Gebarste band lei glo tot busongeluk

Die bus het op sy sy te lande gekom langs die N1 suid van Mookgophong. Foto: Verskaf

Die Padverkeerbestuurkorporasie (RTMC) het ondersoekers na Limpopo gestuur om te help in die ondersoek na Maandagoggend se busongeluk waarin 11 mense gesterf het en meer as 30 beseer is.

Die bestuurder van die bus, wat met meer as 30 passasiers van Zambië na Gauteng onderweg was, het omstreeks 06:30 op die N1 suid vanMookgophong beheer oor die voertuig verloor, vermoedelik nadat ʼn band gebars het.

Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC, sê die presiese oorsaak van die ongeluk sal eers tydens die ondersoek vasgestel word.

Twee passasiers is ernstig beseer en die res, onder wie die bestuurder, het ligte beserings opgedoen. Luidens aanvanklike berigte was meer as 50 mense aan boord en het 12 hul lewe verloor. Dié dodetal en aantal beseerdes is intussen aangepas.

Zwane sê vanoggend se ongeluk volg kort ná twee gru-ongelukke die afgelope maand in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. In KZN is vyf mense dood toe hul bus onderweg van Johannesburg na Empangeni naby Melmoth omgeslaan het. Twaalf mense is ernstig beseer en 15 het geringe beserings opgedoen.

In die Wes-Kaapse ongeluk het 10 mense omgekom toe hul bus in die vroeë oggendure buite Beaufort-Wes omgeslaan het. Tien passasiers is dood en 30 beseer.

Die RTMC sê Maandagoggend se ongeluk is reeds die sewende wat hy vanjaar ondersoek. “Busse dra sowat 1% by tot die totale getal dodelike ongelukke met alle vorme van vervoer in Suid-Afrika,” sê Zwane. “Verlede jaar se 161 dodelike busongelukke was ʼn geringe afname vergeleke met 2016 se 202.”

Hy sê meer moet egter gedoen word om die busongelukke in Suid-Afrika te bestry, “want een ongeluk eis meer lewens vergeleke met ander vorme van padvervoer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Oosie ·

Daar gaan nie een oggend verby waar ek tussen Pretoria en Johannesburg op die snelweg ry teen 120km sonder dat die busse (met sleepwaens) my nie verbygaan nie. Eergister het een van hulle se sleepwa heen en weer geswaai en ek kan net dink hoe warm die bande geword het. Ek wonder wat beteken die ‘100’ teken op die agterkant van die bus…?

Sarel ·

En dis onder andere waarheen ons brandstofheffings gaan.
Padongelukkefonds, hospitaaldienste, paramedici, brandweer . . . .

Koos de Meyer. ·

Nou gaan die padfons volgens die nuus geld gee vir repatriasie van die lyke en ook geld vir die families van die afgestorwenes. Ons geld uit heffings in die brandstof.

Alta ·

Absoluut belaglik. Asof ons die regering mens nie genoeg melk met brandstof-heffings nie, wil daar nou uitbetaal word aan BUITELANDERS. Maar moenie worry nie, sodra die fondse klaar is, skuif hul maar net die brandstofprys WEER op – dis mos lekker, ‘n bodemlose put fondse wat hul kan wanbestee.

Mari ·

Ons voel jammer vir die onskuldige passasiers en bus bestuurders op die bus. Hulle het van so ver afgereis en naby hul eindbestemming gebeur die tragiese ongeluk. Die band kon ‘n “slow punser” gehad het en van die hitte gebars het. Die busse het geen balans en die wind het ook baie gewaai vanoggend. Dit kon een van jou familie gewees het…

Amanda ·

Dit is die hoeveelste ongeluk wat veroorsaak word deur gebarste band, kan die bande wat in S-A verkoop word dalk die oorsaak wees van so baie ongelukke. Is ons bande op standaard…

Joey ·

Busbestuurders moet net minder roekeloos ry. Spo

Busbestuurders moet net meer versigtig ry, minder jaag en munder kanse vat.

NH ·

Is dit die regte foto? Daar was volgens berigte nie ‘n vragmotor in die ongeluk betrokke nie.

Skyspy007 ·

Sarel, Koos de Meyer en Alta, wag dat “jy” SOOS EK GESTREMD gelaat is en nie meer kan werk AGV ongelukke deur nalatigheid en roekeloosheid van onbekwame betuurders dan wonder ek aan wie se deur gaan “jy” klop vir finansiële ondersteuning!? Ek dra self ook by net soos julle deur die hoë brandstofprys te moet betaal. Die Padongelukke Fonds is daargestel vir almal wat daagliks die paaie gebruik. Dink voor jy vingers wys asseblief.

Tania Heyns ·

Dagsê Kowa

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.