Gebou in Pta-middestad brand ná dwelm-inhegtenisnemings

Die gebou wat aan die brand gesteek is.

ʼn Gebou in die Pretoriase middestad waar twee verdagtes vir dwelmbesit in hegtenis geneem is, is aan die brand gesteek.

Polisiebeamptes het Maandag inligting opgevolg oor dwelmverwante aktiwiteite in Bloedstraat in die middestad toe hulle twee verdagtes gewaar het, het kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die verdagtes het in ʼn gebou ingehardloop waar beamptes hulle vasgekeer en in hegtenis geneem het. “Daar is dwelms in die verdagtes se besit gevind en daarop beslag gelê. Die waarde van die dwelms moet nog bepaal word.”

In daardie stadium is die polisie en verdagtes deur ʼn groep mense, vermoedelik taxi-operateurs, voorgekeer en die groep het die verdagtes begin aanrand. “Die polisie kon daarin slaag om vinnig die situasie te ontlont. Die verdagtes is van die groep gered en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling.”

Daar is later berigte ontvang oor ʼn gebou wat aan die brand is. Daarna is bevestig dat dit die gebou is waar die verdagtes vroeër in hegtenis geneem is. ʼn Saak van brandstigting word ondersoek.

Karen Meyer, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste in Tshwane, het intussen gesê sy het berigte en beeldmateriaal ontvang wat wys dat polisiebeamptes betrokke is by dwelmhandel.

Sy het ook uitgevaar teen die polisie nadat beamptes glo verhoed het dat personeel van die Tshwane-nooddienste die brand blus nadat die gebou aan die brand gesteek is. Volgens Meyer bly daar glo dwelmsmouse in die gebou.

“Dit was ʼn spanningsvolle situasie, maar die polisie moet die nooddienste beskerm om hul take uit te voer.”

Volgens Meyer wys die beeldmateriaal wat sy ontvang het daarop dat polisiebeamptes glo medepligtig was om geld in te vorder en die verkoop van dwelms te vergemaklik.

“Terwyl ons enige vorm van boendoegeregtigheid veroordeel, moet die SAPD as wetstoepassingseenheid sy rol speel en nie deel van die probleem wees nie.”

Meyer het die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, uitgedaag om dringend die bewerings oor die betrokkenheid van polisiebeamptes en hul weiering om nooddienste op die toneel toe te laat om hul werk te doen, te ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

So by my Kool! Dit lyk of die SAP-ouens so ietsie op die “sideline” verdien! Dus moet die taxi-ouens moet maar die dwelms-smouse self uitsorteer??

Hanna Hoekom ·

SAPD betrokke by misdaad? Kan nie wees nie… Die mag is dan nou so mooi getransformeerd? Geloofwaardigheid voor kundigheid. Carte Blance het reeds in 2007 hierdie dwelmnes, waarby SAPD lede betrokke is, in Pta se middestad oopgevlek. Beeldmateriaal en als. Daar het egter dadels van gekom. I rest my case.

skurweberg ·

As dit ‘n manier is om enige verdere spore dood te vee, gaan ook die suksesse wat die polisie behaal, ‘n bedreiging in Suid-Afrika word. Daar is baie invloedrykes wat in hoe poste sit wat dit nie kan bekostig dat leidrade opgevolg word nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

In Krugersdorp sit die SAPD met verkykers na die taxi staanplek en kyk. Dagga word verkoop. Die SAPD lede sit die koper agterna, arresteer, kla aan, en sluit toe….en vat die dagga af en gaan gee dit terug aan die “verkoper” sodat die volgende transaksie kan plaasvind…en nog arrestasies gemaak kan word, want die SAPD lede het ‘n “kwota” om vol te maak…..Dit help darem bietjie met die bonusse en die bevordering jy weet?

Attie. ·

Net een ou geboutjie in Pretoria se eens pragtige middestad wat brand, dis mos nie nuus nie. Motorongelukke is ook nie meer nuus nie. Tussen hakkies, kan iemand my vertel waar ek ‘n lisensie vir ‘n Harley Davidson kan kry. Ek is ‘n ou man maar het nie ‘n lisensie vir ‘n motorfiets nie.

Ig ·

Die gebou is oud en lyk gehawend, geen wonder daar broei dinge daarbinne nie? Ek is seker daar is meer aan die gang? Die Polisie n Weermag moet ingaan en skoonmaak of kry iemand n kickback?

Hasie ·

Attie, bel vir Magashule, hy sal vir jou die naam van iemand kan gee.

sweis ·

Dit blyk dat die taxibestuurders misdaad begin vasvat omrede die polisie self betrokke is en soos altyd nie hulle werk doen nie.

Helien ·

Die manier hoe die goed aan gaan sal hier niks meer oor wees in die land van ons nie. Ai so jammer

JohanR ·

Wie wil nou vanself in Pretoria se middestad ingaan? Dit is ietsie, maar dit is nie ‘n stad se middestad nie. London het ‘n middestad, New York, Paris, Berlyn, Vienna het middestade. Pretoria is ‘n gemors, bewoon of besoek deur gemors! Breek dit af, en begin weer van vooraf.

George in Bloem ·

Dis inderdaad baie laat in die dag in Suid Afrika as mense wat vere voel vir wet en orde en verkeersreels die polisie se werk wil oorneem omdat die polisie te korrup is om dit self te doen. Ons is in groot moeilikheid. Wonder wat se ou Bheki hiervan? Weet hy ooit? Ek vra namens ‘n vriend wat dink hy weet nie veel…..err….hmmm….van enige iets af nie.

Annie ·

JohanR, hoop nie jy wil gou jou huis verkoop of een koop nie. Die aktekantoor sit in die middestad, transportbesogers moet middestad toe om jou transaksie te registreer. So ook as jy wil skei. Hooggeregshof is in die middestad.

Leon ·

‘n Neef van my wat in die Diamant Tak was in die Noord Kaap het altyd gesê ” Die grootste skelms kry jy in die Polisie”. Hy het meer Polisie met diamante betrap as die publiek.

Heksie ·

Karen Meyer, ek dink jy moet maar jou neus hou by dit wat jy ken en verstaan …

Sinies ·

In Hammanskraal is die polisie ook goed geintegreer met die dwelmhandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.