Gebede, hoop ná kleuter byna verdrink

Dan-Roux se ouers het hom die bynaam ‘Bees’ gegee, omdat hy so sterk soos ‘n Bees is (Foto: Verskaf)

“Hy is so sterk soos ’n bees. Ons glo hy sal deurtrek.”

Annelize en Stephen Page van Pretoria glo vas hul driejarige seuntjie, Dan-Roux, sal veg om sy lewe nadat hy die afgelope naweek byna verdrink het. Hy is tans steeds in ʼn kritieke, maar stabiele toestand in die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg.

“Ons het Sondagmiddag by vriende in Centurion potjiekos gemaak. Ek was in die huis toe ek van buite ʼn geskreeu gehoor het. Ek het deur die venster gekyk en vir Dan-Roux in die swembad gewaar. Ek het uitgehardloop …” vertel Stephen.

“Dan-Roux was vermoedelik tussen twee en drie minute onder water. Een van ons vriende het hom uit die swembad getrek en ons het vir byna vyf minute lank kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas. Daar het ʼn bietjie water uit sy mond gekom, maar daar was geen hartklop nie en hy het ook nie asemgehaal nie.”

Stephen vertel hy het Dan-Roux in die motor gelaai en na die Medipark 24-sentrum in Centurion gejaag.

“Die pad na die hospitaal het soos ’n ewigheid gevoel.”

By die mediese sentrum het dokters dadelik ingegryp en verder kunsmatige asemhaling toegepas en vir klein Dan-Roux suurstof gegee. Hulle het ’n ligte pols gevoel en hom aan asemhalingsmasjiene gekoppel.

“Hulle het ná ’n ruk vir Dan-Roux gestabiliseer en hy is per helikopter na Garden City geneem.”

Dan-Roux is vir 72 uur in ʼn kunsmatige koma geplaas terwyl dokters sy hart, longe en brein dophou om vas te stel of daar enige skade is (Foto: Verskaf)n die nuus

Dan-Roux is vir 72 uur in ʼn kunsmatige koma geplaas terwyl dokters sy hart, longe en brein dophou om vas te stel of daar enige skade is. Ná 72 uur sal die dokters besluit of hy stabiel genoeg is om hom te begin wakker maak.

Intussen is daar nie veel anders wat die Page-egpaar kan doen as om te wag nie. Hulle wag. Hulle hoop. En hulle bid.

Weens Covid-19-regulasies wat in die hospitaal geld, mag slegs een ouer op ’n slag vir Dan-Roux in die waakeenheid besoek.

“Ons harte is die heeltyd seer en alles is ʼn warboel van emosies. Die kleinste goed in die huis is soos ʼn sneller vir ons emosies en verlange na hom. Sy ouboet, SJ (4), wil ook deurentyd weet waar sy boetie is.”

Stephen sê mense van oral oor het hulle gekontak, moed ingepraat en gesê hulle bid vir Dan-Roux.

“Dit is besonders om te sien hoe mense omgee en ons ondersteun in hierdie moeilike tyd.”

Die egpaar loof ook die personeel by Medipark 24 en Garden City vir hul flinke en bekwame diens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Ag moeder hart! Sterkte aan sy ouers en grootouers, familie. Wees sterk en bly glo, by God is niks onmoontlik nie.

Diline

Bly net bid, glo en vertrou! Sterkte aan julle gesin en familie

JM

Ons bid saam vir sy volkome herstel. Vir God is alles moontlik.