Gebede, geloof ná seuntjie agter wiel beland

Klein Daniel Kerwell vier Sondag sy tweede verjaardag. (Foto: Verskaf)

Sy grafie en emmertjie het nog langs klein Daniel Kerswell (1) gelê toe sy ma, Danelle, op sy lewelose liggaampie afgekom het.

Oomblikke tevore was Danelle, Daniel en sy boetie Aydin (4) nog in die kombuis van hul huis op Ermelo in Mpumalanga besig om ontbyt te maak. Pa Paul het die drie gegroet en was op pad om by ʼn vriend om te ry, toe Daniel skielik uit die huis verdwyn het.

“Ek het dadelik gevoel iets is fout en toe ek uithardloop, het ek gesien hy lê by die agterste wiel,” vertel Danelle.

Sy het die bewustelose seuntjie se borsie gevryf en hard in sy mond geblaas. “Asseblief, lovey, haal net asem,” het sy by die seuntjie gepleit.

Daniel het kort daarna sy bewussyn herwin en begin huil terwyl die gesin na die Mediclinic Ermelo gejaag het. Daar is hy gestabiliseer, X-strale geneem en skanderings gedoen, terwyl ʼn pypie in sy buik gesit is om vloeistof te help dreineer.

Medici het vasgestel Daniel se regtersleutelbeen en ʼn been in sy linkerheup is onder meer gebreek, en sy longe is erg beskadig. Sy gesig is blou en gekneus, maar skanderings het geen breinbesering gewys nie. Hy het ook ʼn groot sny onder maag opgedoen.

Danelle, Daniel, Aydin en Paul Kerswell. (Foto: Verskaf)

Die Kerswell-gesin het nie ʼn mediese fonds nie en Danelle sê haar pa – “ʼn engel oor hul pad” – het dadelik ʼn bedrag geld betaal om die aanvanklike mediese koste by die private hospitaal te help dek.

Maandag in die vroeë oggendure is Daniel na die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria oorgeplaas. Die gesin moes eers wag vir die uitslag van Daniel se Covid-19-toets, sodat die hospitaal hom dienooreenkomstig in ʼn saal kon plaas. Die toets was negatief en Daniel is per ambulans na die hospitaal vervoer.

Daniel op pad na die hospitaal. (Foto: Verskaf)

ʼn Span dokters het hom omstreeks 01:00 daar ingewag. “Ek het saam met hom in die ambulans gery. Nou en dan het hy wakker geword en dan het ons vir die liggies gekyk of hy het vir my ʼn storie vertel.”

Danelle het net lof vir die span by die hospitaal wat na haar jongste omsien. “Hulle het alles vir ons verduidelik.”

Die klein mannetjie is ʼn vegter en Danelle sê hy moes twee keer verdoof word voor hy eindelik geslaap het. Hy word intussen steeds onder verdowing gehou en is aan ʼn ventilator gekoppel om sy beseerde longe ʼn ruskans te gee. ʼn Dreineringspyp is in een van sy longe gesit en Daniel word so rustig as moontlik gehou.

“Ek was gister by hom en het sy lyfie gevryf en vir hom gesê ek is lief vir hom. Hy het sy skouers beweeg. Ek glo hy het my gehoor,” sê Danelle.

Daniel word tans in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria behandel. (Foto: Verskaf)

Sy en Paul mag elke dag om die beurt by Daniel gaan kuier. Sy toestand is bestendig.

“Dit is vir my verskriklik om my kind daar te los, maar ek het ʼn rustigheid in my hart dat hulle baie mooi na hom omsien.”

Danelle sê talle kundiges is betrokke by Daniel se versorging en hulle kry deurlopend terugvoer oor sy toestand.

Aydin bly intussen by ʼn nabye familievriendin op Ermelo. Bedags gaan hy skool toe, smiddae gaan laai sy oupa hom soos gewoonlik op en daarna gaan slaap hy by ʼn vriendin. Maandagaand het Paul en Danelle met ʼn video-oproep met hom gesels.

“Hy het so verskriklik gehuil. Hy wou vir sy boetie hallo sê, hy soek na hom. Wat sê ʼn mens? Hy wil hê ons moet almal huis toe kom en ons probeer hom gerusstel,” vertel Danelle terwyl sy en Paul by familie in Pretoria tuisgaan om naby Daniel te wees.

Daniel en Aydin Kerswell. (Foto: Verskaf)

Wat presies Sondag gebeur het, is onduidelik. Danelle sê Aydin het vermoedelik uit die huis geglip om vir sy pa te gaan totsiens sê en Daniel is ongesiens agterna. “Ons maak altyd die hekke toe en is altyd só versigtig.

“Dit was soos ʼn breukdeel van ʼn sekonde, maar ek het dadelik in my hart gevoel iets is fout.”

In daardie paar sekondes het Daniel agter die voertuig se wiel beland. Aydin wou aanvanklik by sy ouers weet of sy boetie dan dood is en was oorweldig deur skok.

Daniel word in hierdie stadium steeds onder verdowing gehou. (Foto: Verskaf)

“Paul … hy is nie oukei nie,” sê Danelle oor die fratsongeluk wat binne ʼn oogwink en ten spyte van hul beste pogings om dit te verhoed, gebeur het. Die gesin beoog om so gou moontlik berading te kry, ook vir die twee seuntjies.

Danelle sê hul fone hou intussen nie op lui nie en honderde mense stuur boodskappe en wense van beterskap.

“Ons waardeer elke liewe een. Daar is soveel mense wat ons ondersteun, maar ons kon nog nie vir elkeen afsonderlik dankie sê nie. Ons waardeer egter elke liewe boodskap en oproep. Dankie vir almal se gebede. God is so groot.

“Ons kan nie glo hoe die gemeenskap saamstaan om ons te help en om ons kind te help nie.”

Klein Daniel vier Sondag sy tweede verjaardag en die gesin hoop dat hy teen daardie tyd al sodanig herstel het dat hy uit die hospitaal ontslaan kan word.

“Ons wil nie hê hy moet in die hospitaal verjaar nie, maar hy moet bly solank as wat nodig is. Ek glo in my hart hy is op die regte plek en hy kry die beste sorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Sjoe, dis enige ouer se nagmerrie!!!!! En dit gebeur so vinnig. Sterkte en glo hy sal volkome herstel

Filistyn

Riller. Sterkte aan almal betrokke.

piet

Ongelukkig met ‘n neef van my gebeur. Sy broer het oor sy kind gery, morsdood (was ook by die agterwiel toe hy in trurat gery het). En net ‘n jaar of wat terug is dieselfde neef se dogter dood in ‘n motorongeluk terwyl sy ‘n student was op universiteit. ‘n Ou wat saam met my gewerk het se hele familie het Desember-maande by die kus vakansie gehou. Hy het ‘n oop bakkie bestuur met onder andere sy suster agter op die bak. Afgeval en ek dink die trailer is oor haar, ook dood. Dis tragies, weet nie hoe mens so… Lees meer »

Elinette

Mamma, JY verdien ‘n kroon op jou kop, omdat jy die regte ding gedoen het toe jy Daniel so leweloos daar sien lê het. JY HET SY LEWE GERED!!!!!!! Klein seun, wees dapper en sterk. Jou Mamma sal jou vertel hoeveel mense vir jou by Liewe Jesus gebid het en gevra het dat Hy sy engele sal stuur om oor jou te waak.

Ansie

Gebede en baie sterkte vir die gesin vir Daniel se spoedige en volkome herstel.