .

Gert van Wierdapark ·

Al vat die Ondersoeker ook hoe lank, jy hoef nie ‘n “Sherlock Holmes” te wees om die Oorsaak te bepaal nie, my liewe………!

Anoniem ·

Watson was n man met n besigheids kop. hy het die gaaping gesien en dit geneem, ek sou ook en ek glo dit is mense met suur druiwe wat nou kla omdat hulle nie die geleenthede raakgesien het wat hy raakgesien het. Die man is dood en los hom en sy familie nou uit.

Philip, ·

Ek wonder hoe hy kon slaap met al die geld wat hy ontvang het wat op ‘n skewe manier bekom was.

Marie ·

Die voertuig lyk asof hy 200 km/uur moes gery het. Die liggaam en gesig onherkenbaar? My teorie :hy lewe en die voertuig en lyk is geplant. Miskien is ek verkeerd, maar ek dink die Zondo kommissie gaan nog n paar sulke gevalle veroorsaak.

Seemonster ·

Dis definitief Gavin Watson wat gesterf het in daardie motor.
‘ n 702 joernalis wat in-diepte navorsing en verslag gedoen het oor die Agrizzi getuienis en Bosasa staatskaping, was vroeg op die toneel en het Watson herken terwyl hy nog in die voertuig was.
Ek glo dis doodgewoon ‘n kwessie van selfmoord om homself die wroeging en vernedering te spaar.

JohanR ·

Selfmoord daar by OR Tambo lughawe se ingangs pad??? Kon uit gegaan het soos Thelma en Louise. Trap die pedaal, en vlieg van ‘n mynhoop af!

maryann ·

Ek dink hulle moet seker maak dis sy liggaam, dis ‘n baie maklike manier om jouself te verskans. Dit klink maar net baie gerieflik

Kokkie ·

Selfs die foto van die selfvoldane ‘gelowige’ skurk gee my so ‘n kramp dat ek iets wil oor kom. Jammer, as dit inderdaad hy is wat in die ongeluk dood is, het ek geen simpatie nie. Al waaroor ek spyt is, is dat hy nie lewe om te boet vir sy skelmstreke nie.

Danie ·

Het iemand al gedink dat hy moontlik op sy selfoon besig was. Ek dink die selfoon is moontlik tussen die wrakstukke verbreisel… n Man soos daai sal nooit sonder sy selfoon wees nie….

Sarel ·

Selfoon? Teen daardie hoe spoed, ag nee probeer weer. Daardie impak is nie @120km.hr nie. Hy het probeer wegkom van ‘n “hitsquad” as jy my vra. Moontlik sy baan versper n moment voor die brug.

AndrewL ·

Danien, daardie “geleenthede” is deel van die midaad probleem. Jy sou dit dalk neem, maar nie almal is so nie.

leser ·

wat ook al die oorsaak van die ongeluk was, die zondo kommisie het helte nou platgeval

Leon ·

Onthou. ‘n Selfoon op ‘n ongeluks toneel verdwyn binne mikro sekondes in die niet. dit is die eerste ding wat getseel word. die volgende is geld. Dit neem twee mikro sekondes en die geld in die sak of beursie van ‘n beseerde in ‘n ongeluk verdwyn. Ons het mos die wêreld se voorste misdaad land.
Of Watson selfmoord gepleeg het of vermoor is sal ons nooit weet nie. Dit sal verswyg word. Te veel mense kan ge-impliseer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.