Gawe mense groter teiken vir kubermisdadigers

Vian Smit, ʼn Kaapstadse stelselontleder, dui op ʼn opvallende verband tussen persoonlikheidstipes en kuberveiligheidsrisiko (Foto: verskaf)

ʼn Nuwe studie van die Universiteit Stellenbosch (US) wat op die sogenaamde Groot Vyf-persoonlikheidsoorte fokus, het bevind dat mense met ʼn aangename persoonlikheid ʼn groter kans staan om deur kubermisdadigers gemanipuleer te word om private en sensitiewe inligting te deel.

Dié studie deur Vian Smit, ʼn Kaapstadse stelselontleder, dui op ʼn opvallende verband tussen persoonlikheidstipes en kuberveiligheidsrisiko.

Die vatbaarheid van die aanvalle is bepaal deur 700 mense uit te vra oor hul persoonlikheidstipe en hoe waarskynlik hulle op verskillende sosiale ingenieursaanvalle sal reageer. Dít is wanneer kubermisdadigers mense mislei om private inligting of wagwoorde te verskaf deur op skadelike skakels te klik.

Die resultate van die studie toon dat aangename mense die meeste geneig is om die slagoffer van sosiale ingenieursaanvalle te word, gevolg deur diegene wat pligsgetrou is, asook ekstroverte. Neurotiese en sogenaamde oopkop-mense is minder geneig om mislei te word. Ekstroverte oortree kuberveiligheidsbeleide meer gereeld omdat hulle geneig is om meer gereeld aan kwaadwillige versoeke te voldoen.

Die studie bevind dat individue met hoë vlakke van aangenaamheid veral vatbaar vir manipulasie deur kubermisdadigers is. Omgekeerd het neurotiese mense, wat deur emosionele onstabiliteit en angs gekenmerk word, die laagste vatbaarheid vir sulke aanvalle getoon.

Volgens Smith is mense met ʼn aangename persoonlikheid deernisvol, altruïsties, gaaf en vergewensgesind. Dié mense het die geneigdheid om altyd vriendelik te wees en ander te wil help. Dikwels benadeel hulle egter hulself wanneer hulle voor ʼn sosiale ingenieursaanval te staan kom.

“Hulle is meer vatbaar vir uitvissing (phishing, as iemand mislei word om vals e-posse, kitsboodskappe of teksboodskappe oop te maak), spiesvissing (spear phishing, wanneer ʼn spesifieke mens geteiken word), nabootsing, voorwendsels, watergataanvalle, QR-kode-uitvissing en SMS-uitvissing,” sê Smith.

Smit beklemtoon dat neurotiese persoonlikheidstipes maklike teikens is vir aanvalle deur middel van vals toepassings of inprop-toepassings, en ekstroverte vir vals advertensies en dubbelganger-Wi-Fi-aanvalle. Pligsgetroue mense is vatbaar vir uitvissing, spiesuitvissing, nabootsing, voorwendsels, watergat- en QR-kode-aanvalle, terwyl oopkopmense meer geneig is om te val vir voorwendsels, watergat- en dubbelganger-Wi-Fi-aanvalle.

Hy meen dat inligting oor mense se persoonlikheidstipes en hul vatbaarheid vir sosiale ingenieursaanvalle kuberveiligheidspanne in ondernemings en organisasies help om doeltreffende versagtingstrategieë vir elke persoonlikheidstipe te inkorporeer. Organisasies sal ook weet watter werknemers meer vatbaar vir hierdie aanvalle is as hulle ʼn beter begrip van hul persoonlikheidstipe het.

“Deur die persoonlikheidseienskappe te verstaan wat die kwesbaarste vir sosiale ingenieurswese-aanvalle is, kan kuberveiligheidskundiges help om doeltreffender beskermingstrategieë te ontwikkel. As hulle met ʼn dieper begrip van die menslike psige toegerus is, kan organisasies die kompleksiteite van kuberveiligheid met vertroue navigeer en hul waardevolste bates in ʼn voortdurend veranderende landskap van bedreigings beskerm,” sê Smith.

Smith meen dat organisasies werknemers se bewustheid en opleiding verbeter, veral vir diegene met aangename persoonlikheidseienskappe, om die risiko van suksesvolle sosiale ingenieursaanvalle te verminder.

“Benewens die aanpak van menslike kwesbaarhede, moet organisasies ook robuuste kuberveiligheidsmaatreëls in werking stel, soos dié wat in die topvyf-strategieë vir die tempering van kwesbaarheid uiteengesit word – ontdekking van bates, identifikasie van kwesbaarheid, inwerkingstelling van veiligheidsbeheermaatreëls, bestuur van rekenaarverbeterings en deurlopende monitering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Uitstekende skrywe.Ons is nie verniet as kinders geleer,dat jy waaksaam te alle tye moet wees nie,want die vyand loop onsigbaar rond.Dit maak in hierdie huidige tye baie meer sin as jare gelede.As iets nie reg lyk of reg klink nie, of te goed om waar te wees nie,gaan maar verby en wees waaksaam te alle tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.