Gebarste pyp rede vir modderstorting in Simonstad

Die modderstorting in Simonstad. (Foto: Cape Medical Response/Facebook)

Die Kaapstad-metro sê is hy besig met herstelwerk aan ʼn pyp wat Saterdagoggend gebars het en ʼn modderstorting in Simonstad veroorsaak het.

Die stad se departement van vervoer was genoop om Redhillweg in Simonstad vroeg toe te maak en verkeer via Colorado-weg en Dido-vallei te herlei.

Die inkomende bane na Simonstad is reeds oopgestel vir tweerigtingverkeer, terwyl die uitgaande bane vir die herstelwerk gebruik word. Redhillweg is ook al oopgestel.

Hoewel daar vinnig opgetree is om die puin en modder in die straat uit die weg te ruim, sal herstelwerk aan die pypleiding nog ʼn geruime tyd voortduur.

“Herstelwerk aan die pyp sal eers ten volle gedoen kan word wanneer die grondstruktuur onder die beskadigde pyp opgevul en genoegsaam ondersteun word,” sê die metro.

“Die pyp is aan die voet van die berghelling geleë en die grond rondom en onder dit het weggespoel en die modderstorting veroorsaak. Dit het pogings om die pyp te herstel bemoeilik.”

Die metro gee nietemin aandag aan die noodherstelwerk wat gedoen moet word.

“Daar is spanne ontplooi om die pyp in die kortste moontlike tyd te herstel en die modderstorting wat dit tot gevolg gehad het, skoon te maak. Terwyl werk op die terrein aan die gang is, is die gedeelte van die pad wat laer as die pyplyn lê, tydelik gesluit sodat die onderskeie spanne die gebied doeltreffend kan skoon maak.”

Volgens die metro moes die water- en sanitasiespan ook tydelik die watertoevoer na gedeeltes van Simonstad, Glencairn en Glencairn Heights afsny.

Die metro het versoek dat inwoners wat deur die wateronderbreking geraak word hul krane toemaak om waterverlies en/of skade te voorkom wanneer die watertoevoer herstel word.

“Die Stad vra opreg om verskoning vir die ongerief, maar dit is noodsaaklik dat hierdie watervoorsieninginfrastruktuur herstel word om al sy verbruikers te bevoordeel.”

Die metro sal na verwagting opdaterings oor die stand van sake op sy Twitter-blad gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.