Geboue brand in Houtbaai ná ‘stroper’ vermis raak

‘n Gebou in ligte laaie. Foto: Via Twitter

ʼn Groep ontstoke inwoners het Sondag in Houtbaai in Kaapstad opgeruk en minstens twee geboue, waaronder ʼn pakkamer van die departement van landbou, bosbou en visserye, aan die brand gesteek.

Die polisie se eenheid vir openbare orde moes onder meer van rubberkoeëls gebruik maak om die nagenoeg 300 betogers in bedwang te bring.

ʼn Gemeenskapslid het op die toneel aan ʼn verslaggewer van eNCA gesê die optrede volg nadat die polisie glo op drie stropers se boot toegeslaan het, waarna een van die mans vermis geraak het. Die gemeenskap bespiegel hy is tydens die voorval geskiet, waarna hy in die water geval het. Die ander twee mans is in hegtenis geneem.

Lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het Maandag aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van stropery ná ʼn polisieoperasie Vrydagaand in die see tussen Hangberg en Chapmanspiek.

“Twee verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op ʼn vissersboot waarop kreef en visnette gevind is,” het Traut gesê.

Traut het gesê intussen word ʼn vermistepersoon-saak ondersoek wat deur ʼn familielid aanhangig gemaak is en ʼn soektog na die man is van stapel gestuur.

“Twee rubberbote en een reddingshond fynkam tans die gebied. Sy familie is ingelig oor die prosedures wat plaasvind terwyl daar vir ʼn vermiste persoon gesoek word.”

Vier betogers is Sondag tydens die onluste in hegtenis geneem vir openbare geweld en brandstigting. Dié verdagtes moet Dinsdag in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Die vermiste man se twee vriende het Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van kreef. Hulle is albei op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en moet weer op 20 September in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerhardb ·

Slegs 300 Betogers hou die hele dorp as gyselaars???????????
Soek die skelms nou wette wat hulle krimenele dade beskerm?????

Lizzy ·

So, die polisie doen hul werk om stropers, let wel stropers = diewe = kriminele, te vang en julle gaan brand geboue af! Julle is rerig n baie spesiale soort spesie en on te dink julle plant voort!

Ben ·

“Die gemeenskap bespiegel dat hy tydens die vooval geskiet is” . 1) Van waneer af word mense geskiet as hulle nog nie as skuldig bewys is in ‘n hof nie en geen gevaar inhou vir die beampte nie? So die beampte in hierdie geval is sommer regter en laksman op sy eie. 2) Wat se die mans wat inhegtenis geneem is? Is dit nou bespiegel of is dit feit dat hy geskiet is. Indien hy dood geskiet is, is dit ‘n klag van moord teen die beampte. Nou wonder ons hoekom geboue in hierdie geval afgebrand word. Hier is te veel “trigger happy” mense in die land. Alle probleme word met “Violence” opgelos. Daar is ander opsies, dit geld ook vir die afbrand van ander mense se eindom. Wat gaan gebeur as daar ‘n oor en weer afgebrandery begin? Wat gaan oorbly? Almal gaan verloorders wees.

marous ·

Die hond wat jy terg byt jou dan skop jy die “nurse ” in die hospitaal ?

tamboti ·

Net soos VSA met die Vietnam oorlog, moet die regering maar erken hulle verloor die stryd teen stroping! Dit is in elk geval die regering se onnosel besluite om wettige bedrywe so te verminder dat alles onwettig geskied. Los die spul dat hulle almal soos hulle wil aangaan, die bronne is tog besig om tot niet te gaan tenspyte van al die maatreels en geld wat daaraan bestee word. Dit veroorsaak dat die misdaad groei en nie minder word nie.
As al die perlemoen eers gestroop is, dan sal die stropers moet begin boer met perlemoen en so self die bron red / of nie.
Ek het in elk geval nog nooit perlemoen gekoop of ge-eet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.