GCIS-hoof sal voor Staatskapingkommissie getuig

Phumla Williams, waarnemende hoof van die GCIS (September 2013) Foto: Sibongile Ngalwa/GCIS

Die waarnemende uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens GCIS, Phumla Williams, sal Vrydag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, getuig.

Williams het die voormalige woordvoerder vir die regering, Mzwanyele Manyi, vervang. Manyi het in 2012 die GCIS verlaat, slegs ʼn jaar nadat hy aangestel is om Themba Maseko te vervang.

Williams se ampstermyn is gekenmerk deur posvlakverlagings en konflik met die voormalige minister van kommunikasie, Faith Muthambi nadat laasgenoemde in 2014 aangestel is. Muthambi het na bewering alle kommunikasie van die regering deur haar kantoor gekanaliseer en Williams as waarnemende uitvoerende hoof verwyder. ʼn Junior beampte, Donald Liphoko, is daarna as hoof van die GCIS aangewys.

Manyi was in daardie stadium Muthambi se raadgewer ná hy weg is by die GCIS.

Muthambi het ook ʼn rampspoedige tydperk by die departement van kommunikasie beleef en dit het oorgespoel na die SAUK, waar die voormalige omstrede uitvoerende bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng, die openbare uitsaaier byna in die grond in bestuur het. ʼn Ondersoek deur die openbare beskermer het bevind dat Motsoeneng self binne een jaar sy salaris van R1,5 miljoen na R2,4 miljoen verhoog het. Hy het van senior personeellede ontslae geraak en ʼn wanvoorstelling gegee van sy kwalifikasies. Motsoeneng het deurgaans Muthambi se ondersteuning gehad by die SAUK.

Oudpresident Jacob Zuma het Muthambi daarna met Ayanda Dlodlo vervang, en hy het Williams teruggebring as hoof van die GCIS.

Maroela Media het vroeër berig Maseko het getuienis gegee oor die onreëlmatige invloed wat die Gupta-familie oor Zuma gehad het en dat ministers en direkteurs-generaal na die familie se huis in Saxonwold ontbied is en verskeie opdragte gegee is.

Die kommissie het ook gehoor hoe Zuma ʼn minister aangesê het om seker te maak dat Maseko die GCIS moet verlaat, nadat hy geweier het om te voldoen aan opdragte deur die Gupta-familie. Hy is in Januarie 2011 afgedank en vervang deur Manyi.

Williams sal getuig oor haar ampstermyn as die hoof van GCIS ná Manyi die departement verlaat het en nadat sy weer deur Dlodlo aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

petro ·

NOG GELD WAT REGERING MORS!! DAAR GAAN NET MOOI NIKS GEBEUR MET DIE DEELNEMERS AAN DIE KAPINGS POGING NIE!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.